Spanne vir WB-taak in Durban aangewys
Spanne vir WB-taak in Durban aangewys

Spanne vir WB-taak in Durban aangewys

Die mans en vroue sal tydens hul onderskeie oefenkampe in isolasie gehou word voor hul vertrek na die RSA.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Namibiese Hokkie-unie (NHU) het gister sy senior vroue- en manspanne aangekondig wat hul Suid-Afrikaanse eweknieë van 15 tot 18 April in Durban om die binnenshuise Afrika-beker gaan uitdaag.

Vir die MTC nasionale senior spanne dien die toernooi ter kwalifisering om aan die 15de Binnenshuise Wêreldbeker deel te neem wat vir volgende jaar van 1 tot 17 Julie in Amstelveen, Nederland, en Terrassa, Spanje, beplan word.

Volgens die NHU het Standard Bank Namibië en Namdia hul gewig as borge by die vrouespan ingegooi. Die span se afrigter Erwin Handura word deur Kagiso Mosiane as hulpafrigter bygestaan, terwyl Kimber le Roux die bestuur sal waarneem.

Onder Handura en spankaptein Magreth Mengo het die vroue by die 2018 binnenshuise WB in Berlyn negende geëindig.

Kiana Cormack, wat in Berlyn gesamentlik boaan die algehele lys van doelskieters was (9), het haar 'n tyd gelede om persoonlike redes aan alle nasionale spanne onttrek. Handura wys egter daarop dat sy in elk geval ook nie aan vorige kwalifiserende veldtogte deelgeneem het nie.

“Ons hou die Afrika-titel en het 'n sterk jong span wat weer so kan maak. Ons moet net in die oorblywende twee weke goed voorberei.”

Die mans word deur Trevor Cormack (hoofafrigter) en Jerrica Cormack (hulpafrigter) geslyp, met Mary Hansen die spanbestuurder.

Namibië se vroue word tans eerste in Afrika gereken en is gesamentlik negende met Australië op die FIH) se wêreldranglys. Die mans beklee die 16de posisie, teenoor die SA mans se elfde ranglysplek.

Mnr. Marc Nel, die NHU-president, het by gister se oorhandiging van nasionale kleure gesê die spelers word nie gestuur om bloot deel te neem nie, maar om die wêreld vir Suid-Afrika warm te maak.

“Ons vrouespan is die huidige houer van die Afrikabeker en ons hoop hulle sal alles gee om weer vir die Wêreldbeker te kwalifiseer.”

Nel sê vir beide die mans en vroue sal vertonings teen 90 persent van hul vermoë waarskynlik nie genoeg wees nie.

Die nasionale manspan se kaptein, die doelwagter DJ Strauss, het gesê die komende geleentheid is sy derde binnenshuise Afrikabekertoernooi en hy is gretig om sy droom te verwesenlik dat Namibië by die Wêreldbeker in aksie is.

“In die verlede het ons kwalifisering vir die Wêreldbeker misgeloop, maar ons kan nie bekostig om dit weer te laat gebeur nie.

“Vir die eerste keer hoef ek as 'n speler my nie te bekommer of ons genoeg geld bymekaar het om die toer te laat gebeur nie en hiervoor is ons baie dankbaar dat MTC aan boord gekom het. Ons kan dus al ons aandag by ons spel bepaal.”

Die spanne sal tydens die Paasnaweek vir hul oefenkamp en self-isolasie aanmeld – die vrouespan by The Dome op Swakopmund en die manspan in Windhoek, voor hul vertrek na Durban op 11 April.

Namibië vrouespan: Petro Stoffberg en Berencia Diamond (doelwagters), Magreth Mengo (kaptein), Sunelle Ludwig (onderkaptein), Gillian Hermanus, Duré Boshoff, Azaylee Philander, Danja Meyer, Jivanka Kruger, Taramarie Myburgh, Kaela Schimming, Caitlin Gilles.

Namibië manspan: DJ Strauss (kaptein) en Richter van Rooyen (doelwagters), Ernest Jacobs, Dakota Hansen, David Britz, Nico Neethling, Cody van der Merwe, Liam Hermanus, Owen Hatton, Fagan Hansen, Brynn Cleak, JP Britz.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!