Sokrates herleef in teater van absurde
Sokrates herleef in teater van absurde

Sokrates herleef in teater van absurde

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Wat 'n dramatiese oomblik was dit nie toe die 72-jarige Bosniese Kroaat, Slobodan Praljak, Woensdag in die wêreldhof in Den Haag verklaar: “Ek is nie 'n oorlogsmisdadiger nie!”, 'n flessie gif na sy mond bring en dit sluk.

Dié oudbevelvoerder van die Bosnies-Kroatiese magte het die gif gedrink sekondes nadat 'n regter van die Verenigde Nasies sy vonnis van 20 jaar vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom bevestig het. Hy het kort daarna gesterf.

My eerste reaksie toe ek op Facebook na 'n video van die gebeure kyk, was: “Aha. . . Sokrates!” Dit is presies wat dié Griekse filosoof in 399 v.C. gedoen het toe hy in die stadstaat Athene skuldig bevind is aan goddeloosheid en morele korrupsie toe hy grondverskuiwende politiek-filosofiese vrae aan die orde gestel het.

Praljak het met sy grys hare en woeste baard nie net soos Sokrates gelyk nie, maar was as filosoof en teaterman in sy vooroorlogse lewe waarskynlik ook intiem bekend met die lewe van Sokrates.

Die groot denkfout wat Praljak in sy nabootsing van Sokrates gemaak het, is dat laasgenoemde nooit enige wandaad of oorlogsmisdaad begaan het nie. Inteendeel, sy vrae oor wat goed, reg en regverdig is, rig vandag nog ons denke. Die Sokratiese dialoog is millennia later steeds die onderbou van die kennisleer.

Het ons maar die antwoorde op hierdie tergende vraagstukke geken, sou die geskiedenis van die mensdom dalk merkwaardig anders verloop het. Verder het Sokrates nooit daarop aanspraak gemaak dat hy die antwoorde ken nie. Inteendeel. “Die enigste iets wat ek weet, is dat ek niks weet nie,” het hy verklaar.

Terug tot Den Haag: Hierdie was die laaste saak in die internasionale strafhof se verhore oor die gebeure in die voormalige Joego-Slawië. Die regter het Praljak en vyf ander politieke en militêre leiers vonnisse van tussen 10 en 20 jaar opgelê vir hul aandeel aan die voormalige Kroatiese president Franjo Tudjman se plan om tydens die Balkan-oorlog 'n Kroaties-beheerde ministaat in Bosnië te vestig. Dit het tot die dood, marteling en deportasie van duisende Moslems gelei.

Benewens Praljak se Sokratiese nabootsing, was Woensdag se gebeure vir my ook om 'n ander rede aangrypend.

Op dag en datum 'n jaar gelede het ek 'n blik gekry op die lewe van 'n Moslem-vrou wat as kind saam met haar gesin voor Praljak en kie. se magte moes vlug.

Emira Eskic, 'n TV-joernalis van Sarajevo in Bosnië, het saam met my 'n mediakursus in die buiteland bygewoon toe sy my een aand in die hotel waar ons tuis was van haar tragiese kinderlewe vertel het.

Sy was 5 jaar oud toe die Bosniese Kroate in die vroeë negentigerjare hul dorp aangeval, mans vermoor en vroue verkrag het. Haar pa het die gesinslede aangesê om elk 'n klein sak te pak en hulle het te voet voor die vernietiging gevlug. Die gesin het in 'n vlugtelingskamp beland en die res van die oorlog in 'n tent deurgebring.

Toe hulle uiteindelik kon terugkeer huis toe, was daar niks oor nie: Nie 'n stoel, tafel, bed of foto wat aan hul eertydse lewe herinner het nie.

Praljak se mistasting was dat hy en sy mede-oorlogsmisdadigers juis die gespreksreël van die Sokratiese dialoog geminag het.

Sokraties se pleidooi was om te praat, te luister en nooit op te hou om vrae te vra nie.

Slegs met dié model stuur die mens van konflik weg en vind sinvol die oplossing.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!