Soos ’n toeris in jou eie land
As daar een goeie ding is wat uit Covid gekom het (en daar is regtig nie veel goeie dinge nie), is dit dat ons as Namibiërs nou die kans het om ons eie land as toeriste te besoek te danke aan die verskeie spesiale aanbiedings wat lodges en toerismediensverskaffers nou bied.
Dis nou te sê as jy ’n paar ekstra dollar kon wegsteek wat jy nie moet gebruik om goed soos skoolfonds, kos en die dak oor jou kop te betaal nie. As jy dalk begin spaar het vir jou voorgenome Desember-vakansie, skryf dit maar op jou maag – die kanse is skraal ons gaan ’n reis buite die land se grense kan aanpak en boonop hou die skole mos tot ’n week voor Kersfees aan.
Ai, as die wanderlust ook maar net bietjie minder wou knaag!
Soos soveel ander Namibiërs (uitgesluit die Erongoniete) het ons met die verslapping van hokmaatreëls so drie weke gelede die kans aangegryp om Namibia Wildlife Resorts se spesiale aanbod te gebruik om ’n bietjie in Etosha te gaan kuier. Was dit nie vir die special nie, is ’n naweek by enigeen van hulle oorde ongelukkig net te duur.
Ons val die Vrydagmiddag saam met vriende uit Windhoek in die pad en kom nog voor sononder by Okaukuejo aan – ons blyplek vir die naweek. Daar is vooraf gereël vir ekstra matrasse vir die kinders, wat toe ook vir ons wag toe ons inboek. Die kamers waarin ons gebly het, word op die oomblik opgeknap. Jy ruik nog sommer die nuwe laag verf wanneer jy inkom.
Maar eintlik is ons nie hier om in die kamer te bly nie – ons wil diere sien. Daardie aand stel die watergat ons glad nie teleur nie, met allerlei diere wat saam met die ander gaste ’n skemerkelkie kom geniet. Dis al donker toe ons vreemde geluide hoor – ja, dis renosters wat ’n bietjie warm onder die kraag raak.
Vroeg die volgende oggend begin ons bietjie rondry tot net duskant Halali. Tussenin draai ons by allerlei watergate in, maar dis spesifiek by Rietfontein wat daar diere-verrassings vir ons wag: Net waar jy kyk is diere. Nou verstaan ek ook hoekom die buitelanders so graag hierdie tyd van die jaar in Etosha wil gaan kuier.
Afgesien van die paaie wat ongelukkig weer (altyd) aandag nodig het en klagtes oor die restaurant se kos (ons het nie self daar geëet nie) en die winkeltjie wat half aan die karige kant gestock is, was ons Etosha-ervaring werklik iets besonders en moedig ek elke Namibiër wat kan, om nóú die kans te gebruik om ’n draai te gaan maak.
Die personeel waarmee ons te doen gehad het, was vriendelik en verwelkomend – ook by die besprekingskantoor in Windhoek.
Nog voor ons begin terug ry het huis toe, het ons besluit dat as ons ’n halwe kans kry en nog ’n paar dollar in ons sakke oor het terwyl die spesiale aanbod beskikbaar is, wil ons sommer gou-gou ’n draai by NWR se kampe in die suide van die land ook maak.
Behalwe dat jy nou die kans kry om ons land se mooi te beleef, ondersteun jy die toerismesektor ook – en hulle het juis nou almal se ondersteuning nodig.
Maak ’n plan en gaan beleef ons mooi land saam.
Happy travels!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie