Soeter as heuning
Sonder bye kan bestuiwing nie plaasvind nie, wat uiteindelik 'n reusetekort aan kos kan veroorsaak.
Tanja Bause - Namibië het tans sowat 10 byeboere wat heuning vir verkoop lewer.
Een van die bekendstes is seker Roland zu Bentheim van Imkerei Bentheim in Windhoek.
Roland is in Windhoek in Elisabeth Haus gebore, wat nou deel van die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) is.
Hy was tot in graad 9 'n leerling aan die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS) in Windhoek.
“Ek is toe vir twee jaar se diensplig weermag toe voor ek Duitsland toe is,” sê hy.
“In 1998 het ek terug Namibië toe gekom omdat my pa, Moritz, siek geword het. Ek het hom versorg totdat hy oorlede is. Ná sy dood het ek sy byeboerdery oorgeneem. Ek het hom van kleindag af al met die bye gehelp en gekyk wat hy doen.”
Moritz het tydens die Tweede Wêreldoorlog vir die eerste keer in Saint Lucia in Suid-Afrika met bye te doen gekry.
“My pa het daar geleer hoe om met bye te werk, en aan die begin van die vyftigerjare het hy met bye in Namibië begin boer en heuning gemaak. Ek is net spyt hy is so vroeg oorlede en ek kon nie meer by hom leer nie.”
Moritz se verjaardag was op 29 Oktober, en dít is waarom Roland dié dag tot Nasionale Byedag verklaar het.
“Wêreldbyedag word op 20 Mei gevier. Dié datum is gekies omdat dit Anton Jansa se verjaardag was.
Hy het in die 18de eeu moderne byeboerderytegnieke in sy geboorteland, Slowenië, bekend gestel en bye besing vir hul vermoë om hard te werk en min aandag kort. My pa was 'n pionier in Namibië, dus het ek gedink sy verjaardag is gepas.”
Roland het aanvanklik ook ander werk gehad terwyl hy met bye geboer het.
“Dit was baie moeilik, want ek kon byekorwe net nauurs verwyder en dikwels was hulle reeds weg, of mense het hulle vernietig teen die tyd wat ek daar kon uitkom.”
Volgens Roland het mense bye dikwels vergiftig of uitgebrand om by die heuning uit te kom.
“Ek het in 2000 my werk bedank om my byeboerdery voltyds te bedryf.”
Roland verwyder nie net byekorwe nie, maar skep ook bewustheid van dié belangrike bestuiwer.
“Ek sien 'n verandering in mense se houding teenoor bye. Hulle is nou meer geneig om my te bel sodat ek korwe veilig kan verwyder. Plaagbeheermaatskappye skakel my ook. In die verlede het hulle eenvoudig gif gebruik.”
Dié byeboer het tans 20 byekorwe op 'n plaas buite Windhoek.
“'n Byeboer moet altyd en gereeld na sy bye gaan kyk om seker te maak hulle is nie siek, of daar indringerinsekte is nie, en dat hulle genoeg kos en water het. Sonder dié versorging sal geen heuning of was gelewer word nie.”
Roland verkoop nie net heuning by biomarkte in Windhoek nie, maar ook was en propolisprodukte.
“Heuningkoeke word gesmelt en gesif tot dit skoon is.
“Die was word dan in vorms gegiet sodat dit kan afkoel. Die was kan in salf gebruik word, as skoen- of meubelpolitoer of in kerse. In die ou dae het die Egiptenare was met onder meer propolis gemeng en gebruik om farao's te mummifiseer,” sê hy.
Die mengsel van bome se sap en bye se afskeidings, asook was word propolis genoem.
Dit dien as beskermende laag om byekorwe.
“Hulle gebruik propolis in die winter om hul korwe dig te maak en koue uit te hou. Propolis help bye se immuunstelsel en beskerm hulle teen bakterieë.
“Soms dring insekte of muise die korf binne en sal die bye op die indringer toesak en hom met propolis en was probeer bedek. Die dier of insek sterf en word dan gemummifiseer.”
Volgens Roland kan die mens alles gebruik wat bye produseer.
“Daar is tans ongeveer 500 byeboere in die land, waarvan sowat 50 in die Windhoek-omgewing is. Daar is seker net 20 wat meer as 10 byekorwe het, en 10 wat heuning vir verkoop lewer. Die ander maak net heuning vir hul eie gebruik.”
Roland moedig Namibiërs aan om bye te ondersteun.
“Plant blomme of kruie sodat hulle kos het – veral nou tydens die droogte. Skakel my as jy 'n swerm bye gewaar sodat ek hulle veilig kan verwyder. Heuningbye bestuif tot 80% van die wêreld se plante. Sonder hulle sal daar onder meer amper geen appels wees om te eet nie,” sê hy.
Bestuiwers is van kardinale belang in die produksie van tot 75% van alle gewasse, vrugte, neute, sade en eetbare olies.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie