SMN vir Vrydag: Verlaag jou standaarde
SMN vir Vrydag: Verlaag jou standaarde

SMN vir Vrydag: Verlaag jou standaarde

Karin Eloff
Om die waarheid te sê, drop dit sommer heeltemal. Gooi dit net weg.

Want standaarde en verwagtinge veroorsaak net ’n geween en ’n gekners van tande in mens se lewe.

Mense sonder standaarde is gelukkige mense.

As jy by ’n restaurant instap, moet in die eerste plek nie verwag daar’s plek vir jou en jou geselskap nie, en moet ook nie verwag enigiemand gaan jou te hulp snel om sitplek te kry nie. As jy dan wel ’n plekkie kry, is dit mos nou ’n aangename verrassing. Moet ook nie vriendelike diens of lekker, bekostigbare kos verwag nie. Of dat die kelner nié in jou kos gaan spoeg nie, of dat jou kaartbetaling gaan deurgaan nie. As die teendeel wél gebeur, dink net hoe gelukkig gaan jy voel!

Van kaarte gepraat: Moenie verwag as jy met jou vol trollie en vol blaas voor in die tou by die check out in die supermark kom, dat jou kaart gaan werk nie. Nee man, verwag ’n chip error of ’n declined of ’n no funds available of iets. Dink net met watter wip in jou stap jy uit daai winkel gaan huppel as alles wél werk!

As jy met ’n hoë koors en vyftig tissues in die dokter se wagkamer wag om hom te sien dat jy tog net blerrie antibiotika kan kry om als te fix, moenie verwag om minder as so 45 minute te sit en snuif terwyl klein kindertjies vir jou staar en ander mense versigtig van jou af wegskuif, voor die dokter jou kan sien nie. Maar dink net hoe absoluut in die wolke jy gaan wees as jy net 20 minute moes wag!

Ons arme bure in Suid-Afrika is verál gedwing om hul standaarde heeltemal te verlaag. Ek dink die meeste van hulle is eenvoudig oorstelp as hulle ná ’n lang dag se werk en ’n nóg langer dag in die verkeer by die huis instap, die ligkakelaar druk en daar’s lig! Die beste is natuurlik as jy ’n Kapenaar is en jy draai ’n kraan oop – en daar’s water!

Kom ons kyk bietjie hoe ons hierdie speletjie op verhoudings kan toepas. As jy meer as drie jaar getroud is, moenie verwag jou partner gaan steeds lyk soos hy of sy gelyk het toe julle getrou het nie.

As daar geen muffin tops of hangkas-borskaste in die prentjie is nie, is jy werklik geseënd! Moet ook nie verwag jou partner gaan jou ná sewe nog sonder ’n panty by die huis inwag of jou vashou ná seks nie. Om die waarheid te sê, moenie eers dink jy gaan ná drie jaar nog seks kry nie. Maar ás dit gebeur, dink net watter meevallertjie dít nou nie sal wees nie!

En as jy single is, moet jy jou standaarde maar sommer net heeltemal wegwoeps. Wees net bly as die vlerksleper ten minste ’n toaster en skoene het, of selfs ’n kar of ’n werk. En as die ou nié ’n narcissis is nie, kan jy maar weet dit gaan reën, én die kêrel is ’n keeper.

Daar’s ook ander maniere om jou verwagtinge te verlaag: Moenie verwag die vyf robotte tussen jou en die hospitaal se ongevalle-afdeling sal groen wees wanneer jy jouself soontoe haas ná ’n knopiespinnekop jou gebyt het nie. Moenie verwag jou kinders gaan jou nié in die openbaar embarrass nie, of dat hulle selfs ooit van jou gaan hou nie. Moenie verwag jou eks gaan onderhoud betaal nie. Moenie verwag jou kar se diens gaan nie die bank breek nie. Moenie verwag jou huis is nog daar wanneer jy ná werk by die huis kom nie. Moenie verwag daar’s toiletpapier wanneer jou maag nie wil saamwerk nie, moenie verwag jy gaan môre nog werk hê nie, moenie verwag dit gaan ooit weer reën nie.

Natuurlik kan geen mens so leef sonder om heeltemal sy of haar eie polse af te kou en in ’n totale depressie te verval nie. Niemand kan so leef nie, en dis totaal onregverdig om van iemand te verwag om so te leef, moet nou nie simpel wees nie.

Of leef ons klaar so?

Dan behoort ons ’n werklik vrolike nasie te wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer