SOE's skuld miljarde
SOE's skuld miljarde

SOE's skuld miljarde

Kommersiële staatsonder­nemings het oor die jare 'n ­finansiële las vir die staat geword en dit moet omgekeer word, sê die SOE-minister.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Baie staatsondernemings (SOE's) faal in die doel van ekonomiese ontwikkeling en inkomste-­generering, en het 'n skuld-meulsteen vir die land geword.

“Dit bekommer ons as verkose leiers van hierdie nasie dat die skuldlas van Namibiese staatsondernemings tot N$43 miljard opgeloop het. Dit is 25% van die bruto binnelandse produk (BBP),” het die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, tydens die bespreking van sy begrotingspos in die Nasionale Vergadering gesê.

Hy het daarop gewys dat die opbrengs op die totale SOE-­portefeulje se bates in die vorige boekjaar negatief was. “Die verliese beloop nou meer as N$150 miljoen per jaar, wat onvolhoubaar is,” sê Jooste.

“Dit toon duidelik die prestasie en finansiële resultate van die meeste van ons staatsondernemings is skrikwekkend swak en bloot nie volhoubaar nie. Daarom is ons ministerie se taak om dit om te keer, kritiek belangrik,” het die minister gesê toe hy die begrote N$40,02 miljoen vir sy ministerie gemotiveer het. Dié bedrag is 4,21% minder as wat in die 2018-'19-boekjaar toegeken is.

'n Groot stap vorentoe in die uitvoering van dié mandaat, was die ­aanvaardiging van die Wet op die Bestuur van Openbare Ondernemings op 9 April in die parlement, sê hy.

SOE's word ingevolge die nuwe wet in drie kategorieë verdeel: Kommersiële entiteite, niekommersiële entiteite en finansiële instellings. Die wet bepaal alle kommersiële entiteite resorteer voortaan onder die SOE-ministerie, wat vir die prestasie van hierdie entiteite verantwoording moet doen, het Jooste verduidelik.

Niekommersiële entiteite soos reguleerders, navorsingsliggame, ontwikkelingsagentskappe, media-­instellings en diensverskaffers is die verantwoordelikheid van die relevante lynministeries.

Daarteenoor is alle staatsondernemings van 'n finansiële aard die verantwoordelikheid van die ministerie van finansies.

Hy het benadruk sy ministerie se taak is om staatsondernemings te herstruktureer, algemeen aanvaarde beginsels vir goeie korporatiewe bestuur te vestig, beleidsraamwerke te ontwikkel en die implementering daarvan te monitor, asook om prestasie-­ooreenkomste met die direksies, uitvoerende hoofde en senior bestuurslede van hierdie entiteite aan te gaan.

Verder moet sakeplanne, finansiële state en jaarlikse begrotings ook bestudeer word.

Jooste sê sy ministerie se aktiwiteite is tweeledig: Om regs-, ekonomiese en finansiële advies te verskaf, asook beleidskoördinering- en ondersteuningsdienste te bied.

Wat die eerste funksie betref, is sowat N$7,04 miljoen begroot. Vir beleids­koördinering- en ondersteunings­dienste is sowat N$33 miljoen begroot.

Sy ministerie sal vanjaar op die implementering van die transformasiestrategie- en eienaarskapsbeleid fokus, staatsondernemings sal gekategoriseer word en die geïntegreerde bestuursprestasieraamwerk sal ontwikkel en geïmplementeer word.

Verder sal die databasis bestaande uit 600 potensiële direksielede wat vir toekomstige aanstellings geïdentifiseer is, in elektroniese formaat opgestel word.

Jooste het benadruk dit is belangrik dat potensiële raadslede vaardighede moet hê wat geskoei is op die spesifieke sektore waarbinne SOE's sake doen.

Verder sal die riglyne vir die werwing van uitvoerende hoofde binnekort vrygestel word. Dit sal volgens hom die probleme met skorsings opklaar, en die hernuwing en beëindiging van kontrakte formaliseer. Direksies sal ook van vanjaar af aan prestasie­beoordelings onderwerp word.

Staatsondernemings wat hulle “in die intensiewesorgeenheid of op die operasietafel bevind” en geherstruktureer moet word, kos baie geld. Daarom gaan die ministerie 'n voorstel aan die kabinet maak om 'n spesiale­ fonds vir hierdie doel te skep, het Jooste in sy bespreking gesê.

In 'n poging om korrupsie vas te vat, gaan meer spesiale ondersoeke na moontlike ongerymdhede gedoen word. Dit sal egter nie net op korrupsie gemik wees nie, sê hy, maar ook om bestuurs- en beleidsfoute, asook strukturele gebreke uit te wys.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer