Sodat almal kan bel
Sodat almal kan bel

Sodat almal kan bel

Die eerste 41 nuwe torings is reeds in werking gestel, waarvan daar teen 2020 altesaam 524 sal wees.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die land se grootse selfoondiensverskaffer het verlede week terugvoering gegee oor hul 081Every1-veldtog, wat beoog om die hele Namibië van selfoondekking te voorsien.

Volgens MTC se hoofwoordvoerder, mnr. Tim Ekandjo, vorder die plan om sowat N$1 miljard oor drie jaar te bestee daaraan om selfoondienste ondanks uitdagings aan verafgeleë Namibiërs te verskaf.

Die plan is om teen 2020 sowat 524 nuwe uitsaaitorings op te rig.

MTC het sedert dié projek in Augustus verlede jaar van stapel gestuur is tot verlede Woensdag reeds 41 nuwe uitsaaipersele opgerig.

Volgens Ekandjo is bouwerk by 64 van dié persele voltooi, terwyl 47 nog in aanbou is.

Altesaam 17 Namibiese maatskappye is vir die doel gekontrakteer – nie net om klein en medium ondernemings plaaslik te ondersteun nie, maar ook om terselfdertyd met projekte oor wydverspreide gebiede te kan begin, sê Ekandjo.

Hoewel daar uitdagings by jong maatskappye is, word die proses goed bestuur, sê hy.

Wat meer kommer wek, is die sloerdery met die toekenning van grondbesitsertifikate deur toepaslike grondrade, en die stadige vordering met die opstel van elektriese kabels na verafgeleë gebiede.

Een rede waarom voltooide persele steeds nie in werking is nie, is ’n gebrek aan krag.

Volgens mnr. Ludwig Tjitandi, MTC se hoofbestuurder vir netwerktoegang en transmissie, het MTC sonkrag by sekere torings aangewend waar verbinding met die nasionale kragnetwerk nie moontlik is nie.

Ekandjo sê waar die verskaffing van kragkabels sloer, sal kragopwekkers moontlik gebruik word, wat die kostes van die projek sal laat styg.

"Met hierdie projek is die noodsaaklike opgradering van die transmissienetwerk gedoen en is MTC in staat gestel om ’n 3G-netwerk in verafgeleë nedersettings aan te lê.

“Die tegnologiese weg vir 2G- tot 3G-migrasie is vir ons kliënte in landelike gebiede gebaan," het Ekandjo gesê.

Om Namibië aan die spits van 100% telekommunikasie-netwerkdekking in die streek te plaas, en om die pad na nasionale sosioëkonomiese voordele moontlik te maak, bring die oprigting van die 081Every1-kraglyne, danksy MTC, ook mee dat krag na sommige dorpies aangelê word, sê hy.

Ekandjo sê MTC beplan om teen die einde van die eerste fase van die projek 111 nuwe torings in werking te stel.

Fase een sal na verwagting teen die einde van Maart voltooi wees, sê hy.

Nuwe persele sal in elk van die 14 streke gebou word, afhangende van waar dekking nodig is.

Die Kunenestreek sal byvoorbeeld 12 nuwe torings kry, terwyl Khomas, waarin die hoofstad geleë is, net vyf sal kry. Elke toring kan ’n sein met ’n radius van sowat 25 km verskaf, afhangende van die omliggende bosdigte.

Ekandjo het ook die waarde van die verspreiding van slimfone beklemtoon.

Hy het verwys na MTC se oSmartPhona-veldtog van laas jaar, toe die maatskappy slimfone gesubsidieer het en goedkoop aan die mark beskikbaar gemaak het.

“Daar is ’n groot behoefte om daarmee voort te gaan sodat mense die doel van ons belegging kan ontgin,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!