So uit soos koekies in die weeshuis
So uit soos koekies in die weeshuis

So uit soos koekies in die weeshuis

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die spreekwoord lui, vry vertaal, jeug word verkwis op die jonges. Amen. Veral as jy na ‘n onlangs gepubliseerde meningspeiling oor die waters kyk waaraan sowat 2 000 Britte deelgeneem het en veral die ouer, wyser geslag van vroue rooi onder die kraag het.

Gegewe die uitslae van die peiling, is dit veilig om te skat die ouderdomme van die respondente is hoog op die adolessente-meter en wissel tussen 15 tot 21 jaar. Volgens dié klompie snippe behoort ’n vrou teen die tyd wat sy 46 jaar slaan, haar hare te knip. Geen lang lokke meer nie, gedra vir jou met ’n veilige, styfgespuite bob of hou dit dan asseblief net kort en sindelik. Buiten dat haar lang lokke op 46 jaar moet waai, moet so ook die stywe jannas. Al wat styf moet sit volgens die Britse respondente, is jou korset om verkieslik alles wat deur swaartekrag sedert 30 na jou voete toe neig, weer sinlik in proporsie te klem.

Die doel van die onwetenskaplike opname is glo om ouer vroue (volgens die respondente dié ouer as 40) te vertel wanneer om op te hou goed doen, sê en dra wat nie met die jeug geassosieer word nie. ’n Nota aan lesers (ouer lesers/vroue): Die kans is goed jou bloeddruk gaan die hoogte in skiet as jy die onderstaande lees, maar moet asseblief nie dié ouer leser/vrou/boodskapper skiet nie. Daar is ’n rubriek om te skryf en dit is vandag die beste waarmee ek vorendag kan kom. Hier gaat ons.

As jy jou kêrel/kind/kraai se naam, geboortedatum en liefdesboodskap iewers op ’n liggaamsdeel permanent in ink wil aanbring, roer jou litte. Ná 38 is dit uit soos om met ’n koki op jou pols te skryf “onthou die melk” of “gaan haal boetie se rapport”.

Die Huffington Post wat die uitslag van die lawwe stukkie opname gepubliseer het, heg weliswaar voorbeelde aan van dié vroue wat hulle stywe jeans en lang hare aan die uitslae afgevee het. Kyk maar na die befaamde aktrise Helen Mirren wat ’n jeugdige 70 jaar oud is. Mirren het haar tatoe van twee verstrengelde v’s op haar linkerhand eens ’n “dronk bewys van jeugdige rebellie” genoem. Vandag voel dié hoofdame anders oor die stukkie ink en wens sy sy kan nou ’n hele armvol slange moulangs hê.

Tweede op die lys van goed wat jy nié moet nié as jy reeds drie dekades op die klok het – “selfies”. So uit soos bandjies-toppies en stywe jeans met wit hoëhakskoene. Die opname kom jou darem nog tegemoet tot so 34 jaar, maar daarna neem jy jou kat of jou hond of jou kaktus wat blom af, net asseblief nie jouself nie. Neem nou maar vir altyd verlief daarmee dat jy die een ágter die kamera gaan wees, so ook die een wie se gesiggie in ’n paspoortfoto in die familie se Kerskaartjie bo in die hoek gaan pryk.

Buiten dat jy nou nie meer mag tatoe of “selfie”, sorg jy dat jy op 44 nie meer klubs besoek nie. Die gholf- en rolbalklub kan nog werk, maar net as jy aan die aktiwiteite deelneem wat stokke en balle betrek. Sou jy egter verkies om die res van jou gehoor wat nog met jou is, in ’n donker hool met hier en daar ’n flitslig te verloor op musiek wat van instap tot jy bed toe gaan konstant op dieselfde doef weerklink, doen dit. Gehoorapparate is deesdae modieus en pas by enige oor en uitrusting. As jy klubs op 44 gegroet het, weet die volgende koebaai is musiekfeeste. Twyfel of die Huisgenoot-skouspel en Afrikaans is Groot onder dié groot “nee” tel, ’n (ouer) vrou kan mos darem ’n kampstoel, en ’n bottel gegeurde water saam die stadion binne neem. En na groot (baie ouer) geeste soos Anton Goosen en Koos Kombuis luister wat die musiekfeesrevolusie immers begin het.

Wat tegnologie betref, beweer die Britse opname teen 47 het jy klaar ge“twitter” en jy het tot 49 om van jou Facebook-profiel ontslae te raak. Dit ten spyte van die feit dat 56% van volwassenes ouer as 65 jaar ’n Facebook-profiel het. Vat dít en rook dit, bogsnuiters! Wat dié ouer vrou betref – ek dra, luister en doen wat my deuntjie vir my sê . . .

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!