Soeklig op Namandje in Fishrot-sage
Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger wou weet of die prokureurs wat in die saak betrek word, immuniteit het of as staatsgetuies gebruik gaan word.
Jemima Beukes – Die prokureur wat die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernhard Esau, en sy skoonseun Tamson “Fitty” Hatuikulipi verteenwoordig, wou weer of mnr. Sisa Namandje in ‘n “spesiale kategorie” val omdat hy tot dusver nie in hegtenis geneem is nie.
Dit, ten spyte daarvan dat Fishrot-geld glo deur sy prokureursfirma se trustrekening gevloei het.
Mnr. Richard Metcalfe, wat tesame met mnr. Florian Beukes vir Esau en Hatuikulipi in hul borgaansoek in die Windhoek-landdroshof verteenwoordig het, het dié vraag Vrydag aan die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se senior ondersoekbeampte, mnr. Karel Cloete, gevra.
"’n Trustrekening is ‘n heilige rekening. Jy kan nie net geld oordra en inbetaal nie,” het Metcalfe gesê.
Hy het Cloete gevra of Namandje en nog ‘n prokureur wat by die Fishrot-sage geïmpliseer word, mnr. Maren de Klerk, immuniteit gebied is en of hulle as staatsgetuies gebruik gaan word.
“Is Sisa Namandje so ‘n spesiale-kategorie prokureur? Geld wat deur julle (die ACC) as onwettig beskou word, het na sy rekening gegaan. Mnr. Namandje is in die land en daar is geen lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik nie? Is hy ‘n staatsgetuie?” het Metcalfe gevra.
Cloete het gesê hy is nie seker of dié prokureurs staatsgetuies sal word nie, omdat die ondersoeke nog voortduur.
Vroeër vandeesweek het Cloete se ACC-kollega, mnr. Willem Olivier, aan die hof gesê in ondersoeke is bevind dat N$17,5 miljoen van die Fishrot-geld glo in die trustrekening van Namandje se firma betaal is.
Volgens Olivier is onderskeidelik N$15 miljoen en N$2,5 miljoen in dié trustrekening inbetaal met “regeringsdoelwitte” as verwysing.
“Hierdie is verdag. ‘n Gedeelte van die geld is vir motors, persoonlike lenings en ander items gebruik. Ondersoeke het tot dusver gevind dat die geld vir Swapo-veldtogte gebruik is,” het hy gesê.
‘n Hofuitspraak tussen Namandje en die Regsgenootskap van Namibië (LSN) hieroor word op 21 Julie verwag.
Die LSN het Namandje voor die hoërhof gedaag om hom te dwing om sy finansiële rekords van sy trustrekening openbaar te maak.
ONSTABIEL
Volgens Cloete, het De Klerk aan die ACC in ‘n beëdigde verklaring gesê die beskuldigdes het saamgesweer om bedrog te pleeg en daar sal binnekort aangedui word of De Klerk ‘n getuie of ‘n verdagte is.
Metcalfe het aan Cloete gevra of die ACC bewus is dat De Klerk in ‘n psigiatriese inrigting in Suid-Afrika opgeneem is, alhoewel dit blyk dat hy met “baie geld gespeel het”.
Cloete het gesê hy is bewus van De Klerk se geestesgesondheidkwessie.
Die borgaansoek is tot 21 Julie vir verdere voorleggings uitgestel en tot 22 Julie vir ‘n moontlike uitspraak. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie