So reg uit Broadway
'n Plaaslike talent van Windhoek Gimnasium het 'n hoofrol in 'n musiekblyspel in 'n buurland losgeslaan.
Yandi du Plessis – Curro Create en Wordsmith's Theatre Factory het hande gevat om die “aanlyn konsert van die jaar” op die planke te bring. Die musiekblyspel Van Broadway na Birdstraat is as deel van die 2020 Toyota US Woordfees opgeneem, spog met plaaslike talent in die rolverdeling en kan sedert Woensdag aanlyn gekyk word.
“Jy kan die atmosfeer met 'n mes sny. Twee mans, moord in hulle oë, sirkel mekaar. Wie gaan eerste aanval? Hulle oë op mekaar gerig, roofdiere wat wag vir die kleinste aanduiding van vrees. Die sirkel raak kleiner, meer benoud, die middelpunt van 'n teikenbord. Hulle haal vir oulaas diep asem en dan skop die Fosse-geïnspireerde choreografie in soos 'n tromgedrewe wysie 'n sopraan se hemelse stem begelei om die ouditorium te vul en die twee manne mekaar probeer om-dans.”
Dié beskrywing van die musiekblyspel uit die pen van die bekroonde regisseurspan Hennie van Greunen en Pedro Kruger, sowel as die talentvolle musiekregisseur Melissa van der Spuy, is dalk dramaties, dog boeiend.
Hamilton, Les Misérables, Chicago, Little Shop of Horrors en Hairspray is maar van die welbekende produksies wat as inspirasie vir Van Broadway na Birdstraat gedien het.
“Wat hierdie produksie heeltemal anders maak as ander Broadway-geïnspireerde vertonings, is dat ons elke liedjie in konteks plaas – waar pas die solo of duet of groepnommer in die storie – en die hele rolverdeling is in volle grimering, kostuums, met wêreldklas stelontwerp, beligting en klank, sodat jy inderdaad voel dat jy in een van die luukse Broadway-teaters sit en jouself verloor in die towerkrag van musicals,” lui die mediaverklaring wat onlangs uitgereik is.
Uit meer as 360 oudisies wat oraloor Suid-Afrika én in Windhoek afgelê is, is 22 sangers, dansers en akteurs gekies. Carli Vermeulen van Windhoek Gimnasium is in een van die hoofrolle te sien.
Die vyf professionele sangers in die vertoning is welbekend in Suid-Afrika en Namibië.
Timothy Moloi het met die opening van die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi voor 'n wêreldwye gehoor opgetree. Hy het voor oudpres. Nelson Mandela en Oprah Winfrey opgetree en het al saam met elke simfonieorkes in die buurland gesing.
Corlea Botha se ongelooflike reikwydte is ongeëwenaard op die Suid-Afrikaanse verhoog, en sy het ook al in New York opgetree met staande ovasies. Lynelle Kenned is ewe tuis op die musiekteaterverhoog, die dramaverhoog, en voor die kamera as televisie-aanbieder. Haar spel as Maria in West Side Story het lof uit verskeie oorde ingepalm.
Germandt Geldenhuys het dalk bekend geraak vir sy rol as Louis Koster in Binnelanders, maar hy het almal verbaas met sy sangtalent in die internasionale trefferfliek Kanarie. Hy het al in verskeie musiekblyspele, insluitende Sister Act, Sweeney Todd en Janice Honeyman se pantomime Jack and the Beanstalk opgetree.
André Terblanché is akteur, musikant en sanger wat alte tuis voel in musiekblyspele, soos Joseph and the amazing technicolor dreamcoat. Hy het einde verlede jaar die titelrol in die produksie Daniel gespeel, wat 'n groot treffer in Israel was.
Van Broadway na Birdstraat het by die 2020 Toyota US Woordfees geopen, waar meer as 2 700 teaterliefhebbers die vertoning oor drie optredes bygewoon het. 'n Landswye toer is vir die produksie beplan, maar die pandemie en gepaardgaande inperking het dié planne in die wiele gery.
Gelukkig is die produksie verfilm en deur Homebrew Films as 'n volledige film-ervaring geredigeer.
“Hierdie liefdesbrief aan Broadway – wat tans steeds donker is, soos al ons eie teaterdistrikte – brand 'n vlam wat die pad verlig tot by die geluk, heling en gemeenskaplike katarsis wat ons slegs in die teater kan bereik.”
Die goeie nuus vir teatervlooie wat na dié ervaring verlang, is dat Van Broadway na Birdstraat aanlyn beskikbaar sal wees vanaf Woensdag (29 Julie) tot 10 Augustus. Kaartjies kos N$100 elk en is op Webtickets beskikbaar.
CARLI SE STORIE
Dié jong danser is die enigste Namibiër wat in die geselskap van die internasionale talent opgetree het. Die 16-jarige leerling van Windhoek Gimnasium vertel sy het nog altyd 'n passie vir dans.
“Ek doen al vandat ek drie jaar oud is ballet. Ek het later ook met ritmiese gimnastiek, moderne dans en hip-hop begin.”
Buiten dans het sy ook 'n passie vir teater en kultuur en sy vertel hoewel sy al in baie konserte opgetree het, was dié beslis 'n hoogtepunt in haar jong loopbaan.
“Alle Curro-skole in Namibië en Suid-Afrika is uitgenooi om oudisies af te lê. Ek het dadelik besluit ek gaan inskryf. Ek het my eie danse in ons motorhuis gechoreografeer en my pa het 'n video daarvan geneem wat ek met lae verwagtinge ingestuur het,” sê Carli.
“'n Paar weke later het ons skool almal wat ingeskryf het, bymekaargeroep. Ek was toe die enigste een van Namibië wat gekies is, wat natuurlik vir my 'n aangename verrassing was!”
Sy het alleen op die vliegtuig geklim met 'n mengelmoes van opgewondenheid en vrees. Sy was op pad na 'n ander wêreld waar sy niemand ken nie. Met haar aankoms in Kaapstad het almal haar egter met ope arms verwelkom, sê sy. Sy is verstom deur die professionalisme, vasberadenheid en talent wat sy ervaar het.
“Ons het dadelik begin oefen, omtrent 10 ure per dag vir twee weke voor ons eerste optrede.
“Dit was wonderlik om 'n verhoog met groot name in die vermaakbedryf soos Corlea Botha, Germandt Geldenhuys en Lynelle Kennend en andere te deel. Hulle was uiters professioneel, baie gedissiplineerd en het 'n hoë werkstempo gehad.
“Al die harde werk was op die ou einde die moeite werd, want dit is beslis die beste teaterproduksie wat ek al gesien het. Daar is soveel passie in elke kind wat optree en die produksie sal elke mens raak wat daarna kyk. Ek sal mense definitief aanmoedig om daarna te kyk, omdat ek glo min mense het al iets soortgelyk gesien. Hulle asems sal beslis weggeslaan word!” vertel Carli opgewonde.
Die vertonings in Stellenbosch is afgehandel voor die pandemie Suider-Afrika in alle erns getref het en sy was veilig by die huis voor die grense gesluit het. Sy vertel die feit dat die produksie na 'n aanlyn platform kan skuif, is 'n seëning.
“Die produksie het my so baie geleer en ek het eerstehands ervaar hoe dit in die professionele teaterwêreld lyk en die harde werk wat agter die skerms gedoen word.
“Ek het so baie mense ontmoet wat my geïnspireer en 'n onvergeetlike impak op my lewe gehad het. Ek is so dankbaar vir die geleentheid wat aan my gegun is.”
SNAP VINNIG
Pedro Kruger, mederegisseur, vertel: “Selfs net op haar oudisie-opname kon mens Carli se tegniek, instink en bowenal, haar charisma as danser duidelik sien. Sy het ons nie teleurgestel nie – ons het die jonges ontsettend hard laat werk, maar deur dit alles was Carli leergierig, gedissiplineerd en vinnig om die choreografie te snap.
“Curro Create doen elke twee jaar 'n groot produksie waar ons hoërskoolsangers, -dansers en -akteurs die kans gee om volledig deel van 'n professionele teaterproduksie te word,” vertel Pedro.
Hy vertel hulle wou van die begin af vir Corlea Botha, Germandt Geldenhuys, André Terblanché, Timothy Moloi en Lynelle Kennend as deel van die produksie hê vir hul wêreldklas stemme nie, sowel as hul passie vir die teater.
Hy vertel die “veterane” het briljant as mentors gefunksioneer. “Ons choreograwe het ure met individuele dansers deurgebring en die gesoute sangers, met die jong sangers. Die lesse wat hier geleer is, gaan hulle nog baie lank dien.”
Die regiespan het die span spelers as 'n eenheid benader. “Dis die ongelooflike deel van so 'n proses – daar is nie 'sterre' nie – daar is slegs die span en elke liewe spanlid is deels verantwoordelik vir die sukses van die produksie,” sê hy.
Hy vertel die lokprent is al byna 70 000 keer op Curro Create se Facebook-blad gekyk.
“'n Gehoorlid by die US Woordfees het dit so goed opgesom: Dit is nie 'n feesproduksie nie, maar eerder 'n visuele en klankfees wat vir ses maande in 'n grootse teater moet speel.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie