Sodomiewet is onlogies, su00ea Geingos
Sodomiewet is onlogies, su00ea Geingos

Sodomiewet is onlogies, sê Geingos

Die bestaan van 'n wet wat vir dekades nie gebruik word nie maak volgens die eerste dame geen sin nie.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die gemeenregtelike verbod op anale seks tussen volwasse mans met toestemming is 'n onlogiese wet.

Só het me. Monica Geingos, Namibië se eerste dame, die afgelope naweek gesê oor 'n versoek om sodomie te dekriminaliseer.

Hiernaas het sy die bestaan van 'n wet bevraagteken wat al vir dekades nie gebruik word nie.

Geingos het Vrydag haar #BeFree-beweging, wat op die opheffing van die jeug fokus, na lede van die lesbiese, gay, biseksuele en transgender (LGBT-) gemeenskap uitgebrei.

Die regte van sekswerkers, mense met gestremdhede en diegene wat met die MI-virus leef, is ook in 'n volgepakte ouditorium van die Nasionale Teater van Namibië (NTN) in die soeklig geplaas.

Dié been van die veldtog staan as #BeFreeInclusivity bekend.

Geingos meen sekswerk is taboe vanweë tradisionele morele waardes en skynheiligheid.

Twee hoërskoolspanne het Vrydag se amptelike program met 'n debatkompetisie afgeskop.

Die gehoor was dit eens die span wie se gevolgtrekking was dat kulturele - en geloofsnorme nie verdraagsaamheid bevorder nie, was sterker as die span wat dít aangevoer het.

'n Gevangene (27) het hartroerend getuienis gelewer oor hoe hy as tiener aan 'n groepverkragting deelgeneem het.

Hy het die jeug aangemoedig om altyd te dink voor hulle 'n besluit neem deur die moontlike gevolge van hul besluite in ag te neem.

Met verwysing na sy eie selfdoodpogings het hy hom beroep op die samelewing om minder veroordelend te wees.

“Ek is nie skaam om my verhaal te deel nie, want ek wil ander bemagtig om nie dieselfde foute as ek te begaan nie,” het hy gesê.

Volgens hom is die meeste gevangenes jongelinge. “Die tronk maak jou nie aan die buitekant seer nie, maar maak jou van binne af dood,” het hy gemaan.

Vrydag se hoofspreker, prof. Anthony Brown, 'n boorling van Walvisbaai, het gesê homofobiese afknouery en die druk om aanvaar te word en as normaal gesien te word, het uiteindelik daartoe gelei dat hy met 'n vrou getrou het.

Dié dosent aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) het onthou hoe hy tydens sy grootwordjare in die strate van Kuisebmond as “moffie” uitgejou is.

Hy het Vrydag aan die leerlinge gesê: “Jul woorde maak mense seer.”

Brown het hulde gebring aan Namibië se progressiewe leerplan, wat diskriminasie op grond van seksuele oriëntasie verbied.

Maar dit is nie genoeg nie, sê hy. “Die probleem lê by my en jou wat stilbly wanneer ander geboelie word. Wat sal jy doen as jy homofobiese afknouery en geweld waarneem?”

Naas 'n hoëvlakpaneelbespreking was me. Yvonne Dausab, voorsitter van die Kommissie van Regshervorming en -ontwikkeling (LRDC), ook met Geingos in gesprek.

Dausab het onder meer gepraat oor hoekom dit belangrik is om huwelike van dieselfde geslag te begin erken. Sy sê dit sluit wetlike voordele en be­skerming in. Gesprekke van Vrydag se aard kan help om die huidige stand van sake om te keer, het sy gesê.

'n Egpaar, mnre. Danny Digashu en Johann Potgieter, dagvaar die Namibiese regering tans om hul burgerlike verbintenis te erken sodat Digashu, 'n Suid-Afrikaner, in Namibië mag woon en werk.

Hulle het onlangs hul veldtog, #IAmLucas, bekend gestel om bewusmaking van hul pleidooi en dié van hul 10-jarige seun, Lucas, te skep.

Pres. Hage Geingob het op sy 77ste verjaardag in Augustus verlede jaar gesê die regte van seksuele minderhede in Namibië is gewaarborg.

Die gehoor, wat die voorsitter van die Nasionale Raad (NR), me. Margaret Mensah-Williams, ingesluit het, is op verskeie optredes getrakteer – deur onder andere die komediant Milton Hochobeb se alter ego, OC Ebs.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!