Speel die All Blacks vuil?
Speel die All Blacks vuil?

Speel die All Blacks vuil?

Rugby
Tielman van Lill
Malakai Fekitoa sal Nieu-Seeland se toetswedstryd Saterdag teen Frankryk in Parys misloop nadat hy vir ''n week oor ''n gevaarlike duikslag geskors is.

Die All Black is uitgewys nadat hy ''n geelkaart ontvang het vir ''n gevaarlike duikslag op Simon Zebo in die Kiwi''s se sege van 21-9 teen Ierland in Dublin verlede Saterdag.

Hoewel die Suid-Afrikaanse blaser Jaco Peyper die senter vir tien minute koelkas toe gestuur het, het hy steeds twee drieë in die wedstryd gedruk, met verskeie kenners wat meen dat hy ''n rooikaart verdien het.

Fekitoa het Dinsdag voor ''n dissiplinêre komitee in Londen verskyn waar hy erken het dat hy skuldig was aan vuilspel, maar aangevoer het dat sy duikslag nie ''n rooikaart geregverdig het nie.

Die komitee, bestaande uit Antony Davies (Enge­land), Derek Bevan (Wallis) en John Doubleday (Engeland), het egter van Fekitoa verskil en die volgende verklaring uitgereik: “Mnr. Fekitoa se optrede sou ''n rooikaart regverdig het, al het hy roekeloos eerder as moedswillig opgetree.”

Die All Black-flank Sam Cane is ook uitgewys vir ''n gevaarlike duikslag op Robbie Henshaw. Die Ierse senter moes die veld in die 11de minuut op ''n draagbaar verlaat en sal sy span se toetswedstryd Saterdag teen Australië misloop. Cane het nie soos sy spanmaat Fekitoa ''n geelkaart van Peyper ontvang nie.

Dieselfde paneel wat Fekitoa geskors het, het bevind dat Cane se gevaarlike duikslag “per ongeluk” was en dat “hy gevolglik nie skuldig is aan vuilspel nie”. Cane sal in elk geval sy span se wedstryd teen Frankryk misloop weens ''n enkelbesering. ''n Debat woed weer oor die vraag of die All Blacks “wegkom” met dade waarvoor hul teenstanders gestraf word.

Peyper is hewig gekritiseer vir sy gebrek aan strenger optrede in albei voorvalle, veral nadat Wêreldrugby slegs ''n paar weke gelede ''n beroep op blasers gedoen het om “spesifiek waaksaam” te wees met betrekking tot hoë duikslae.

“Dit is teleurstellend, om eerlik te wees,” sê Mick Kearney, Ierland se spanbestuurder.

Intussen het die legendariese voormalige Engelse en Britse Leeus-senter, Jeremy Guscott, ''n beroep op skeidsregters gedoen om “deegliker te kyk” wanneer hulle met Nieu-Seelandse spelers te doen kry.

“Skeidsregters moet deegliker kyk na Nieu-Seeland se spelers. Hulle speel woes en toets die grense van die reëls, maar dit is die skeidsregters se verantwoordelikheid om strenger te kyk en hulle te straf,” skryf Guscott in sy rubriek vir die BBC.

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!