So 'n ramkat!
Sy naam is Anton, want die befoeterde merinorammetjie is 'n hy, met sy eie private vrou en horings daarby.
Anton is as 'n dagoudlammetjie iewers in Oktober 2017 in die Vrijestaat se wye vlaktes (Suid-Afrika) langs die N1-hoofpad deur Anton, 'n lorriedrywer van 'n sekere Bloemfonteinse regsman, opgetel.
Nadat Anton (die drywer) vir merinolammetjie veilig by sy werkgewer besorg het, is die klein natneuswesie terstond “Anton” gedoop.
Klein Antontjie het hans in weggooidoeke saam met die hansganse en huismense grootgeword waar hy ewe kordaat beeldradio sou kyk en besoekers saam met die baas en sy gade by die karre (dalk bakkies?) sou ontvang.
Of hy saam met die honde aan die wiele geruik het, sal ek mos nou nie weet nie.
“Antontjie” het later van tyd “Anton” geword en meer as net twee horings ontwikkel. Sy menspa-hulle het toe vir Dollie, sy bruid en die toekomstige ma van sy arbeidsvreugde, aangeskaf, wat met die verloop van tyd 'n uitgebreide gesin opgelewer het.
Anton en vroulief moes toe hul eie kampie naby die opstal kry waar hulle in vrede gesinsbeplanning en ander relatiewe wollerige merinoskaapsake kon bespreek.
'n Rukkie terug besoek Anton se menspa die naburige varkkampie.
Of Anton toe sy grootmaakpa as bedreiging of kompetisie vir hom by Dollie gesien het, sal g'n mens weet nie.
Maar die uiteinde is 'n briesende Anton wat sy pa van agter met die horings tot in die plaaslike hospitaal karnuffel waar dié operasies aan beide hande moes ontvang om die skade te herstel wat 'n omgekrapte Anton se krulhorings aangerig het.
Selfs sy regterenkel is gekraak en moet nou knus in 'n maanstewel herstel.
Met Anton se manewales vars in die nuus laat dit my aan die dag dink toe ek my eie noue ontkoming met 'n omgekrapte rooi versie op die plaas in die Namib gehad het.
Pa Ponie het elke jaar in die wintervakansie 'n gemeste “kalf” en vark vir die jagseisoen geslag.
Vark se kind is naby die opstal in sy hok met die beste geregte bederf, terwyl Versie in 'n kortloopkampie van haar eie naby die huis gehuisves was. Versie hoef nie ver vir haar eetgoed te geloop het nie, want mielies, lusern en al wat 'n ander beeslekkerny en lekding is is vir Versie se kondisie agter haar beesagterstewe aangedra.
Op die slagdag moes Versie uit haar kampie gelok word, wat ongeveer 300 m van die slagplek geleë was. Mens en dier is beide gewoontevormde wesens, en blykbaar het Versie nie daarvan gehou om ná drie maande se uiters gemaklike en luilekker lewe uit haar gemaksone gehaal te word nie.
Ek het 'n bruin overhôl en 'n paar Adidas-tekkies aangehad waar ek saam met swaer Coenie en die werkers 'n kordon tussen die driedoringbosse gevorm het. Hoekom Versie my gekies het, kon ek tot vandag nog nie uitpluis nie . . .
Ek meen daar was swaer Coen, die ander manne (maar sy het hulle seker te goed geken), Pa Ponie in die F100-bakkie, en natuurlik ek.
Dat sy rooi gesien het, is 'n gegewe feit. Daaraan het ek geen twyfel nie, want die volgende oomblik het die rooi Versie verwoed op my afgestorm met haar horinkies in die regte rigting om my soos 'n braaivleisvurk op te skep.
Vlugvoetig was ek beslis, maar met 'n horde driedoringbosse om my wat 'n meter en hoër gestaan het, het ek nie 'n kans teen Versie se attensies gestaan nie.
Met haar kop omlaag, asof sy lankal die plan gehad het om soos 'n regte egte volbloed el torro met my af te reken, het sy blitsig deur die driedoringbosse geploeg. As atleet kon ek hôl, maar ek was nooit 'n hekkiesatleet nie.
Die uiteinde is dat my onbeplande uittog vinnig tot 'n einde gekom het en ek my eie stukkie grond gekoop het.
Swaer Coen skree ek moet opstaan, maar genadiglik is Versie te vinnig vir my en ploeg bo-oor my. Al wat ek sien, is haar bloedbelope oë en horings wat my rakelings mis. Sy trap my wel raak, maar ek word 'n trippie na Mariental of dalk nog die hoofstad gespaar.
Versie het daardie selfde dag nog haar beplande bestemming gevind.
Hoewel Anton se pa hom as hanslam belowe het hy sal nie geëet word nie, is ek nie meer so seker daarvan nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie