Sosiale media belemmer geheime diplomasie: Katoma
Sosiale media belemmer geheime diplomasie: Katoma

Sosiale media belemmer geheime diplomasie: Katoma

Estelle de Bruyn
Die wydverspreide gebruik van sosiale media ondermyn geheime diplomasie en bied ook uitdagings vir parlementêre besluitneming rakende beleidskwessies.
So sê die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee belas met buitelandse sake, verdediging en veiligheid, mnr. Leevi Katoma, wat vandeesweek gepraat het tydens die opening van die vyfdaagse konferensie om Namibië se buitelandse beleid te hersien.
Geheime diplomasie verwys na diplomasie wat sonder die medewete van die publiek plaasvind, ten einde die doelwitte van ’n buitelandse beleid deur middel van doeltreffende kompromie en oorreding na te streef. Dit staan ook as “stille diplomasie” bekend.
“In hierdie opsig word verwag dat ons parlementêre besluitnemingsprosesse rakende internasionale aangeleenthede, met die nuutste verwikkelinge in media- en kommunikasietegnologie moet tred hou,” het hy gesê.
Katoma sê dit vereis verbeterde konsultasie en die gereelde uitruil van inligting tussen ministeries en die parlement, ten einde die spoedige bekragting van verdrae en konvensies te verseker.
Hy het verduidelik dat die portefeuljekomitee ingestel is om ’n oorsigfunksie van Namibië se beleid van internasionale samewerking asook betrekkinge met ander lande oor sake soos verdediging en veiligheid te hê.
Voorts moet internasionale protokolle, konvensies en ooreenkomste wat Namibië se buitelandse beleid mag beïnvloed, gemoniteer word. Hierbenewens moet die komitee aanbevelings aan die Nasionale Vergadering maak.
Om hierdie rede sal die komitee voortgaan om met die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking en ander ministeries en instansies saam te werk om die buitelandse beleid te implementeer in pas met die Harambee-welvaartplan vir voorspoed, Visie 2030, die nasionale ontwikkelingsplanne en die Afrika-unie se Agenda 2063.
By dieselfde geleentheid het ’n lid van die Nasionale Jeugraad, mnr. Lot Ndamanomhata, ’n beroep op die regering, deur middel van die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, gedoen om voort te gaan om jong Namibiërs by wyse van internasionale platforms aan die buitelandse beleid bloot te stel.
“Ons vra die ministerie om ons rol te erken ten einde te verseker dat Namibië ’n globale stem het,” het hy gesê. -Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer