Somerson vir Joshua

Die gewilde Joshua na die Reën se splinternuwe en derde studio-album, Someraarde, is op 12 April op alle digitale platforms vrygestel en het dieselfde naweek die topposisie op die SA iTunes-trefferparade bereik.

“Someraarde is gebaseer op die titelsnit wat ek vir my ouboet, Pierre, geskryf het. Vandat ek kan onthou, was sy hoop vir die wêreld dat almal genoeg sal hê om van te leef en dat daar vrede sal wees. Dat mense hul volle potensiaal sal ontdek. Ek het besef jy kan daardie plek net binne jouself vind, en as dit ’n naam gehad het, sou myne Someraarde gewees het,” verklap hy.

Die musikant, bekend vir sy rustige fluweelstem, het sy nuutste vrystelling self vervaardig.

Hy het moeite gedoen om die mooiste melodieë en lirieke met ’n interessante kombinasie kontemporêre en pop-klanke saam te weef om ’n treffende eindresultaat te verseker.

“Ek het baie tydens die opnameproses geleer. Op hierdie reis het ek mense ontmoet wat soveel meer ingeploeg het as wat van hulle verwag is. Ewald Jansen van Rensburg het die klankvermenging gedoen en dit was ’n spanpoging wat werklik geen moeite was nie. Dis lekker as jy mense so kan vertrou. Andy Maritz het die dromvervaardiging gedoen en ek sê dikwels vir hom hy het die album gered,” sê hy.

Anders as met die vorige album, Die Wêreld Binne My, wat gegaan het oor die wêreld binne elkeen wat daarna luister, moedig sy derde ateljee-album luisteraars aan om vrede in hulself te vind.

Die genre is steeds stadium rock, maar afgesien van die kenmerkende kontemporêre styl is daar ook interessante pop-elemente in van die liedjies, wat tot die splinternuwe klank bydra wat hy graag wou skep.

Elf oorspronklike snitte, waarvan een, “Vlieërs”, ’n duet is met die opkomende ster Liani Reynolds, neem aanhangers op reis deur die verskillende emosies van menswees en beloof om hul aandag van begin tot einde gevange te hou en direk met die siel te praat.

Die radioweergawe van die treffer “Soos In Nou” verskyn ook as bonussnit op die album.

Hoewel hy nie een liedjie as gunsteling wil uitsonder nie, glo hy luisteraars gaan baie van “Branders” hou omdat dit hom ook na aan die hart lê.

“Ek het besef soos die lewe aangaan en ’n mens ouer word, leef almal eintlik maar vir Desember. Toe ek dus in Desember 2017 op die strand sit en na die branders kyk, besef ek hulle weet alles van my af. Ek stort immers gereeld my hart voor hulle uit. Net so beskou ek ook die mense wat naby my loop as branders wat die geheime van my hart dra.”

“Soos In Nou”, die eerste vrystelling van dié album af, is baie goed deur die publiek en radiostasies ontvang en pryk op verskeie radiostasies se trefferparades.

Dié enkelsnit, uit die musikant se eie pen, is geïnspireer deur sy liefde daarvoor om te filosofeer oor die lewe, asook deur die soeke na rigtingwysers op die lewenspad, wat aandui verandering is nodig, asook die besef dat jy die dinge moet laat gaan wat jou terughou.

“Ek ervaar die lewe soms taamlik intens. Wanneer ek bly is, voel ek régtig bly, maar wanneer ek af voel, sukkel ek soms om van dinge sin te maak. Op een of ander manier delf ek in daardie tye deur die bogrond van my siel en kom dan darem uit by dit wat onder dit lê,” verduidelik hy.

’n Musiekvideo vir hierdie treffende snit sal ook binnekort beskikbaar wees.

Joshua na die Reën bekoor luisteraars reeds sedert die vrystelling van sy debuutalbum, Joshua na die Reën, in 2014.

Sedertdien het hy al verskeie musiektoekennings ingepalm, waaronder verskeie Ghoemas (Joshua na die Reën), ’n Huisgenoot Tempo-toekenning, ’n Sama-toekenning (Die Wêreld Binne My) en ’n Woordfees-toekenning ingepalm en temaliedjies vir verskeie flieks, onder meer “Vir Altyd” (vir die lokettreffer met dieselfde naam) en “Voshaarnooi” (vir die lokettreffer Ballade vir ’n Enkeling), televisieprogramme en –veldtogte gekomponeer.

Afgesien van Huisgenoot Skouspel en Gospel is Groot, het dié veelsydige ster ook al die verhoog met gesoute kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen, Die Heuwels Fantasties en verskeie ander gedeel.

Joshua na die Reën hoop om met sy liedjies en lirieke emosies wakker te maak wat mense al vergeet het om te ervaar en hulle daaraan te herinner dat dit goed is om daardie emosies te voel.

SNITTE OP SOMERAARDE

Soos in Nou

Sterrenet

Someraarde

Wandel

Vlieërs (duet met Liani Reynders)

Branders

Chamonix

Soos die Wind

Suiderkruis

Sweef

Onbekende Reis

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer