Sorento 'n staatmaker
Sorento 'n staatmaker

Sorento 'n staatmaker

’n Gesinswa duisend
Jannie Hennop - Dis vreemd hoe ’n hedendaagse ryding jou dekades kan terugneem na die kar waarmee jy leer bestuur het.

Ek het pas Kia se nuwe intreevlak-Sorento getoets en dadelik het herinneringe van my pa se Peugeot 504-stasiewa by my opgekom.

Die Sorento is darem nou al ’n klompie maande met ons, maar Kia het besluit om ’n nuwe intreevlakmodel met ’n dieselenjin beskikbaar te stel.

Die 2.4-literpetrolmodel is steeds daar, maar die lekkerte van die outomatiese diesel kan jy nou vir amper ’n N$100 000 minder as voorheen kry.

Waarom sou dié Sorento my aan my pa se Peugeot 504-stasiewa laat dink?

Ons “Pietjood”, soos my pa die kar genoem het, was destyds ook die intreevlak met die 1800-enjin en sitplek vir vyf mense.

Die luukser tweeliter-504 het Super Seven geheet met twee klein ekstra sitplekkies in die laairuim.

Die Sorento LS het ook net vyf sitplekke, maar sy luukser boeties kry sewe.

Dit is nou nie eintlik net die sitplekke wat my laat terugdink en verlang nie, maar die feit dat die Sorento LS eintlik maar ’n tamaaie stasiewa is wat hoog van die grond af staan sonder enige fieterjasies.

Ons 504 was ook so. Hoog in sy sokkies en tamaai groot laairuim.

Deesdae heet rygoed soos die Sorento sportnuts en tot ’n mate veeldoeler, maar destyds was dit net ’n stasiewa.

Interessant: Die 504 en die Sorento se grondvryhoogte verskil net 1 cm met die Koreaan wat hoër is.

Die Sorento is steeds luuks, al is daar vier ander dieselmo­delle in die reeks wat in trap­pe van vergelyking uiters luuks is.

Die 2.2 liter-turbodieselenjin van Kia is ’n wenner met gladde werksverrigting, goeie klankdemping in die kajuit en ’n seepgladde outomatiese ratkas met ses gange.

Glo my, 147 kW en 440 Nm is meer as genoeg vir die groot wa, selfs met ’n stewige vrag en die dieselverbruik, alhoewel nie naby Kia se aanspraak nie, tog steeds heel gaaf.

In die toetstydperk het dit rondom 8,7 liter/100 km gaan draai, wat baie lang togte met ’n vrag en soms voet-in-die-hoek-ryery by versnelling en verbysteek ingesluit het.

Nou maar wat kry jy in die LS en belangriker nog, wat kry jy nie in die model nie?

Al die noodsaaklikste is daar soos Bluetooth-koppeling met satellietkontroles op die stuurwiel, getinte ruite agter en ’n klankstelsel.

Wat jy nie kry nie, is spoedbeheer, wat tog lekker op die oop pad is, klimaatbeheer wat ’n mens bederf as jy meer as een persoon in die kar is, truratkamera (daar is gonsers vir agter), geen leer nie en hier en daar iets kleins.

Buite kort ’n paar chroomtooisels en misligte voor, maar nie iets wat jou dadelik gaan weggee as die ou met net genoeg geld om die intreevlak te bekostig nie!

Die kattebak kan 660 liter sluk met nog handige versteekte bêreplekkies onder die laairuim se oppervlak.

Die 504 se kattebak kon self 650 liters se goeters huisves.

Die Sorento se kattebak is omtrent 200 liter groter as die kleiner Kia Sportage-sportnuts s’n en om nie te praat van beter been-, elmboog- en kopruimte nie.

Op die lang pad het ’n mens die spoedbeheer en klimaatbeheer gemis en die kragstuur is steeds ’n tikkie te sensitief teen hoë snelhede.

Tog is dit geringe klagtes as mens die stil kajuit, eersteklas-ritervaring en soliede padgedrag in gedagte hou. Voeg daarby die gemaklike sitplekke, meer as voldoende verrigting en skaflike dieselverbruik en die Sorento is ’n gesinswa duisend.

In geheel maak die Sorento baie meer sin as sy duurder boeties.

Miskien nie die mooiste nie, die stuur kan beter en hier en daar is daar ’n geriefsartikel wat dinge nog beter agter die stuur kan maak.

Tog vir dié geld is die nuwe toevoeging tot die reeks ’n uitstekende keuse en verwag ons om heelwat meer Sorento’s op ons paaie te sien.

8,5 uit 10. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!