'Sny Eskom-personeel, dan sal kragtariewe daal'
'Sny Eskom-personeel, dan sal kragtariewe daal'

'Sny Eskom-personeel, dan sal kragtariewe daal'

'n Konsultant glo 'n deeglike skoonmaak moet behels dat die kragreus se personeel met sowat 65% gesny word.
Francois Williams



Sny Eskom se personeel met 30 000 en verlaag sy elektrisiteitspryse tot 40c per kWh.

Dít is die drastiese regrukplan wat die energiekommentator Ted Blom voorstel vir die staat se sukkelende kragmaatskappy.

Blom, konsultant van Mining & Energy Consultants wat voorheen al werk vir Eskom gedoen het, het sy interpretasie van die afgelope week se bekendmaking van Eskom se jaarresultate gegee.

Blom meen 'n groot geleentheid is misgeloop om die verrotting by Eskom uit te roei. Volgens hom is die vraag-en-antwoordsessie met joernaliste ná die aanbieding van Eskom se jaarresultate kortgeknip sodat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, meer tyd kon hê om kommentators se koppe te was wat nie beïndruk was met die Eskom-direksie se gebrek aan aksie oor die afgelope 18 maande sedert hul aanstelling nie.

Volgens Blom kom Eskom se eie voorgestelde regrukplan neer op vier punte:

1. Verhoog tariewe deur vorige Nersa-besluite in die hof te beveg, met 'n mikpunt om kragtariewe met soveel as 80% verhoog te kry;

2. Sny koste (maar dit word nie gespesifiseer nie);

3. Herstruktureer of ontbondel (hieroor is ook niks verder gesê of gedoen nie); en

4. Toekomstige aansoeke by die regering vir nog reddingsboeie.

Blom glo 'n deeglike skoonmaak van Eskom moet behels dat sy personeel met sowat 65% gesny word soos wat die Wêreldbank in 'n veelbesproke verslag aanbeveel het. Dit sal Eskom se arbeidsmag van sowat 46 000 tot sowat 16 000 verminder.

Dit kan Eskom op 'n ratser en meer vaartbelynde grondslag plaas, soveel so dat hy elektrisiteitstariewe kan verlaag van sowat R1 per kWh tot 40c per kWh – die vlak waarop dit was voordat korrupsie en staatskaping aan Eskom weggekalwe het.

So 'n verlaging sou massiewe werkskepping en nuwe belegging in Suid-Afrika skep. Ou myne en smelters sal weer kan oopmaak, en van die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan – om elektrisiteit bekostigbaarder te maak en waarde toe te voeg tot Suid-Afrikaanse hulpbronne – sal gerealiseer kan word.

Maar pleks daarvan om Eskom se sakemodel reg te maak, word volgens Blom net so effe losweg getorring aan Eskom se struktuur. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer