So onthou ek vir oom Dirk Mudge
So onthou ek vir oom Dirk Mudge

So onthou ek vir oom Dirk Mudge

Mandy Rittmann
JURIE VILJOEN SKRYF:

Ek het vir oom Dirk leer ken as ’n ouer by Jan Mohr. Ek het as onderwyser die Mudge-kinders beleef as goeie en voorbeeldige leerlinge wat in die skoolsituasie leidende rolle gespeel het.

Ek was altyd daarvan bewus dat oom Dirk ’n politieke leier was en een by uitnemendheid.

In die politieke tye van storm en drang het hy ’n politieke pad gestap wat hom en sy ondersteuners in onguns gebring het met andersdenkendes in hoofsaaklik Afrikanergeledere. Ek is oortuig dat veral sy gesin baie keer verguising moes verduur.

Ek het vir oom Dirk ook belewe as politikus wat op baie vergaderings sy standpunt moes verdedig. Ek kan egter geen enkele keer onthou waar hy nie altyd waardig opgetree het en sy standpunt, met selfvertrou, onomwonde gestel het nie.

Die veranderinge wat hy voorgestel het, het soms radikaal geklink, maar met verloop van tyd het ’n mens se gedagtes ryp geword en baie het tot ander insigte gekom.

Ten spyte van woelinge en politieke verskille het hy ’n groot rol gespeel in veral die voorspel tot die onafhanklikheid van Namibië. Hy was ’n leiersfiguur wat oral respek afgedwing het.

Ek het hom nooit in die parlement beleef nie, maar ek het altyd vir wyle oom Kosie Pretorius gesê dat ek soos ’n politieke skaduwee teenoor hom voel.

Dieselfde gevoel het ek gehad teenoor oom Dirk, wat ’n gesoute en lewenswyse politikus was, wat deur vriend en vyand gerespekteer is. Ek het die voorreg gehad om vir hom op sy plaas te gaan kuier of om vinnig in die wandelgange met hom gedagtes te wissel. Hy het egter nooit die gevoel geskep dat hy of sy standpunt verhewe is bo die van ander nie.

Ek wil graag hulde bring aan ’n groot politikus wat ’n uitnemende rol gespeel het en soos die digter die gevoel uitgedruk het op Generaal de Wet se begrafnis kan ek ook sê: “Stil broers, daar gaan ’n man verby, hy groet en dis verlaas.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!