SMN: Boelies wurm hulle orals in
SMN: Boelies wurm hulle orals in

SMN: Boelies wurm hulle orals in

Sanet de Waal
Ek sê altyd vir my kinders hulle moet die beste van ’n slegte saak maak. Dit help nie om in sak en as te sit en daaroor te tob nie. Partykeer werk dit, maar ek weet as dinge nie glad verloop nie, dan verloor jy bietjie stoom. Ek is ook iemand wat, as dinge skeef loop, ’n rukkie vat om oor die ergste te kom.

Terwyl ek die anderdag na ons kat kyk, dink ek die dierewêreld is net so onregverdig. Al probeer hulle om nie in iemand anders te slaai of gebied te krap nie, werk dit nie altyd so uit nie.

Ons kat, die dierbare Hazel, is nou ’n goeie voorbeeld van iemand wat haarself probeer verbeter en vir haarself begin opstaan het. Ek het laas geskryf oor die twee katte wat haar geterroriseer het. Wel, ek kan met trots sê sy het vrou-alleen die boelies lelik les laat opsê. Jy kon sommer sien sy het nuwe moed en krag vir die lewe begin kry. Sy was weer sorgeloos gewees. Ek dink dit is omdat sy nie meer om elke hoek en draai gevaar verwag het nie. Sy het ook nie meer onder die bed weggekruip nie.

Dit het vir ’n rukkie goed gegaan. Sy kon op haar erf loop en doen net wat sy wou. Tot een dag. Ek het opgemerk haar hele houding verander. Sy was altyd op haar hoede en sy was nog minder liefdevol as altyd. Sy het ook nie meer buitekant toe gegaan nie. En as sy uitgegaan het, het sy eers by die skuifdeur gestop en letterlik die hele tuin gescan en dan poot vir poot by die deur uitgegaan (amper soos iemand wat in ’n koue swembad klim). Tot ek begin agterkom het daar is ’n nuwe kat in die omgewing, ’n pikswart kat.

Dit lyk my hy dink hy is in beheer van al die ander katte (en daar is klomp) van die omgewing. Hy is besig om ’n skrikbewind te voer. Miskien is hy die Godfather van die katwêreld. Wie sal nou weet. Jy hoor net elke aand hoe katte baklei en die onaardigste geluide maak. Ek hoop die ander katte wen of as hulle aan die verloor kant is, dat hulle ten minste nie seer kry nie.

Hy het al op meer as een geleentheid by ons woonstel probeer inkom. Lyk my hy wil vir almal wys wie is baas van dié plaas. Ek het nuus vir hom, hy sit miskien ore vir die ander katte aan maar ek wag vir hom. Ek dink ook nie ek is die enigste eienaar wat gaaivol is nie, almal is “dejosie” in vir dié kat.

Dit laat my dink aan ons lewe ook. Daar moet altyd ’n persoon wees wat “leiding” wil neem. Maar die leiding is nie noodwendig goeie leiding nie. Partykeer stoomroller die persoon oor almal en die res is net te bang om iets te sê.

Wel, ek wag nou vir die dag wat mnr. Swartkat besluit om iemand anders te gaan terroriseer. As dit so aanhou sal ek noodgedwonge ’n hond moet kry om van al die ongewenste katte ontslae te raak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!