Soewereine welvaartfonds, die ontwykende droom
Soewereine welvaartfonds, die ontwykende droom

Soewereine welvaartfonds, die ontwykende droom

Die fonds kan ontstaan uit onder meer bateverkope, tantieme wat uit mineraalontginning ingevorder word, privatise­ring van semi-staatsinstellings en openbare-private vennootskaps­ondernemings.
Mathias Haufiku
Mathias Haufiku – Namibië is een van vier lande wat geskeduleer is om sy soe­wereine welvaartfonds (SWF) vanjaar van stapel te stuur. Namibië sal by die bestaande 161 fondse aansluit, het 'n jaarlikse wêreldwye verslag oor welvaartfondse onthul.

Die ander drie nasies is die Bahamas, Mosambiek en Israel, volgens die Global Sovereign Wealth Fund 2022-verslag.

Global SWF is 'n omvattende dataplatform wat al die wêreld se soewereine welvaartfondse en staatspensioenfondse monitor. Die jaarverslag deur Global SWF het data van 161 soewereine welvaartfondse en 275 staatspensioenfondse ontleed.

Hoewel die besonderhede nog skraps is oor hoe die fonds begin, gefinansier en bestuur sal word, is voorspellings dat die Namibiese fonds sy visier kan instel op bateverkope en tantieme wat ingesamel word uit mineraalontginning, privatisering van semi-staatsinstellings en openbare-private vennootskapsondernemings tussen plaaslike en buitelandse besighede.

Die plaaslike ekonoom Salomo Hei het gesê die land se model van implementering sal die voordele daarvan bepaal.

“Die soewereine welvaartfonds word al 'n tyd lank bespreek en dit sal interessant wees om die finansieringsmeganisme daarvan te verstaan. Die voordele van 'n SWF is massief, veral tydens ekonomiese swaar tye en pandemies, maar dis hoe en wanneer jy dit vestig wat interessant sal wees,” het hy gesê.

Hei, wat die besturende direkteur van Makalani Fund Managers is, sê lande met 'n begrotingsoorskot is geneig om die saadkapitaal tydens produktiewe groeisiklusse te voorsien.

“Oor die algemeen is lande wat SWF's suksesvol geloods en bestuur het lande wat besitreg van hul minerale het. Noorweë is 'n goeie voorbeeld en hul SWF is een van die suksesverhale.”

Op 'n kontinentale skaal opper die verslag 'n paar voorbehoude oor die stigting van soewereine welvaartfondse.

“Die proses om 'n soewereine welvaartfonds in Afrika te vestig, is egter belaai met probleme vanweë swak bestuur, 'n gebrek aan menslike hulpbronkapasiteit en min geleenthede,” lui die verslag.

Die beplande stigting van die Namibiese fonds is een van die eerste doelwitte van die Harambee-voorspoedplan II. Die aanbeveling om 'n welvaartfonds te loods, is deur die hoëvlakpaneel oor die Namibiese ekonomie gemaak.

Die minister van finansies, Iipumbu Shiimi, het verlede jaar gesê Namibië se welvaartfonds sal teen einde 2021 van stapel gestuur word. Dit het nie gerealiseer nie.

Afrika het tans 30 SWF's of subfondse, waarvan die meeste relatief klein is, met 'n gesamentlike welvaart van US$98 miljard (N$1,6 triljoen).



SAADFONDSE

Namibië se SWF sal begin word met fondse wat ingesamel is deur die privatisering van staatsondernemings sowel as inkomste uit die land se deel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU) se inkomstepoel, tantieme uit die ontginning van diamante en ander minerale, visserykwotas en opbrengs uit die groen hernubare sektor.

Dis onduidelik watter gedeelte van hierdie inkomstebronne die SWF sal opslurp.

SACU-tariewe verteenwoordig tans 30-40% van die totale fiskale inkomste en om dit aan die welvaartfonds toe te deel, sal 'n uitdaging vir pogings tot fiskale konsolidasie wees.

Ten spyte van 'n verbeterde vooruitsig in die komende jare wat inkomste 'n hupstoot behoort te gee, het ekonome gewaarsku dat enige oordrag van inkomste-genererende bates en inkomste na die beoogde welvaartfonds pogings sal stuit om die begrotingstekort te verminder en die staatskuld wat bo 60% van die GDP gestyg het, te begin aanpak.



SOE-KONTANTKOEIE

Daar is ook sprake dat die regering beplan om meer as 20 semi-staatsinstellings te privatiseer, met die opbrengs wat na die welvaartfonds gerig sal word.

Die grootste van hierdie bates is MTC Namibia – die land se grootste telekommunikasiemaatskappy met 'n markaandeel van 90%.

MTC het verlede jaar 'n belang van 49% op die plaaslike beurs genoteer, wat N$2,5 miljard van die geteikende N$3,1 miljard gegenereer het.

Die HLPNE het in 2020 aanbeveel dat NamPost, die Namibië Instituut vir Patologie (NIP), Meatco, Namibia Wildlife Resorts en Namport in mede-eienaarskap as gesamentlike ondernemings met die private sektor besit kan word; die nasionale spoorwegmaatskappy TransNamib kan geprivatiseer word of gesamentlike ondernemings vorm en dat Air Namibia gelikwideer en omskep word in 'n streeklugredery onder beheer van die Nasionale Lughawensmaatskappy (NAC). Die nasionale lugdiens is wel intussen gelikwideer.

Die SWF sal waarskynlik in binnelandse groenenergie-infrastruktuur belê sowel as om dit te gebruik om inkomste te laat groei.

Die ontwikkeling van sonenergie is in 'n ontluikende stadium, maar is 'n sleutelaspek van die HPPII gegewe die land se hoë potensiaal in die sektor en word beskou as noodsaaklik vir die doelwit van 'n tienvoudige toename in opwekkingskapasiteit teen 2030.

– Bykomstige verslaggewing van Global SWF

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!