Son breek deur wolke in wu00eareldekonomie
Son breek deur wolke in wu00eareldekonomie

Son breek deur wolke in wêreldekonomie

'n Verbetering in die internasionale ekonomiese vooruitsigte bring nuwe hoop, maar skuldvlakke bly 'n bron van kommer.
Die wêreldekonomie is besig om stadig maar seker spiere te bou. Die herstel is die breedste sedert die begin van die dekade.

Groot probleme soos ongelykheid bedreig egter die maatskaplike weefsel, sê Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

“Ons sien 'n bietjie son deurbreek, maar dis nie 'n helder lug nie.”

Lagarde het Donderdag in 'n toespraak by die ­Harvard-Universiteit gesê die IMF se kwartaal­likse vooruitskatting oor die wêreldekonomie “sal selfs meer optimisties” wees wanneer dit ­volgende week uitgereik word. Die IMF reik sy vooruitsig op sy jaarvergadering op 10 en 11 Oktober uit.

Die fonds het in Julie wêreldgroei van 3,5% vir 2017 en 3,6% vir 2018 voorspel.

'n “Sikliese verbetering” in investering en handel in gevorderde ekonomieë, veral in Europa en Japan, skep beter as verwagte groei, sê Lagarde.

Amerikaanse groei sal ook vanjaar en in 2018 verbeter, maar die vooruitsig is veranderlik gegewe die onsekerheid oor pres. Donald Trump se belastingplan.

Ekonomiese groei verbeter in nagenoeg 75% van die wêreld.

Asiatiese markte bly sterk, aangevoer deur China en Indië.

Daar is 'n matige verbetering in groei in hulpbronuitvoerlande en ontluikende lande in Afrika suid van die Sahara en ­Latyns-Amerika.

Lagarde waarsku dat sommige lande se hoë skuldvlakke en “buitensporige risikoneming” op finansiële markte risiko's skep.

Volgehoue lae ekonomiese groei sedert die einde van die finansiële krisis in 2008 het ongelykheid vasgelê en ook gewys dat die wêreld sukkel om by tegnologiese veranderinge en wêreldwye integrasie aan te pas.

“Ons maatskaplike weefsel rafel uit en baie lande ervaar al hoe meer politieke polarisasie.”

Ministers van finansies van die IMF se 189 lid­lande kom volgende week in Washington byeen. Die gees sal dalk optimisties wees omdat Trump nog nie die handels­versperrings deurgevoer het waarmee hy vroeg in sy termyn gedreig het nie.

Dit sluit in invoertariewe op staal en strawwe vir Amerikaanse maatskappye met oorsese fabrieke.

Die VSA is wel steeds besig om die Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms en 'n handelsooreenkoms met Suid-Korea te heronderhandel.

Intussen het 'n party wat teen immigrasie gekant is, in Duitsland steun gewerf, hoewel dr. Angela Merkel se Christelik-Demokratiese Unie aan bewind gebly het. Dit onderstreep die beweging teen globalisering.

Lagarde sê ­sentrale banke in ontwikkelde lande moet baie duidelik oor hul planne wees en rentekoerse geleidelik tot meer “normale vlakke” verhoog om wisselvalligheid op markte te beperk. Geleidelike verhogings sal ook keer dat ekonomiese groei weer omgekeer word.

Lande met gesonde staatsfinansies soos Duitsland en Suid-Korea moet meer in hul eie ekonomie belê, reken sy.

Lande moet ook hul produktiwiteit probeer verhoog, wat lone mettertyd sal laat styg. Rompslomp moet verminder word en besteding aan navorsing, ontwikkeling en infrastruktuur moet verhoog word.

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!