So vat die Bucht hande

Ondanks die bytende resessie het ’n maatskappy op Lüderitz daarin geslaag om 100 nuwe werksgeleenthede te skep.
Denver Kisting
Denver Kisting – Dit is net wanneer ’n onderneming die behoeftes van ’n gemeenskap verstaan dat hy ondanks ekonomiese uitdagings sy markaandeel kan groei.

Volgens me. Brigitte Fredericks, adjunkburgemeester van Lüderitz, ploeg Marco Fishing konsekwent terug in die plaaslike gemeenskap.

Hierdie deurlopende bydraes gee die dorp se ekonomie ’n blywende hupstoot, meen sy. “Die gemeenskap van Lüderitz is baie verskuldig aan die visionêre leierskap van Marco Fishing, en ons nederige pleidooi is vir die sentrale regering om aan te hou om die nodige ondersteuning te bied en terselfdertyd ’n gesonde omgewing vir Marco Fishing daar te stel.”

VERGROTE GEBOU INGEWY

Fredericks het onlangs tydens die inwerkingstelling van dié maatskappy se uitgebreide fabriek gesê: “Ek kan met selfvertroue aankondig dat Marco Fishing ’n agent van verandering is en ten volle toegewyd tot die transformasie van die sosioëkonomiese welstand van ons plaaslike gemeenskap wat werkskepping, opvoeding, voedselsekuriteit en loopbaanontwikkeling betref.”

Die uitbreiding van die visfabriek van Marco Fishing op Lüderitz en die gepaardgaande werksgeleenthede is ’n mylpaal wat waardetoevoeging in die visbedryf betref.

Dít was die standpunt van mnr. Bernard Esau, die minister van visserye en mariene hulpbronne, onlangs op die hawedorp.

Marco Fishing en sy vennote, Mekarilakha Fishing, het nagenoeg N$25 miljoen belê om die fabriek se vloeromvang, sy vriesvermoëns en toerusting- en personeelruimte uit te brei.

Esau het gesê die direkte gevolg hiervan was 100 nuwe werksgeleenthede. “Dit is ’n reuseontwikkeling, wat ek hartlik verwelkom,” het hy tydens die bekenstellingsgeleentheid gesê.

Volgens die minister lê die toekoms van die visbedryf in waardetoevoeging.

Hy het gesê kragtens die visvangkwotapuntestelsel wat tans in die pylvak is voor dit in die Staatskoerant gepubliseer word, word instellings vergoed vir die hoogste aantal werksgeleenthede per metriese ton en vir hul beleggings in die visbedryf.

Die regering is volgens Esau nie meer bereid om werksgeleenthede uit te voer deur on- of onderverwerkte vis uit die land te stuur nie.

Esau het beklemtoon visvangregtehouers moet besef die enigste manier om daardie regte te behou of selfs hul kwota te verhoog, is om ordentlike, permanente werksgeleenthede te skep.

14% van verdienste terug aan staat

Mnr. Francois Louw, die voorsitter van die Marco Fishing-raad, sê die afgelope drie jaar het die maatskappy 14% van sy verdienste in die staatskas teruggeploeg.

Dit sluit heffings, inkomstebelasting en personeelbelasting in.

“Ondanks die feit dat Marco Fishing ’n klein onderneming is, dink ek dit is duidelik dat ons ’n belangrike rol in die ontwikkeling van Lüderitz en sy mense vertolk. Saam met ons vennote, Mekarilakha, strewe ons daarna om ’n selfs groter rol in die toekoms te speel,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!