Soek daai ware Windhoekers dié winter
Jo-Maré Duddy - Koopkrag is soos toiletpapier: Jy weet vir dae dit raak al hoe minder, jy moet ‘n plan maak, en voor jy jou oë uitvee, is jy in kaaskoekstraat.
Só sak duisternis dan die ander weeksaand op Kaia des Boois toe. Donker binne, donker buite, vrek koud, kos halfpad op die stoof, huiswerk halfklaar op die etenstafel en al die huisgenote krapperig.
Ná ‘n stel wat ons onlangs met ‘n koopkragtoep afgetrap het, is die hoekwinkeltjie in Cimbebasia die maklikste opsie. Maar soos alle Windhoekers weet, is koopkrag koop soms als behalwe maklik. Kort voor toemaaktyd is die winkeltjie se koopkrag “op”.
My moed sak in my yskoue skoene: Hier begin die koopkragjagtog. Die week-het-skaars-begin-en-ek’s-doodmoeg uitdrukking op my gesig moes iets in die jong man agter die toonbank se 08:00-tot-21:00-bestaan geroer het. Want tot my verbasing vra hy of ek kontant op my het, dan koop hy gou vir my krag deur sy eie selfoontoep.
Heeltemal onkant betrap, ry ek met die kragpapiertjie terug huis toe. ‘n Salige warmte in my oor die jong man se medemenslikheid. “Hy hoef dit nie te gedoen het nie,” maal dit deur my kop. “Dis so on-Windhoek,” babbel ek verbaas dankbaar voort terwyl die potte weer begin prut.
Nie lank daarna nie staan ek soos ‘n pakdonkie oorlaai met inkopiesakke voor die masjien in die mall om my parkeerkaartjie te betaal – keelvol, ongeduldig en met ‘n alsoorheersende begeerte om van die malende massas te ontsnap. En die masjien wil niks weet van die paar munte wat ek dit voer nie. Ek skuur en poleer die brons stukke, bid dat ek nie weer deur die vertrapping binnetoe moet piekel om nuwe kleingeld te kry nie.
Die man agter my grawe in sy broeksak, hou sy munte na my toe uit. Ek’s ongemaklik in twee verdeel: Wil nie die man se geld vat nie (want in Windhoek is niks verniet nie), maar is so bitter dankbaar vir die kans wat hy my bied om net my sakke te kan vat en ontsnap.
In die kar op pad huis toe wonder ek wanneer ons skaam geword het om vreemdelinge se goedgunstigheid te aanvaar. Wanneer en hoekom het ons die punt bereik waar ons voel “baie dankie” is net hol woorde wat nooit ons dankbaarheid vir onverwagse vriendelikheid kan uitdruk nie?
Hoekom maak ‘n klein gunsie van ‘n onbekende Samaritaan ons ongemaklik, skoon senuweeagtig? Omdat dit in ons gejaagde bestaan ‘n taboe geraak het? Omdat ons weet ons sal die vreemdeling waarskynlik nie eers herken as ons hom weer iewers raakloop nie, wat nog te sê ooit die kans hê om ook vir hom ‘n klip uit die pad uit te kan rol?
Of maak dit ons kriewelrig omdat ons ons geloof in ons medemens verloor het? Omdat ons die gaafheid van ‘n vreemdeling nie sien kom het nie? Omdat almal toe tog nie só is nie?
Hoe dit ookal sy: Ek kyk sedertdien met nuwe oë na Windhoekers. Wéét dat êrens tussen die gesiglose skare skuil daar ware Windhoekers. Régte, égte mense wat, waar hulle kan, sal help om ‘n medestedeling se lewe effe makliker te maak.
Mense by wie ons kan leer om ook weer ons medemenslikheid skaamteloos te kan terugeien. Kom ons soek hulle, word een van hulle!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie