Spanning loop hoog oor kapteinsverkiesing
Spanning loop hoog oor kapteinsverkiesing

Spanning loop hoog oor kapteinsverkiesing

Boet Matthews – Almal wil weet wie gaan die leisels van die Baster-gemeenskap oorneem nadat die vorige kaptein, mnr. John McNab, verlede jaar oorlede is.

Die verkiesing om sy opvolger aan te wys, vind môre landswyd plaas.

Republikein het een van die twee kandidate in die wedloop, mnr. Jacky Britz, by sy huis op Rehoboth besoek en gevra of hy gereed is om die kapteinsitplek in te neem indien hy verkies word.

“Met 'n glimlag,” het Britz gesê. “Die keuse is in die hande van die Baster-gemeente, wat hopelik landswyd na die stembus sal gaan om hul kruisies te trek.”

In die ander hoek is mnr. Rynault van Wyk en sy aanhangers is ook vol vertroue hy gaan die septer swaai. Een van sy aanhangers sê daar kan net een wenner wees en dit is die afslaer.

Mnr. Clement Kloppers, bekende in die onderwys, reken Britz is 'n goeie keuse weens sy goeie kennis van die Basters se geskiedenis en tradisies.

“Ek glo Jacky het die eienskappe van 'n kaptein in die sin dat hy 'n sterk akademiese agtergrond het. Daarbenewens het hy 'n enorme aanvoeling vir politiek. Hy het homself goed geposisioneer vir die verkiesing en het verskeie dorpe in die land besoek,” voer Kloppers aan.

“Jacky is 'n man wat prontuit praat en volgens reëls en regulasies werk. Hy speel nie kat-en-muis-speletjies nie.”

Vanaf Hentiesbaai sê die oudonderwyser en deesdae geestelike leier, mnr. Walter Nel, hy het nie vroeër baie in die Baster-politiek belang ge­stel nie. “Maar weet jy nou, twee, drie jaar gelede op my oudag, besef ek die belangrikheid daarvan,” het hy opgemerk.

Hy slaan ook Britz se akademiese agtergrond hoog aan.

“Nog meer, hy het die passie om dinge suksesvol aan te pak. Dis 'n passie wat nie gister en ­eergister begin het nie, dit kom jare aan. Trouens, dit kom van sy pa, Rudolf Britz, wat destyds nog die direkteur en my baas was,” vertel Nel.

Wat sê Britz?

“Hoe ek betrokke geraak het by die verkiesing wil ek verduidelik.

“Ek is 'n pensioenaris en afgetrede onderwyser en ná 45 jaar in die onderwyser het ek besluit om rustig te verkeer. Maar Covid-19 het gekom en dit het eintlik 'n positiewe uitwerking op my gehad.

“Toe ons kaptein John McNab ver­lede jaar in Augustus gesterf het, het ek nie rus gehad nie. Verskeie mense het gebel en gevra of ek nie as kaptein wil staan nie.

“Nadat ek nou so getempteer is deur almal was ek in 'n hoek vasgedryf. Ek het 'n worstelstryd vir vier maande gehad en 'n saak met my Skepper.

“Die oproepe het meer en meer geraak en toe besef ek dat die Here 'n plan het met my en my graag wil gebruik vir Rehoboth. Ek het besef met God aan my sy het ek niks te vrees nie.

“Hierdie gaan oor 'n tradisionele leier wat gekies moet word,” sê Britz.

“Indien ek as kaptein gekies word, gaan ek alles in my vermoë doen om eenheid onder die Basters te bring – nie net op Rehoboth nie, maar ook op ander dorpe.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!