Sosiale kritiek, gebrek aan moreel in uitstalling te sien
Lloyd Zandberg
Die bekende Namibiese fotograaf Hendrik (Hentie) Burger is terug met ‘n solo-uitstalling “Standing Tall. Namibian men in transition”, wat eersdaags by die Namibian Art Association (NAA) in die hoofstad uitgestal word.
Hentie het die afgelope 6 jaar aan die uitstalling gewerk. Die idee het ontstaan by ‘n begrafnis wat hy bygewoon het.
“Die eerste foto, #namman004, is amper 6 jaar gelede in Okahandja by die begrafnis van die Ovaherero- opperhoof, mnr. Kuaima Riruako, geneem. Hierdie foto het die saadjie vir die soeke vir nog outentieke en interessante Namibiese mans geplant,” verduidelik hy.
“Dis moeilik vir ’n vaal outjie soos ek om interessante mans raak te loop!”
Tydens die opening gaan prof. André du Pisani ‘n toespraak lewer.
“Ek is seker hy verwoord my gedagtes veel beter as ek self,” verduidelik Hentie. Hy wil sy toespraak ook aan twee onlangs ontslape Afrika-fotograwe, naamlik Santu Mofokeng en ons eie John Liebenberg, opdra.
Die tema van “Standing Tall. Namibian men in transition” bestaan hoofsaaklik uit visueel interessante Namibiese mans.
“Namibiese mans word die afgelope jare aan hewige sosiale kritiek blootgestel vir hul gebrek aan morele optrede. Hierdie negatiewe kritiek is meestal regverdig, maar dit kan ook myns insiens veroorsaak dat ons mans net al dieper in ’n put van irrelevansie sink. As fotograaf wou ek ’n positiewer projek aanpak deur ’n portefeulje van unieke visuele Namibiese mans saam te stel, wat ons kan geniet om na te kyk en ook trots op kan wees.”
Hentie verduidelik dit was verrassend om nog sekere soort mans se teenwoordigheid in die 21ste eeu waar te neem.
“Geen naam, beroep of ras word aan die modelle gekoppel nie. Daar word in hierdie uitstalling vir die besoeker ruimte gelaat om reg of verkeerdelik self indrukke te vorm oor die modelle - goed of sleg, sukses of mislukking, positiewe of negatiewe uitstraling? Daar is ’n verskeidenheid van sleutelwoorde wat verskaf word en die besoeker mag dit inspan om self te besluit wie en wat die man in die raam uitbeeld.”
Die uitstalling bestaan uit 24 geraamde werke van ongeveer 84 cm x 115 cm. Die ongeraamde herdrukke is ongeveer 58 cm x 86 cm.
“Dit sal interessant wees om te sien of die Namibiese mans se waarde meer stabiel is as Windhoek se huispryse!” skerts Hentie as jy hom vra of die werke te koop is.
“Dis ’n groot, duur projek wat produksiekoste betref. Hopelik kan van die kostes gedeeltelik verhaal word sodat ek dit weer kan inploeg in ’n nuwe eksperimentele uitstallingsprojek vir Omaruru se Art Fair in Junie vanjaar.”
Hoewel die reeks eintlik uit ’n totaal van 40 modelle bestaan, het hy uiteindelik besluit om net 24 van die werke uit te stal.
“Uitstalruimte, drukkoste en vervoerlogistiek vereis dat die kandidate deur ’n keuringsproses moes gaan. Ek dink dis ’n redelik gebalanseerde portefeulje van gewone Namibiese mans wat nie probeer om snaaks te lyk nie, maar hul straal ’n visuele aura uit wat in jou kop vassit. Die mans kom van oor die breedte en lengte van Namibië. Daar is natuurlik ander mans wat ek nie raakgeloop het nie en ook enkeles wat ek nie kon opspoor nie of wat nie “reg” gelyk het toe ek hulle opgespoor het nie.
“Ek het ook enkele foto’s verbrou deur toe te laat dat die agtergrond te sterk met die model meeding. Sulke foto’s het ek nie gebruik nie. Soms het my verwagting oor hoe die eindresultaat gaan lyk ook nie gerealiseer nie, want mense verander oor die jare. Ek het in my kop ’n prentjie van ’n fisies imposante (oorgewig) Swakopmunder bo-op ’n duin geklee in ’n wapperende kaftan en ’n piepklein hondjie by sy voete gehad. Groot was my verbasing toe ek hom opspoor en helfte van hom is weg na ’n uiters suksesvolle en gesonde dieetplan!”
Die logistiek agter so ‘n uitstalling sit nie in elke man se broek nie.
“Die uitdagings om ’n man te oorreed (wat nie normaalweg in die sosiale dagblaaie rond boer nie) om in te stem tot ’n photo shoot tap nogal jou energie. Die denkproses kan tot maande duur voor ek besluit of dit die regte kandidaat is. Soms moet die besluit binne ’n paar sekondes geneem word. Dis baie erg as jy ’n verkeerde besluit maak en dan met die photo shoot moet deurdruk. Ek het my eie riglyne hoe om heelhuids ’n versoek vir ’n photo shoot te oorleef. Ek repeteer in detail my eerste sin as ek die potensiële model nader.
“Binne 30 sekondes moet my storie klaar wees. In 30 sekondes verduidelik ek hoekom ek hierdie besondere man wil fotografeer en ek belowe hom ook die volgende; ek sal die taak in 20 minute afhandel; ons sal nie verder as 50 meter loop om ’n geskikte agtergrond te kry nie; geen glimlag is nodig nie. Al wat ek vra is ’n vollengte foto van voor geneem. Al die mans (behalwe een) het ingestem! Jou brein oorverhit soos jy wonder waar gaan ek binne 50 meter ’n geskikte agtergrond kry. Die genot kom in die digitale donkerkamer as jy weer oogkontak met hierdie man maak en die mannetjie op jou skouer skree in jou oor: dis die regte man!”
Hy spot en sê daar was geen slegte ervarings nie en niemand - mens of dier - is gedurende die projek beseer nie.
“My instemming om twee bottels whiskey met die een model (en nog twee vriende) te deel was pure genot. Hoofpyn is nie ’n besering nie,” skerts Hentie.
Soos met die meeste fotograwe is dit vir hom baie moeilik om ’n spesifieke foto uit ’n reeks as ’n gunsteling te beskou. In Hentie se geval kon dit nie nader aan die waarheid wees nie.
“My gunstelingfoto is die een wat ek nog nie geneem het nie, maar ’n bekende hawelose man in Windhoek was die enigste man wat die versoek om as model op te tree (en ’n modelfooi te verdien) van die hand gewys het omdat hy nie daardie dag op sy beste gelyk en gevoel het nie.”
“Standing Tall. Namibian men in transition” open Maandag 2 Maart om 18:00 vir 18:30. Die uitstalling is tot 20 Maart in Windhoek, waarna dit na Swakopmund reis om op Vrydag 10 April deel van die immergewilde Night of The Galleries te wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie