So kosbaar soos bloed
Borsmelk vir veral vroeggebore babas sal voorts deur dokters voorgeskryf kan word. Dit kan verhoed dat hul derms septies raak – iets wat dikwels met kunsmatige voeding gepaard gaan.
Danksy die werk van twee pioniers sal Namibië binnekort 'n eie borsmelkbank hê wat in die nood van honderde vroeggebore babas moet voorsien en etlike nuwe lewens kan red.
Die Windhoekse pediater prof. Clarissa Pieper en suster Birgit Mayer werk al die afgelope twee jaar daaraan om 'n plaaslike borsmelkbank op die been te bring. Sou alles vlot loop met die installering van die masjiene, kan die bank reeds oor 'n maand in werking wees.
Volgens Pieper en Mayer is Namibië een van die min lande wat nog nie 'n borsmelkbank het nie. Die beoogde borsmelkbank, wat by Medi-Clinic in Windhoek geleë sal wees, is 'n niewinsgewende organisasie.
Pieper en Mayer beoog om mettertyd ook satellietbanke elders in die land te hê.
“In Amerika en Suid-Afrika is daar talle banke – in sommige gevalle het elke dorp een. In Frankryk is een van die grootste borsmelkbanke 'n vyfverdiepinggebou,” sê Pieper.
GROOT BEHOEFTE
Pieper sê die doel van die bank is dat die melk hoofsaaklik vir premature babas is wat minder as 1,5 kg weeg.
“Dit kan ook gaan na babas wie se ma siek is, nie enige borsmelk kan produseer nie, nie genoeg van haar eie melk het nie, MIV-positief is of selfs ma's wat meerlinge het.
“Borsmelk is net so kosbaar soos bloed – dit kan nie werklik kunsmatig vervaardig word nie. Ons is al baie lank bewus van 'n groot behoefte wat aan borsmelk bestaan,” sê Pieper.
“Net om mense 'n idee te gee van die behoefte – aanvanklik was daar in die Windhoek Sentrale Hospitaal sowat 14 vroeggebore babas per maand toegelaat.
“Op die oomblik word tot 150 premature babas maandeliks opgeneem. Hulle kom van oral oor die land - Katima Mulilo, Lüderitz, Gobabis, of Karibib - en is dikwels klein en siek.”
“Met vroeggebore babas beland 'n mens dikwels in die situasie waar hulle moet kos kry, maar die ma nie genoeg melk het nie. Dan moet hulle kunsmatige melk kry en in die geval is die voorkoms van infeksie, en veral derminfeksie, baie hoog.
“As jy dié babas borsmelk kan gee – met al die voordele wat dit inhou – is die kind se kans baie kleiner om te sterf. Borsmelk bevat teenliggame wat vroeggebore babas teen byvoorbeeld diarree, bors- en oorinfeksies asook skade aan die dermkanaal beskerm, wat dikwels met kunsmatige voeding gepaard gaan.”
Pieper sê borsmelk is steeds baie gesonder as formulemelk vir babas, al word dit eers gepasteuriseer.
“In Amerika gebruik hulle borsmelk selfs vir volwassenes in intensiewesorgeenhede wie se derms heeltemal septies geraak het. Dikwels neem dit net een tot twee dae se borsmelk, dan is die derm genees,” sê Pieper.
Volgens 'n artikel in die Australiese nuuswebwerf MailOnline word borsmelk in dié land op die swartmark teen sowat $500 (N$5 000) per liter verkoop. In dié ry vir wat ook “wit goud” genoem word, staan glo onder meer kankerpasiënte en atlete.
SKENK MELK
Pieper sê die plaaslike borsmelkbank maak staat op borsvoedende moeders wat ekstra melk kan uitpomp.
“As hulle borsmelk in die vrieskas het wat binnekort gaan verval en hulle het dit nie meer nodig nie, kan hulle met ons in kontak kom,” sê sy. Volgens haar kan hulle dit selfs in gewone, seëlbare toebroodjiesakkies vries.
Pieper sê daar word egter eers sekere bloedtoetse gedoen voordat 'n ma melk kan skenk. Dit sluit in 'n toets vir MIV, Hepatitis-B en die sitomegalovirus (CMV).
Die sitomegalovirus kom baie algemeen voor en kan deur liggaamlike vloeistowwe soos onder meer borsmelk oorgedra word.
Na raming is tot die helfte van volwassenes bo die ouderdom van 40 jaar daarmee besmet, maar dit veroorsaak meestal net gesondheidsprobleme onder mense met verswakte immuniteitstelsels of babas wat dit voor of kort ná geboorte opdoen.
Onder babas kan dit onder meer tot 'n lae geboortegewig, geelsug, 'n vergrote en verswakte lewer, onnatuurlike klein kop en longontsteking lei, terwyl dit onder volwassenes onder meer die oë, longe, lewer, slukderm, maag en brein kan affekteer.
“Alle virusse gaan wel tydens pasteurisasie dood, maar ons wil net heeltemal seker maak die skenker is gesond.”
PROSES
“Nadat ons melk ontvang het, word dit gepasteuriseer om seker te maak dit is heeltemal skoon en alle virusse en bakterieë is dood,” sê Pieper.
“Tydens pasteurisasie verminder die vitamieninhoud van die melk in 'n mate, die vette se gehalte is ook effens laer en die weerstandstof se gehalte daal ook effens. Dit is nie meer só 'n supermelk soos wanneer dit vars van die bors kom nie, maar dit is steeds baie doeltreffend.
“Ná pasteurisasie word dit gevries en dan uitgegee soos die behoefte bestaan. Dokters sal voorts die melk vir babas kan voorskryf.
“Dit sal werk soos met bloed wanneer dit geskenk word. Alles word gedokumenteer – van wie die melk skenk tot watter baba dit drink.
SKENK SÓ
“Daar is groot onkoste met die begin van 'n borsmelkbank betrokke.
“ErongoMed het vir ons die pasteuriseerder en outoklaaf geskenk. Hulle help ook met ander onkoste tot ons op ons eie bene kan staan. Daarna sal mediese fondse daarvoor moet betaal. As die bank aan die gang is, sal dit homself betaal.”
Pieper en Mayer sê hulle het reeds goeie reaksie van ma's en die publiek ontvang.
“Mense wat belangstel om borsmelk of geld te skenk, is welkom. Ons moet onder meer bottels en skoonmaakmiddels koop, personeel betaal en brandstofkoste dek.”
Belangstellendes kan vir Mayer ná 13:00 by 081 129 2641 skakel of vir Naomi Lottering tydens kantoorure by 061 224 564 bel.
Die borsmelkbank se bankbesonderhede is: Namibian Breastmilk Bank, Bank Windhoek, Maerua-inkoopsentrum, rekeningnommer 800 653 1861, takkode 483 872.
WONDERKUUR
Die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) se dit is kritiek belangrik hoe ons kinders voed.
Volgens die kinderfonds is die kritieke tydperk vir goeie voeding in kinders se lewe 1 000 dae. Dit begin met 'n vrou se swangerskap tot die kind se tweede verjaardag.
Tydens dié duisend dae is borsmelk 'n noodsaaklike voedsel vir gesondheid en ontwikkeling. Dit bied in die eerste ses maande van babas se lewe al die vitamiene, minerale, ensieme en teenliggame wat hulle nodig het om te groei en te floreer. Dit is 'n deurslaggewende faktor vir hul gesondheid en hulle benodig dit, volgens die kinderfonds, tot en met tweejarige ouderdom en selfs daarna.
Verder word aanbeveel dat babas tot en met ses maande uitsluitlik geborsvoed word, wat beteken hulle kry geen byvoeding nie, selfs nie water nie.
Borsmelk is ook veilig – altyd die regte temperatuur, dit hoef nie voorberei te word nie en is selfs beskikbaar in plekke waar daar niks anders as swak sanitasiegeriewe en onsuiwer drinkwater is nie.
Die kinderfonds sê verder dit bied steun vir gesonde breinontwikkeling, beter akademiese prestasie en verminder terselfdertyd die risiko vir vetsug en ander kroniese siektes.
“Borsvoeding is die naaste wat ons aan 'n wonderkuur vir die oorlewing van kinders het. In ontwikkelende lande het dit die potensiaal om meer as 800 000 sterftes onder kinders onder die ouderdom van vyf jaar te voorkom, asook 20 000 jaarlikse sterftes onder vroue,” skryf Unicef in 'n artikel op sy webwerf.
“Babas wat uitsluitlik geborsvoed word, is minder geneig om diarree en longontsteking te kry en tot 14 keer meer geneig om te oorleef as dié wat nie geborsvoed word nie.”
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) beveel aan dat kinders teen die ouderdom van ses maande begin vaste kos eet om seker te maak hulle neem genoeg voedingstowwe in om hul ontwikkelende liggame en breine te steun.
“Die kos wat tussen die ouderdom van ses maande en twee jaar ingeneem word, moet as komplementêr beskou word omdat dit 'n borsmelkgebaseerde dieet aanvul.
“Navorsing toon 'n dieet wat uit minstens vier voedselgroepe bestaan, word geassosieer met beter groei onder jong kinders. Die bekendstelling aan gesonde en 'n verskeidenheid van kossoorte op 'n jong ouderdom, help om kosvoorkeure en gesonde eetgewoontes te vestig.”
PLAASLIK
Volgens die WHO se globale borsvoedingstelkaart wat onlangs opgedateer is, vaar Namibië nie baie goed wat betref eksklusiewe borsvoeding van babas onder die ouderdom van ses maande nie.
Namibië val ook nie onder die top-23-lande waar dié syfer bo 60% is nie.
Jare gelede het die Regshulpsentrum (LAC) 'n beroep op die regering gedoen om kraamverlof ter wille van borsvoeding te verleng.
Volgens hulle is die feit dat dit slegs drie maande lank is, een van die redes waarom slegs sowat 53,6% moeders hul babas eksklusief tot op die ouderdom van twee maande borsvoed. Dié persentasie val tot onder 23% vir babas tussen die ouderdomme van twee tot drie maande en dan verder tot 5,7% teen die tyd dat 'n baba vier en 'n halwe maand oud is.
'n Ander rede is 'n gebrek aan bewustheid oor die voordele van eksklusiewe borsvoeding.
In die regering se nasionale agenda vir kinders word die aanmoediging van eksklusiewe borsvoeding tot op ses maande 'n topprioriteit genoem.
Volgens Unicef kan Namibië se borsvoedingstatistiek verbeter indien daar onder meer betaalde kraamverlof asook borsvoedingvriendelike beleide in die werkplek ingestel word.
Tydens 'n SADC-seminaar oor die bevordering van kindervoeding wat in 2015 in Windhoek aangebied is, is borsvoeding erken as een van die mees doeltreffende maniere om die ernstige wanvoeding in die streek te takel.
Volgens inligting wat tydens dié seminaar bekend gemaak is, is een uit elke vier Namibiese kinders onder die ouderdom van vyf jaar te kort vir hul ouderdom. Een in sewe kinders is ondergewig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie