Snoek se boek breek my leesdroogte
Snoek se boek breek my leesdroogte

Snoek se boek breek my leesdroogte

[email protected]
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg

Covid-19 het 2020 en ons lewens op sy kop gedraai.

Die ergste impak wat die pandemie op my gehad het (ek kla nou regtig eerstewêrelds met die witbrood onder die arm), is dat ek nie meer ’n storieboek kon lees nie. Ek was ’n boekwurm wat boeke soos soetkoek opgeëet het.

Tydens die inperking kon ek net nuus verslind, maar ek kon nie meer met ’n tydskrif of ’n boek rustig en ontspanne lees nie. Eintlik kon ek glad nie ontspan nie. Ons almal was sedert Maart op ’n stywe snaar getrek.

Ek het op 4 Januarie op ’n lieflike reëndag by ’n lodge naby Etosha die laaste keer ’n storieboek gelees. Daarna het ’n leesdroogte so dor soos 2020 oor my uitgebreek.

Ná die verkiesing het ek ’n blaaskans gehad en ek het besluit om een boek te lees, maar dit moes ’n besonderse boek wees wat my enduit sou boei.

My blaaskans ontaard toe in ’n besige tyd met ‘n siek Jappie-hond veearts toe jaag, gordyne was en my ma se 80ste verjaardag met haar kleindogter wat haar kom verras het.

Uiteindelik raak ek teen die Woensdag van die tweede week rustiger. Toe is dit ek en Wille Willemien en haar manewales in Anoeschka von Meck se Die Heelal op my tong.

Anoeschka, ’n oudjoernalis van Republikein, en dogter van die legendariese en flambojante Vloog Theron, noem haar boek bisarro-fiksie. Sy dra die boek aan haar pa op wat sy ’n dollarboer noem.

Vloog kom nogal van my tuisdorp Okahandja af en ek wonder of hy en my pa in hul jong dae saam in die Reit Klub gesing het.

Willemien se storie strek vanaf Okahandja na Suid-Afrika, Amerika toe agter haar pa aan, ’n kliniek vir eetsteurnisse in Spanje en na Sri Lanka waar sy op ’n dwelmdieet is. Willemien se lewe is soos wipplank ry – op en af - net soos haar gewig en haar vete met vet wees. Sy is dik vir dik wees. Watter vrou – maer of vet - het nie ’n probleem met haar gewig nie?

“As jy in ’n rehab is waar die eetversteurdes – maeres en vettes – saam is, kan dit interessant raak. Die maeres is oorwegend selfbehep. Hulle kon tot mikroskopiese detail praat in hoeveel blokkies jy ’n cracker kan breek om dit oor verskeie maaltye te vesprei.”

In die boek is daar ontvoerings, skietgevegte, dae lange psigedeliese partytjies en ’n seksles in Hongkong se hawe, maar ook ‘n spirituele soektog.

Ek kan en wil die boek nie neersit nie en kan dit nie happie vir happie lees nie. Ek wil dit vraatsig verslind. Vir my bring die boek ’n emosionele wipwaentjierit. By tye skaterlag ek lelik en kliphard vir die komieklike karakters (veral vir Kandy en Clifford O’Kill) en andersins wou ek in trane uitbars. Elke sin is asemrowend mooi geskryf.

Die Donderdagaand word my lees deur slangdrama onderbreek. Jappie word in my tuin deur ’n sebraslang in sy oë gespoeg. My buurman kom weer soos die vorige sebraslang-drama uit ’n Mad Max-toneel met ’n sweisbril aangestap en vang die slang met ’n braaitang. Ons was die hond se oë in opdrag van die veearts met water en melk uit.

Vrydagoggend moet ek weer met die hond veearts toe en ek daarna tandarts toe. Uiteindelik kan ek weer Vrydagaand die boek verorber en Saterdagmiddag is die boek kafgedraf.

Die aweregse sprokiesbiografie het my oorrompel. Ek huiwer nie in my nuuskierigheid om ’n WhatsApp aan Anoeschka te stuur en te vra wat is feite en wat is fiksie nie. Sy sê as ek bly wonder wat eg is en wat nie, het sy haar goed van haar taak gekwyt.

Die Heelal op my tong is ’n briljante, bisarre boek wat beslis met dié Covid-Kersfees onder elke Krismisboom moet beland. Ná die lekker reën gaan ons darem nie ’n droë feestyd binne nie.

Ek jubel en juig dankbaar oor die reën en dankie ook vir Snoek vir jou mooi boek wat my leesdroogte gebreek het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!