Sonder Trump en kie u2018kan Davos by werk uitkomu2019
Sonder Trump en kie u2018kan Davos by werk uitkomu2019

Sonder Trump en kie ‘kan Davos by werk uitkom’

’n Veteraanjoernalis meen dis ’n goeie ding, want dan kan die res meer gefokus wees.
Francois Williams, Reuters en Bloomberg – Emmerson Mnangagwa, Zimbabwe se president, bevind hom vandeesweek in die hoë kringe van wêreldleiers soos pres. Donald Trump van die VSA, pres. Xi Jinping van China, Theresa May, premier van Brittanje, en pres. Emmanuel Macron van Frankryk.

Hy ry saam met hulle in Jan Tuisbly se karretjie, want nie een van hulle gaan Davos toe nie.

Maar die veteraan-aanbieder van CNN, Richard Quest, meen dis straks ’n goeie ding dat die “groot sterre” nie vandeesweek die Wêreld- Ekonomiese Forum se jaarberaad in die Switserse ski-oord Davos bywoon nie, want die res kan dan meer gefokus wees op werk.

Quest meld wel dat Trump die beraad sou kon benut om nuwe lewe in sy presidentskap te blaas. Die Davos-beraad lok vanjaar sowat 3 000 politieke, sake- en intellektuele leiers van oor die wêreld heen om te debatteer en oplossings vir probleme te vind. Volgens Quest sou Trump die geleentheid kon benut om die inisiatief terug te wen nadat sy regering in bekrompe kwessies verval het.

Trump kon volgens Quest tot dusver in sy presidentskap hom beroem op ’n Amerikaanse ekonomie wat steeds voorloop, met ’n stygende aandelemark en stewige groei in indiensneming.

Maar met die Demokrate wat die Kongres beheer, is Trump nou veels swakker as ’n jaar gelede. Die vooruitsigte vir die Amerikaanse ekonomie lyk ook donkerder, met die regering se begrotingstekort van meer as $1 000 miljard, ’n aandelemark wat rekordvlakke van wisselvalligheid beleef het in die afgelope paar weke, en China wat Amerikaanse staatseffekte verkoop.

Die Davos-beraad se tema is vanjaar Globalisation 4.0, maar ironies genoeg is die rede vir veral Trump en May se wegbly-aksies juis die uitdagings in hul eie agterplaas met ’n teenglobalisering-ondertoon.

Quest verwys selfs na die kredietgraderingsagentskap Fitch wat onlangs gewaarsku het hy gaan dalk Amerika se AAA-beleggingsgradering moet afskuif.

Trump kan nie die Davos-beraad bywoon nie, want sy regering is nog effektief gesluit omdat Demokrate en Republikeine in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers nie oor begrotingsgoedkeurings ooreen kan kom nie. Trump het sommer sy hele regeringsafvaardiging aan Davos onttrek, hoewel daar steeds ’n groot kontingent van Amerikaanse maatskappye die elite-byeenkoms gaan bywoon.

May is op haar beurt besig om plaaslike vure dood te slaan nadat haar voorstel oor Brittanje se onttrekking aan die Europese Unie deur haar parlement verwerp is.

Xi het tans waarskynlik belangriker dinge om aan te werk as hoof van die tweede grootste ekonomie in die wêreld, met syfers wat wys China se ekonomie het in die hele 2018 met 6,6% gegroei – die stadigste sedert 2009.

Macron is ook besig met goed wat vir hom belangriker is, soos die ondertekening van ’n verdrag met Duitsland Dinsdag om nouer politieke en ekonomiese samewerking te bewerkstellig, en die geelhemp-protes tuis.

Mnangagwa het heelwat probleme tuis nadat onrus uitgebreek het oor sy skerp verhoging van brandstofpryse ’n week gelede.

Die Davos-beraad se tema is vanjaar “Globalisation 4.0”, maar ironies genoeg is die rede vir veral Trump en May se wegbly-aksies juis die uitdagings in hul eie agterplaas met ’n teenglobalisering-ondertoon.

Mark Appleton, hoof van multibatestrategie by Ashburton Investments, sê daar is groeiende weerstand teen globalisering in die wêreld.

Is Davos relevant vir Suid-Afrika? Appleton meen die regering dink duidelik so aangesien ’n hoëvlak-afvaardiging pres. Cyril Ramaphosa soontoe vergesel. Die beraad is ’n ideale markplek om internasionale beleggers te probeer oortuig om in Suid-Afrika te belê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!