Somer, son, see . . . en samesyn
Kersfees, familiefees, liefdefees
Wat is lekkerder as ’n Kersvakansie by die see?
Dae wat ruik na seewier en koskosneut-sonbrandolie, met die vrolike gelag van die kinders wat op die skuimkuiwe van die branders strand toe gedra word.
Dit is die tyd van samesyn en son, van lafenis en liefde. Dit is somer en Kersfees.
Beplan nou al jou Kerstafel en gee jou kreatiwiteit vrye teuels. Onthou, ’n vrolike Kerstafel hoef jou nie ’n fortuin te kos nie. Verf interessante botteljies in somer-pastelkleure, bind ’n strikkie om, druk ’n blom of twee daarin en siedaar! En wie sê die Kersboom moet groen wees? Mooi, droë takke kan so turkoois soos die see geverf word. Bind ’n klomp rooi strikkies daaraan vas en verras jou geliefdes met jou unieke boom.
Span die kinders in om patrone in deurgesnyde aartappels te kerf, gooi verskillende kleure verf in pierings en laat hulle die patroondrukkers gebruik om gewone bruinpapier daarmee te versier en as geskenkpapier te gebruik.
Vergeet hierdie jaar van ’n warm Kersete en bederf jou mense met ’n koue voorgereg, en ’n hoofmaal van verskillende kouevleise en interessante, vars slaaie. En wat is Kersfees dan nou sonder koekstruif? Laasgenoemde asook die vleisdisse kan vooraf berei word en op Kersdag net gesny en voorgesit word. So spaar jy jou gesin die moeite om ná almal lekker weggelê het, agter die opwasbak in te skuif om met ’n wavrag vuil kastrolle klaar te speel.
Hier is ’n paar resepte om as die basis vir jou Kersspyskaart te gebruik:
Resepte:
Papaja- en lietsjievoorgereg
(Bedien 8)
Bestanddele
1 papaja
125 g ham in blokkies gesny
200 g fetakaas
1 blik (310 g) lietsjies, gedreineer en in kwarte gesny
Sous
250 ml suurroom
250 ml ongegeurde jogurt
125 ml mayonnaise
Gedroogde dille
suurlemoenpeper
Maak só
Kombineer die suurroom, jogurt en mayonnaise. Geur na smaak met dille en suurlemoenpeper.
Skil die papaja, verwyder die pitte en sny in agt skywe. Plaas ’n skyf papaja op elke kleinbordjie. Gooi ’n bietjie van die sous in die middel van die papaja en op die bordjie.
Rangskik die gekapte ham, fetakaas en gedreineerde lietsjie-kwarte bo-op die sous.
Gerookte ham vir die Kerstafel
(Bedien 8 tot 10)
Bestanddele
1 gerookte ham ("gammon")
6 biere (hoogstens)
Mosterdpoeier
Heel peperkorrels
2 lourierblare
naeltjies
Glaseersel
1 blikkie (330 ml) bier
2 eetlepels bruinsuiker
2 eetlepels heuning
2 teelepels mosterdpoeier
Maak só
1 Sit die varkboud in ’n groot houer van vlekvrye staal of glas en gooi genoeg water by om die boud te bedek. Laat dit vir minstens ’n uur lê om die sout te tem.
2 Haal die boud uit die water, droog dit af, sit dit in ’n groot kastrol en gooi genoeg bier in om die vleis te bedek. Verhit die kastrol tot kookpunt en laat dit vir ’n kwartier kook. Laat die boud in die bier afkoel.
3 Skep die boud uit die bier en besprinkel dit oraloor met mosterdpoeier. Sit die boud op aluminiumfoelie (teen die blink kant), voeg sowat 5 peperkorrels en die lourierblare by, en vou die foelie toe.
4 Sit die boud, vetkant na bo, in ’n oondpan en bak dit vir ’n kwartier per 500 g in ’n oond teen 160°C.
5 Haal die boud uit die oond, verwyder die foelie en sny die vetlaag af sodat net ’n dun lagie oorbly. Sny ’n diamantpatroon in die oorblywende vet. Druk ’n heel naeltjie in elke tweede diamantvorm.
6 Meng die glaseerselbestanddele en skep die helfte daarvan oor die boud. Bak die boud vir 40 minute in die oond teen 160°C. Bedruip dit deurentyd met glaseersel.
7 Laat die boud afkoel en sit dit in skywe voor met verskillende slaaie as bykos.
Spanspekslaai
(Bedien 4. Verdubbel indien nodig.)
Bestanddele
’n Paar slaaiblare
500 ml spanspekblokkies of -balletjies
250 ml perskes, in blokkies gesny (vars of geblik)
250 ml komkommer, in blokkies gesny
Slaaisous
200 ml ongegeurde jogurt
2 ml suurlemoensap
10 ml heuning
5 ml gekapte kruisement
Maak só
Plaas die slaaiblare in ’n slaaibak. Kombineer die spanspek, perskes en komkommer. Plaas bo-op die slaaiblare.
Meng al die bestanddele vir die slaaisous en gooi oor die slaai. Verkoel.
Kersfees-koekstruif
(Bedien 8 tot 10)
Bestanddele
Bessiejellie
250 ml strooisuiker
200 ml water
200 g gemengde bessies (vars of bevrore)
5 ml gelatien
15 ml koue water
Vla
2 eiers
2 eiergele
140 g strooisuiker
45 ml koekmeel
25 ml mielieblom
5 ml vanieljegeursel
500 ml melk
Om saam te stel
250 g konfytrol
Brandewyn of soetwyn
200 g vars bessies (frambose, braam- of bloubessies of ’n mengsel)
100 g geroosterde amandels, gekap (opsioneel)
375 geklopte room en ekstra vars bessies (opsioneel)
Maak só
Berei die bessiejellie: Verhit strooisuiker en water in ’n kastrolletjie en roer totdat die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en prut vir 5 minute. Verwyder van die hitte en voeg die bessies by. Laat staan tot afgekoel en verwerk tot glad. Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan tot gespons. Smelt in die mikrogolf en roer by die bessiepuree.
Berei die vla: Klits die eiers, eiergele en strooisuiker saam tot lig en dik. Klop meel en mielieblom by. Verhit melk en voeg by die eiermengsel terwyl jy klop. Sit dit terug op die plaat en bring stadig tot kookpunt terwyl jy dit aanhoudend klits. Die vla sal verdik en gaar word. Voeg die vanieljegeursel by en verwyder van die hitte.
Om saam te stel:
Sny die rolkoek in skyfies en pak die helfte op die bodem van ’n opdienbak van glas. Sprinkel brandewyn of soetwyn bo-oor, gevolg deur ’n laag vars bessies, bessiejellie en laastens vla. Sprinkel nou die helfte van die geroosterde amandels (indien gebruik) oor. Herhaal die lae en eindig weer met vla (en amandels). Jy kan die koekstruif nou net so voorsit of dit nog meer dekadent maak en met geklopte room en ekstra vars bessies versier voordat jy dit voorsit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie