Sonder visie, kort rigting
Sonder visie, kort rigting

Sonder visie, kort rigting

[email protected]
Andrew Poolman
Namibië spartel in die diep en rowwe waters van die moderne wêreld waar die getye en die onvoorspelbare strome van verwikkelinge vinnig verander.

Veilige drywende hawens word in ’n oogwink onderwater getrek en die mees onverwagte gevare duik skielik asof van nêrens op om enige gevoel van sekerheid sonder waarskuwing te verpletter.

Voor hierdie jaar nog ’n week oud was, is die Amerika se trotse demokrasie byna deur ’n staatsgreep omver gegooi; Suid-Afrika is deur ’n nuwe vorm van die coronavirus getref en die man vir wie Rusland se leierskap as hul grootste bedreiging sien, vlieg vreesloos terug na sy moederland nadat hy ’n gifaanval oorleef het.

Plaaslik het hierdie jaar reeds die doodsnikke van die nasionale lugredery gebring, en onlangs die burgemeester van die hoofstad en die woordvoerder van die president takel mekaar op sosiale media oor onbetaalde skuld.

Die punt is, dinge verander nou nog vinniger as ooit tevore.

In hierdie soort omstandighede, ondanks die onvoorspelbaarheid, benodig mens steeds ’n plan. Daar moet ’n duidelike visie van die toekoms wees om na te streef. Daar moet rigting wees om almal op koers te kan hou. Namibië het dit nie. Amptelik is ons nog verbind tot Visie 2030. Dit ten spyte daarvan dat ons met skaars nege jaar oor nog nie naby die verwesenliking van die helfte van Visie 2030 se verklaarde doelwitte is nie.

Die ergste is Visie 2030 self. Gevorm in ’n tyd wat verby is, om in te haal op lande wat self nou ver van daai ou mikpunte beweeg het, en sonder enige gedagte aan die impak van verwikkelinge in inligtingkommunikasie, die verandering van geopolitiek, of die ware aard van die Namibiese mense. Visie 2030 is ten harte die droom van buitelanders wat geen wortel in Namibiese grond het nie.

Namibiërs is glad nie van nature fabriekswerkers nie. Goed, ons kan dit aanleer as dit moet, maar ek vra met trane in my oë: Waar pas dit?

Hoekom neem ons toekomsplanne nie ons werklikhede in ag nie? Hoekom kan ons nie bou op die gawes wat die Here ons wel gegee het nie? Is dit onmoontlik om weer te leer hoe om só te boer dat die vee en die wild wemel op die veld en vlaktes soos in die oertye?

Kan ons nie nut maak van ons natuurlike vriendelikheid en gasvryheid nie? Is dit nie moontlik dat ons die goud uit Namibië se dieptes begin hou en daarop bou nie? Hoekom moet ons altyd soos ander probeer wees? Sien niemand hoe kyk die wêreld ons met bewonderende oë nie?

Ons moet ernstig aan ons selfbeeld aandag gee. Hierdie minagting van wie ons is en waar ons vandaan kom, moet ophou! Dit het al so diep gesink dat dit tot in ons drome vloei.

Ek glo dit is een rede hoekom ons leiers so graag soos buitelanders wil wees dat hulle ons eie kultuur, ons eie kuns, ons eie menswees glad nie waardeer nie.

So gemaak en so gelaat staan, sê die spreekwoord, en miskien is daar niks wat ons meer vir ons leiers kan doen nie, en niks meer wat ons van hulle kan verwag nie. Maar ek en jy is nie in daai selfde droom vasgevang nie. Die meeste van ons is eerder in ’n nagmerie van armoede, desperaatheid en swaarkry vasgevang. Ten minste weet ons dat dit die werklikheid is waarin ons lewe, omdat dit te seer maak om fantasie te wees.

Kyk na binne. Wees eerlik oor jou eie tekortkominge. Sien jou sterk punte raak en werk om hulle só te verbeter dat niemand dit beter as jy kan doen nie. So sal jy jouself verlos van hierdie rigtinglose skip van ’n land, of miskien help om Namibië weer op koers te kry.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer