Smokkelhandel in tabak: SAID soek R200 m. terug
Smokkelhandel in tabak: SAID soek R200 m. terug

Smokkelhandel in tabak: SAID soek R200 m. terug

Francois Williams – Drie strafsake is tans in die hof oor sigaret- en tabaksmokkelary, en een siviele saak oor sowat R200 miljoen se verlore inkomste vir die staatskas weens onwettige tabakhandel, het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) Dinsdag aan die parlement gesê.

Die SAID het aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê hy doen tans periodieke besoeke aan tabak- en sigaretvervaardigers en doeanebeamptes is by ’n aantal sigaretfabrieke gestasioneer.

Hulle monitor hoeveel sigarette vervaardig en hoeveel versprei word.

In die ses maande tot Oktober is die volgende suksesse behaal:

· 306 voorvalle waar beslag gelê is op 44,9 miljoen sigarette van R40 miljoen;

· 23 gevalle waar beslag gelê is op 11,74 ton tabak ter waarde van R77 000;

· In die Wes-Kaap is ’n vraghouer vol sigarette van Dubai ondersoek en daar is bevind die invoerdokumente is vervals. Dit was 1 000 pakke Royal-sigarette;

· In Gauteng is 25 pakke Caspian-sigarette gevind wat sonder die Suid-Afrikaanse diamantstempel versprei is;

· In Noordwes is 281 pakke sigarette gekry wat in ’n 40-voet-vraghouer versteek is; en

· Daar is tans 165 ton onverwerkte tabak wat in die staat se doeanepakhuis geberg word hangende die afhandeling van beslagleggingsake.

Syfers van die SAID wys Suid-Afrika het in die ses maande tot einde September sowat 1 887 ton sigarette wettig ingevoer. Die meeste hiervan (95%) kom van Switserland, gevolg deur 2% van Tanzanië. Klein hoeveelhede word wettig van die Verenigde Arabiese Emirate, Serwië, Mosambiek, Zimbabwe, Zambië, die Filippyne en Litaue ingevoer.

Suid-Afrika het self 19 geregistreerde en gelisensieerde tabak- en sigaretvervaardigers.

Daar is 180 in- en uitvoerders van tabak, sigarette en sigaretprodukte.

90% van die vervaardigers is in Gauteng, met een tabakverwerker en sigaretvervaardiger in die Oos-Kaap, een in KwaZulu-Natal, een tabakverwerker in Polokwane en twee tabakvervaardigers in die Wes-Kaap.

Suid-Afrika het in die halfjaar tot einde September 3 780 ton sigarette uitgevoer, meestal na ander lande in Afrika soos Mali, Namibië, Lesotho, Angola, Zimbabwe, Botswana en Mosambiek. Klein hoeveelhede word ook na Nederland, Viëtnam en China uitgevoer.

Elphas Buthelezi, IVP-lid van die komitee, het gewaarsku dat die goedkoop smokkelsigarette jong mense aanmoedig om te rook, want by die spaza-winkel op sy dorp het hy by die winkeleienaar verneem die wettige Stuyvesant-sigarette word vir R2,60 per sigaret verkoop, terwyl die smokkelsigarette teen 60c per sigaret verkoop word. Volgens die winkeleienaar verkoop hy eerder die smokkelsigarette omdat hy meer geld daarmee maak.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê die beslaglegging op 45 miljoen sigarette is net die begin in die lig van die sowat 30 miljard sigarette per jaar wat in Suid-Afrika verkoop word.

Intikhab Shaik, hoof van digitale tegnologie by die SAID, het gesê die een enkele saak oor R200 miljoen se verlore inkomste vir die staatskas sloer al sowat sewe jaar.

Shaik sê die neiging is dat Suid-Afrika al hoe minder sigarette invoer en meer sigarette uitvoer, wat volgens hom ’n goeie ding is.

Die totale invoer van sigarette het in die halfjaar tot einde September met net 2,24% gegroei vergeleke met ’n jaar gelede, maar die invoer van tabak en onverwerkte produkte waarmee sigarette vervaardig word, het wel gekrimp. Die uitvoer van sigarette het met 66% gegroei, van 3,6 miljard sigarette tot 6 miljard in dieselfde tydperk.

Hy meen die aksyns op sigarette is nie soseer ’n inkomstebron vir die SAID nie, maar is ’n vorm van gesondheidsbelasting om gedrag te verander. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!