Soustrein na Tokio ignoreer uitstaande beloftes

Die sportministerie beplan om opnuut derduisende dollars te spandeer op beamptes wat vandeesmaand die Olimpiese Spele in Japan bywoon.
NAMPA
Ten spyte daarvan dat beloofde geldelike belonings vir internasionale prestasie ná twee jaar steeds aan atlete verskuldig is, beplan die ministerie van sport, jeug en nasionale diens (MSYNS) asook die Namibiese Sportkommissie (NSC) om sowat N$400 000 te bestee om ampsdraers saam met die land se Olimpiese span na Tokio te stuur.

Die Olimpiese Spele begin op 25 Julie en duur tot 8 Augustus. Na verwagting sal Namibiese verteenwoordigers vanaf 18 Julie na Tokio begin vertrek.

Die ministerie en die NSC moet nog hul eie beleid eerbiedig om Namibiese atlete te vergoed wat sedert 2019 medaljes by verskeie internasionale byeenkomste vir Namibië gewen het.

Dit sluit die Afrika-spele, Wêreldatletiekkampioenskap en die Paralimpiese wêreldatletiekkampioenskap in.

Terwyl N$910 000 steeds aan vyf atlete en hul afrigters verskuldig is wat medaljes in 2019 gewen het, sal die groep eersdaags na Japan vir die Spele vertrek.

Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) het laasweek 'n span van elf atlete en sewe afrigters bekend gemaak wat Namibië in Tokio sal verteenwoordig. Twee werktuigkundiges vir die fietsryers, twee dokters asook vyf beamptes sal die atlete vergesel.

Onder die beamptes tel die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Audrin Mathe, en die NSC se ondervoorsitter, me. Alna Similo. Dié twee hooggeplaastes se hotelkoste beloop N$6 600 per persoon per nag of N$118 800 per persoon vir 18 nagte se verblyf in die Imperial Tokio Hotel. Dit is glo die aangewese hotel waar hooggeplaastes sal tuisgaan terwyl die Spele aan die gang is.

Indien beide Mathe en Similo op 18 Julie saam met die eerste atlete na Tokio vertrek, sal die ministerie en die Sportkommissie benewens hul retoervliegkaartjies ook vir hul reistoelaes (S&T) vir 20 dae moet opdok.

Volgens die regeringsbeleid van 2008 kan dié regeringsbeampte (toe permanente sekretaris, nou uitvoerende direkteur) op amptelike diens in die buiteland 466 Amerikaanse dollars (N$6 649) per dag eis, of US$216 (N$3 082) per dag indien hul akkommodasie vir hulle betaal sou word.

Met inperking van staatsbesteding reeds 'n geruime tyd weens tekorte aan die orde van die dag, het die nuusagentskap Nampa 'n navraag aan die ministerie gerig oor wat Mathe en Similo se rolle by die Spele sal wees – veral aangesien Simataa Matali, die tweede sekretaris by die Namibiese ambassade in Tokio, as attaché optree.

Aina Shikesho, MSYNS se hoofskakelbeampte, sê Mathe sal die minister by die Spele verteenwoordig.

“Die minister was na die Spele genooi, maar weens haar nasionale verpligtinge kan sy nie gaan nie en het Mathe afgevaardig om haar plek vol te staan. Dit is standaard prosedure dat 'n delegasie deur 'n regeringsbeampte vergesel word,” het sy verduidelik.

Toe Shikesho gevra is waar dié sukkelende ministerie die geld vandaan kry om vir die reis te betaal, het sy gesê die koste van die vliegtuigkaar­tjies, akkommodasie asook daggeld sal deur die gasheer betaal word.

Tydens 'n onderhoud met me. Joan Smit, sekretaris-generaal van die NNOK, het sy bevestig dat nie die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) óf die Japanse regering die koste betaal vir genooide staatsamptenare by die Spele nie.

“Dit is die gebruik van die IOK om akkreditasie vir staatsamptenare te reël, maar dit is nie verpligtend vir genooides om die Spele by te woon nie. Die IOK betaal slegs vir die sekretaris-generaals en die presidente van die onderskeie Olimpiese Komitees, maar nie vir staatsamptenare nie.

“Selfs indien die NNOK die geld gehad het, sou die IOK ons nie toegelaat het om vir staatsamptenare te betaal nie,” het Smit gesê.

Me. Agnes Tjongarero, minister van sport, jeug en nasionale diens, het aan Nampa gesê om geld te bespaar, sal sy nie die Spele bywoon nie.

“Ons het nie nou geld nie en daarom het ek Mathe gevra om in my plek te gaan, want sy daggeldtarief sowel as ander uitgawes beloop veel minder as myne,” het die minister gesê.

By navraag aan die ministerie hoekom die beamptes se beoogde bywoning van die Spele nie geskrap kan word nie sodat die agterstallige betalings eerder aan Vera Looser, Alex Miller, Helalia Johannes en Junias Jonas (medaljewenners in 2019) gedoen kan word nie, het Shikesho gesê haar ministerie wag nog vir dié atlete se geld van die ministerie van finansies.

“Soos ek gesê het, die uitgawes vir die bywoning van die Spele sal deur die gasheer betaal word. Wa die atlete se uitstaande prysgeld betref het ek gesê dat ons 'n aansoek hiervoor aan die ministerie van finansies gerig het. Ons wag daarvoor en sodra ons die geld ontvang, sal die atlete ten volle vergoed word,” het sy gesê.– Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer