Soektog na vermiste kaptein afgelas
Soektog na vermiste kaptein afgelas

Soektog na vermiste kaptein afgelas

Die soektog na die vermiste kapt. Carlo Gordon van die MFV Resplendent word gestaak, lui ’n verklaring van Hangana Seafood, ’n filiaal van die Ohlthaver & List-groep.

“Ná deeglike oorweging en noukeurige beraadslaging met kundiges om alle moontlikhede te ondersoek, en op grond van die menings van hierdie kundiges, het Hangana Seafood se bestuur en die versekeraar P&I tot die gevolgtrekking gekom daar is geen redelike vooruitsig om die vermiste kapt. Carlo Gordon van die MFV Resplendent lewend te vind of om sy liggaam uit die wrak te haal nie.”

Hangana Seafood het in beraadslaging met Walvis Bay Diving vasgestel selfs om met hoogs gesofistikeerde toerusting na die diepte te duik waar die wrak lê, is buite menslike vermoëns en sou uiters gevaarlik wees.

Wêreldrekord-duikslae met gemengde gas is op ’n diepte van 330 m in die Rooi See onder ideale omstandighede uitgevoer.

Die soektog na die Resplendent se wrak in omstandighede met swak sigbaarheid en strome van tot sewe knope, maak dié operasie byna onmoontlik.

Oorweging is geskenk aan die lewensvatbaarheid van ’n gespesialiseerde vaartuig (ROV) om ’n opname van die wrak met behulp van afstandbeheer te doen om Gordon op te spoor.

’n ROV funksioneer slegs as visuele hulpmiddel en kan mense nie van die seebodem af terugbring nie.

Die Resplendent het op ’n diepte van sowat 318 m gesink.

Die diepte van die vaartuig en die toestande op die seebodem, sowel as die swak sigbaarheid en die feit dat die ROV slegs die buitekant van die wrak kan nagaan indien dit opgespoor word, maak dit nie lewensvatbaar nie.

Volgens die kundige advies wat Hangana Seafood ontvang het, is dit onmoontlik om ’n liggaam met ’n ROV in hierdie toestande op te spoor.

Die Direktoraat van Mariteme aangeleenthede (DMA) ondersoek tans die oorsaak van die ongeluk, en word deur Walvisbaai se hawekaptein en die voorsitter van die unie vir afgetrede vissermanne gelei.

Hangana Seafood verwelkom die ondersoek en wag op die verslag.

Verlede Vrydag het Gordon se vrou, kinders en huishulp oor die ongelukstoneel gevlieg.

’n Oomblik van stilte is gehou, terwyl familielede blomme oor die toneel gestrooi het.

Hangana Seafood sal ’n spesiale diens vir die kaptein se familie en vriende op Walvisbaai hou.

Dié datum sal in ’n latere stadium bekend gemaak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!