Sosiale media: Hou maar ’n wag voor jou mond
Die konsep van privaatheid is met die koms van sosiale media op sy kop gekeer. Die veiligste is om dié platforms te gebruik asof die hele wêreld jou plasings kan sien, skryf Liezel de Lange.
Liezel de Lange
Danksy slimfone en sosiale media kan miljarde mense wêreldwyd met mekaar kommunikeer op ‘n skaal wat voorheen ondenkbaar was. Dít bring groot geleenthede, maar ook slaggate wat betref kwessies soos privaatheid en aanspreeklikheid.
Sou jy gemaklik wees as jou werkgewer of jou ma dit sien?
Dít is wat jy jouself moet afvra vóórdat jy daardie foto of stelling op sosiale media plaas of ander mense se plasings deel.
“Enige voornemende werkgewer gaan jou beslis google voor ’n moontlike onderhoud. Dink dus voordat jy plaas,” waarsku Kathryn Astbury, bemarkingsbestuurder van The SpaceStation, die grootste verkoper van digitale media in die land.
“Privaatheid behoort in wese so ietwat tot die verlede.”
Meer as 30% van die Suid-Afrikaanse bevolking, oftewel 16 miljoen mense, gebruik Facebook, wys Arthur Goldstuck van World Wide Worx se navorsing oor sosiale media en die internet. Die oorgrote meerderheid van dié gebruikers, 14 miljoen Suid-Afrikaners, gebruik Facebook deur hul slimfone.
Teen Augustus vanjaar was sowat 8 miljoen Suid-Afrikaners gereelde gebruikers van Twitter, meer as 6 miljoen het profiele op Linked¬In gehad, en Instagram se plaaslike verbruikers het op bykans 4 miljoen gestaan.
LinkedIn is ’n professionele platform waar mense korporatiewe boodskappe en inligting deel én waar moontlike werkgewers en werknemers mekaar opsoek.
“Op dié platform moet jy dus sorg dat jy professionele foto’s van jouself plaas, asook ’n deeglike geskiedenis van jou prestasies en ervarings,” sê Astbury.
Foto’s van jou baba en jou hond hoort eerder op Facebook. “Mense is geneig om meer persoonlike inligting op Facebook te deel omdat net vriende wat jy aanvaar het dit kan sien. Dit voel soos ’n kleiner, veiliger groep as byvoorbeeld Twitter,” sê Astbury.
Sy waarsku egter ook dat jy jou privaatheidstellings moet opskerp én onthou dat jy nie beheer het oor hoe volgelinge jou inligting deel en versprei nie. Boonop wil jy nie noodwendig hê die hele wêreld moet weet as jy byvoorbeeld weggaan en jou huis staan leeg nie.
Benewens die verleentheid, kan ondeurdagte plasings jou duur te staan kom. Die regs- en sosialemediakenner Emma Sadleir sê alle wette van die “regte lewe” oor laster, privaatheid, databeskerming, teistering, waardigheid, haat-spraak en seksuele oortredings is ook van toepassing op jou internetlewe.
So, dink mooi voordat jy skryf óf deel, ook omdat ’n plasing nie weg is net omdat jy dit uitgevee het nie. Jou volgelinge het dalk skermgrepe daarvan gemaak.
“Gesprekke op Twitter is heel anders (as op Facebook) omdat jy net ’n sekere aantal letters kan gebruik én die hele wêreld kan sien wat jy skryf,” sê Astbury.
Let op fopnuus
Volgens haar gebruik mense Twitter veral om by te bly met die jongste nuus en om dit met ander te deel. “Daar is baie politieke gesprekke onder Suid-Afrikaanse Twitter-gebruikers. Fop¬nuus tel daarom onder die kwessies waarop jy as ’n Twitter-gebruiker moet let.
“Volg nuushandelsmerke en veral hul redakteurs en gesoute joernaliste as jy fopnuus wil vermy,” sê Astbury. “Hou ook op om diegene op sosiale media te volg wat fopnuusplasings deel.”
Sy meen verbruikers moet proaktief optree en hulle daarvan weerhou om op fopnuus te klik. “Moenie die fopnuus-bedryf voer deur op die stories te klik nie.”
Intussen is video die formaat wat die vinnigste groei in die sosialemedia-omgewing. “Veral sakeondernemings en groot handelsname gebruik dit, want navorsing wys baie mense verkies video bo geskrewe inhoud.”
Volgens Astbury is YouTube die ideale platform om byvoorbeeld aan mense te wys hoe om jou produk te gebruik. Goldstuck sê 1,3 miljard mense wêreldwyd is aktiewe YouTube-gebruikers. Die gemiddelde YouTube-kanaal in Suid-Afrika het nou 250 000 intekenare teenoor ’n gemiddelde van 36 000 in 2016.
Belangrik vir ondernemings
Sosialemediaplatforms is baie belangrik vir ondernemings.
Astbury sê enige onderneming, selfs as hulle nie geld het vir ’n webblad nie, kan ’n gratis Facebook-blad begin sodat hulle ’n teenwoordigheid op die internet kry en voornemende klante hulle daar kan opspoor.
Gebruik egter ook ’n klomp ander platforms soos YouTube, Instagram en Pinterest om ’n onderneming te bemark – veral ook omdat dié platforms gereeld hul werking verander en dit ietwat moeiliker (en duurder) maak om jou gekose mark te bereik.
Wat persoonlike gebruik betref, is dit ook belangrik om te besef dat dié platforms nie vir almal dieselfde plesier of waarde verskaf nie.
“Dit maak ons verhoudinge al hoe meer onpersoonlik. Daar is niks mee fout om ‘outyds’ te wees in jou kommunikasie nie.”
Astbury meen diegene wat hul privaatheid baie hoog ag, kan byvoorbeeld steeds spesiale oomblikke met nabye vriende en familie deel. “Skep ’n WhatsApp-groepie of deel ’n Dropbox-legger en stuur daarop jou kinders se verjaardagfoto’s vir die familie.”
Jou ligging nie allemansnuus
C. Bester van Danabaai wil weet watter toepassings wat aandui waar jy is, jy liefs moet afskakel.
Eerstens moet jy nadink voordat jy byvoorbeeld op Facebook die “check-in”-toepassing gebruik. Is jy gemaklik om vir die wêreld te wys jy klim nou op ’n vliegtuig Port Elizabeth of Parys toe? Verskillende toepassings op jou slimfoon gebruik inligting oor waar jy jou bevind. Talle hiervan is baie nuttig, soos die weertoepassing wat so vir jou relevante voorspellings wys, Googlemaps wat help met aanwysings en Uber wat weet waar om jou op te laai.
’n Massa toepassings wat egter deurgaans jou bewegings monitor, wek nie net kommer oor privaatheid nie, maar sal ook jou selfoon se battery vreet. Die algemene aanbeveling is dat jy toepassings slegs toegang tot jou ligging gee wanneer jy dit gebruik.
Op ’n slimfoon met ’n Android-bedryfstelsel kan jy die ligging afskakel deur met jou duim van bo na onder op die skerm te vee.
’n Paar ikone sal dan verskyn - klik op die een wat soos ’n waterdruppel lyk en skakel die ligging af. Skakel dit op dieselfde manier weer aan as jy van die bogenoemde toepassings wil gebruik.
Aan jou ‘vriende’ word jy geken
Vyf goue reëls vir gebruikers van sosiale media:
1. Privaatheidstellings help, maar dit beteken steeds nie jy het volle beheer oor wat met jou inligting gebeur nie.
Gesprekke op Facebook of Twitter is nié privaat nie. Moenie dink jy kan omstrede of onwettige stellings maak en daarmee wegkom nie.
2. Aan jou vriende sal jy geken word en dit geld ook in digitale kringe.
Raak van hulle ontslae as jy “vriende” het wie se plasings jou in die verleentheid stel.
Maak sommer gereeld jou “digitale huis” skoon. Kyk deur jou vriende en verwyder diegene wat jy byvoorbeeld nie behoorlik kan onthou (of glad nie ken nie).
Vee ook foto’s uit wat die verkeerde beeld van jou kan uitdra.
3. Moenie inligting plaas of deel terwyl jy emosioneel is nie. Emosies soos woede of hartseer verswak ’n mens se oordeel. Waak teen emosionele debatte op sosiale media wat jy in elk geval nie gaan wen nie.
Bly geduldig, vriendelik en professioneel (laasgenoemde veral op platforms soos LinkedIn en Twitter).
4 . Voordat jy iets plaas, herinner jouself daaraan dat dit (onder jou naam) soos ’n veldbrand wêreldwyd kan versprei. Is jy gemaklik daarmee?
5. In die regte lewe kan ’n onsensitiewe opmerking gou vergete raak. ’n Bitsige of sarkastiese opmerking op ’n platform soos ’n WhatsApp-skoolgroepie is daar vir almal om te sien én te onthou. - Netwerk24
* Dié artikel is geborg deur Huawei Mate 10 Pro.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie