Somer ná die reën

Lloyd Zandberg
Die geliefde sanger en musikant Joshua na die Reën het vroeg in 2019 die eerste enkelsnit vir sy album Someraarde, getiteld “Soos in nou”, vrygestel en aanhangers en radiostasies kon nie genoeg daarvan kry nie.

Dié liedjie het binne weke die nommer een-posisie op trefferparades landswyd ingeneem.

Kort daarná is die album vrygestel, wat ook dadelik nommer een op die SA iTunes-trefferparade ingeneem het.

Vandeesmaand stel hy sy tweede enkelsnit, “Soos die wind”, aan radiostasies landswyd bekend.

Die musikant, wat bekend is vir sy rustige fluweelstem, het sy nuutste album self vervaardig.

Hy het moeite gedoen om die mooiste melodieë en lirieke met ’n interessante kombinasie van kontemporêre en pop-klanke te verweef om ’n treffende eindresultaat te verseker.

“Ek het baie tydens die opnameproses geleer. Op hierdie reis het ek mense ontmoet wat soveel meer ingeploeg het as wat van hulle verwag is. Ewald Jansen van Rensburg het die klankvermenging gedoen en dit was een van die projekte in my lewe wat werklik geen moeite was nie, want dis lekker as jy mense so kan vertrou. Andy Maritz het die dromvervaardiging gedoen en ek sê dikwels vir hom hy het die album gered,” sê hy.

Altesaam 11 oorspronklike snitte, waarvan een, “Vlieërs”, ’n duet is met die opkomende ster Liani Reynolds, neem aanhangers op reis deur die verskillende emosies van menswees en beloof om hul aandag van begin tot einde te hou en direk met die siel te praat.

Die radioweergawe van die treffer “Soos in nou” verskyn as bonussnit op die album.

Die kunstenaar bekoor luisteraars reeds sedert die vrystelling van sy debuutalbum, Joshua na die Reën, in 2014. Sedertdien het hy al verskeie toekennings ingepalm en was hy by TV-programme en veldtogte betrokke.

Hy het die verhoog al met gesoute kunstenaars soos onder meer Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen en Die Heuwels Fantasties gedeel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer