Soektog na Raubenheimer verby
Soektog na Raubenheimer verby

Soektog na Raubenheimer verby

Augetto Graig
Augetto Graig



Die soektog na mnr. Peter John Raubenheimer (57) is verby.

Sy liggaam is Dinsdag in dieselfde omgewing gevind waar hy vroeg Saterdagoggend verdwyn het.

Volgens die Namibiese polisie se koördineerder in die //Kharasstreek, kommissaris Rudolf Isaak, is Raubenheimer se liggaam om 10:30 gevind.

“Dit blyk dit het teruggespoel met die branders tot op die groot klippe langs die waterkant,” het Isaak gesê.

Die polisie sal nou voortgaan met ''n geregtelike doodsondersoek wat reeds begin het, volgens Isaak.

Raubenheimer se familie is amptelik ingelig.

Die tragiese verhaal spruit uit ­Raubenheimer se ­verdwyning ­omstreeks 02:30 Saterdag in die Atlantiese Oseaan naby ­Oranjemund (26 15 68''S – 015 16 1''E). ­Raubenheimer was as eienaar en een van drie mans op die ­splinternuwe kreefboot M/V ­Caladero II, wat hulle in ­Kaapstad gaan haal en mee na Lüderitz ­teruggevaar het. Aan boord was ook mnre. Aldo Zane Peterson, die boot se 46-jarige ingenieur, en die jong matroos Darrek Bradley Bester (20).

Die boot se skroef het naby ­Oranjemund skade opgedoen en gestrand. Raubenheimer het uit die boot geklim en probeer om dit terug in die see te stoot toe hy spoorloos verdwyn het.

Reddingspanne is per ­helikopter na die toneel gestuur en die soektog op see het tot Sondag geduur, sonder resultate.

Die boot is na Lüderitz se hawe gesleep en het Saterdag om 17:25 daar aangekom. Raubenheimer was welbekend in die hawedorpie waar hy jare lank voor sy aftrede bevelvoerder van die ­vismaatskappy Seaflower se vloot was.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer