Spanje neem beheer oor Katalonië oor

'n Vervroegde streeksverkiesing sal op 21 Desember in Katalonië gehou word om nuwe leierskap te verkies.
NAMPA
Katalonië se staatsamptenare het gister vir die eerste keer teruggegaan werk toe sedert Spanje se sentrale regering die streek se eensydige onafhanklikheidsverklaring verwerp het deur verkose leiers af te dank en regstreekse beheer oor te neem.

Daar is wyd bespiegel oor waar die uitgeskopte Katalaanse president, Carles Puigdemont, en sy afgesette kabinet hulle bevind. Dit bly ook ‘n ope vraag wat hul reaksie op die oorname gaan wees, aangesien dit sal bepaal of die oorname deur Madrid glad sal verloop en of dit teenkanting in die gesig sal staar. Dit hou die gevaar in om die maand lange politieke krisis in die land te laat verdiep.

Terwyl personeel by die hoofkantore van die Katalaanse regering in Barcelona aangekom het, het Puigdemont ‘n foto op Instagram van die binnehof van die streek se parlementsgebou gepubliseer.

Sowel die Katalaanse as Spaanse nasionale vlae het bo die gebou gewapper.

Die dubbelsinnige foto vergesel van die woorde “Goeie môre” in Katalaans en ‘n glimlag-emotikon, het mense laat wonder of Puigdemont binne die gebou is. Daar is geen aanduiding van wanneer die foto geneem is nie.

Puigdemont sou na verwagting gister van rebellie aangekla word omdat hy met pogings vir sesessie voorgegaan het.

Katalonië se streeksparlement het Vrydag by wyse van ‘n geheime stemming vir onafhanklikwording van Spanje gestem, waarop die Spaanse regering die wetgewende vergadering ontbind, die regering afgedank en nuwe verkiesings vir 21 Desember uitgeroep het.

Puigdemont het vreedsame en “demokratiese opposisie” beloof nadat sy kabinet afgedank is, maar het nie verduidelik wat dit beteken nie nie. Hy het ook nie aangedui of hy die vroeë streeksverkiesings as oplossing vir die politieke dooie punt aanvaar nie.

Separatistiese partye het oor ‘n veldtog van burgerlike ongehoorsaamheid gepraat om die sentrale regering se planne om die gebied te regeer in die wiele te ry. - Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!