Somer sonder swem
Somer sonder swem

Somer sonder swem

’n Rusie oor geld het daartoe gelei dat openbare swemgeriewe in die hoofstad gesluit is.
Denver Kisting
Denver Kisting – Windhoekers se openbare swembaddens is toe, omdat daar tans geen lewensredders beskikbaar is nie.

Dit bring mee dat inwoners en besoekers, wat in die hoofstad se openbare swembaddens lafenis sou wou soek, voor dooiemansdeur sal beland.

’n Bondige verklaring by die ingang van die swembad in Olympia, in veelvoud gedruk, lui: “Neem asseblief kennis: Die swembad sal vir die publiek gesluit wees weens geen lewensredders. Ons vra om verskoning vir ongerief.”

Republikein verneem op goeie gesag brandweerpersoneel, wat tot onlangs aanvullend diens gedoen het as lewensredders, het die streep getrek.

Die doring in hul vlees is dat die Windhoekse stadsraad (CoW) hulle nie wil betaal vir dié ekstra werk op die skaal van hul poste nie.

Die brandweerpersoneel is nie hiervoor te vinde nie.

Twee lesers het gister op die koerant se “Praat Saam”-blaaie hul misnoeë met die stand van sake te kenne gegee.

Een wou weet: “Hoe op aarde is dit moontlik dat die openbare swembad in Olympia wéér toe is? Weens die feit dat daar geen lewensredder beskikbaar is nie? Weer? Wie is verantwoordelik vir hierdie gemors? Dit is regtig onaanvaarbaar! CoW, verduidelik! Baie dankie!”

CoW het die afgelope week by monde van mnr. Harold Akwenye, sy woordvoerder, ontken daar is ’n geskil binne sy departement van ekonomiese ontwikkeling en gemeenskapsdienste, waaronder die brandweer en ontspanningsdienste val.

Maar, sê Akwenye, die besluit om die oortyd vir lewensredders kragtens die salarisskaal van ’n lewensredder te betaal, is geskoei op ’n posevaluering. “Dit beteken alle lewensredders se oortydeise word uitbetaal kragtens die posvlak van ’n lewensredder ongeag die posvlak van die werknemer.”

Akwenye sê CoW is terdeë bewus van die risiko’s om die swembad oop te maak sonder lewensredders en sal derhalwe geen kanse waag nie.

Hy gee geen aanduiding oor tydsduur nie, maar beklemtoon die huidige toedrag van sake sal geld solank daar geen lewensredders is nie.

Volgens Akwenye is vier permanente lewensredderposte geskep en in die huidige boekjaar goedgekeur.

Vanweë die finansiële verknorsing is die verwagting egter dat net twee van dié poste vroeg in 2019 geadverteeer sal word “om die tekortkoming van lewensredders by swembaddens uit te wis (sic)”.

Volgens Akwenye het verskeie mense die afgelope klompie jare amper verdrink, maar is betyds gered.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!