Spanwerk nodig om Kanada te verslaan

WB-rugby
By die nuuskonferensie gister is afrigter Phil Davies uitgevra oor die besluit om Eugene Jantjies voor Damian Stevens in die 9-trui te laat begin, ná laasgenoemde se koelkop drie uit drie stelskoppe teen Nieu-Seeland.

“Dit was nie 'n groot besluit nie. Beide is uitstekende skrumskakels. Damian speel tans fantasties. Eugene se ondervinding is vir ons baie belangrik – Damian se ondervinding ook. Albei van hulle organiseer die span baie goed.

“Ek is op soek na 'n groot vertoning oor 80 minute deur die hele span. Dit gaan 23 spelers se insette verg om Kanada te klop.”

Oor hoe die span die druk hanteer in die opbou na 'n wedstryd wat hopelik Namibië se string van 22 wenlose wedstryde by die Wêreldbeker sal verbreek, het Davies gesê: “Ons het voor die Wêreldbeker die belangrikheid benadruk om die proses van voorbereiding te volg, eerder as om op die uitkoms van 'n oorwinning te fokus. Dt is waarop ons ingestel behoort te wees. Dit op sigself behoort van die druk te verlig.

“Ons wou nog deurgaans in dié posisie wees – om 'n oorwinning te probeer behaal. Ons het by die vorige Wêreldbeker byna daarin geslaag (in 'n nederlaag met 17-16 teen Georgië).

“Wanneer jy luister na hoeveel Nieu-Seelandse spelers praat oor druk, dit gaan daaroor om dit te geniet en te verwelkom. Ons wil in hierdie posisie wees en moet nou net uitgaan en dit gaan geniet na die beste van ons vermoë.”

Davies het gesê Kanada durf nie vir 'n oomblik onderskat te word nie.

“Kanada is in dieselfde posisie as ons. Hulle is 'n uitstekende span. Hulle is goed afgerig. Ons ken hul afrigterspan goed – net soos hulle ons ken.

“Die wedstryd gaan hard en spannend wees en ons sal baie goed moet speel – en Kanada ook. Dit gaan 'n uitstekende rugbywedstryd wees.

“Albei spanne beskik oor baie flair en speel met groot durf. Kanada het 'n baie sterk agtergrond van blootstelling in sewesrugby, terwyl flair en durf ook belangrike aspekte van Namibië se spel is.

“Ons hoop dat die wedstryd 'n gepaste afsluiting vir groep B in die Wêreldbeker sal wees – veral op die stadion waar dit gespeel word.

KOUD, NAT, BEWOLK, WINDERIG

Met die woedende tifoon Hagibis in aantog na Japan, maar op 'n ompad wat Kamaisji sal misloop, is die vooruitsigte dat Namibië hom steeds vir koelerige, nat, winderige toestande gereed kan hou.

Davies sê: “Ons is bewus van die tifoon en verstaan hoe naby dit gaan wees, maar ons het redelike vertroue dat ons dit darem gaan misloop.

“Die besluit (om twee WB-wedstryde môre te kanselleer), is een wat Wêreldrugby gehoop het nie nodig sou wees vir hulle om te moet maak nie, maar vir my spreek die besluit vanself. Daar is soveel verwoesting wat met sulke natuurverskynsels kom en dis belangrik om te doen wat reg is vir almal betrokke.”

Davies het sy bewondering uitgespreek vir Kamaisji, die kleinerige Japanse stad wat grootliks herstel het nadat die aardbewing en tsunami van 2001 sowat 'n duisend inwoners uitgewis en groot skade aangerig het.

“Die Kamaishi Recovery Memorial-stadion is 'n inspirerende plek; die manier hoe hulle die stad herbou het ná die dodelike tragedie agt jaar gelede.

“Ek was in Desember daar. Dit is 'n wonderlike plek. Daar is hierdie atmosfeer wanneer jy daar aankom. Jy kan aanvoel iets groots het gebeur.

“Wat sedertdien gebeur het, is rêrig inspirerend – veral uit 'n rugby-perspektief. Hulle het besluit om die stad in die gees van rugby te herbou, wat ongelooflik is. Die mense daar is wonderlik. Hul vasberadenheid en entoesiasme om te herbou en om wedstryde in die Wêreldbeker aan te bied, is iets besonders.

“Hopelik kan beide spanne 'n vertoning lewer wat reg laat geskied aan die nalatenskap van die toernooi. - rugbyworldcup.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!