Speenkalfseisoen sluit op hou00eb noot af
Speenkalfseisoen sluit op hou00eb noot af

Speenkalfseisoen sluit op hoë noot af

Die goeie styging in vleispryse beteken die produksiekoste-indeks is meer gunstig, veral vir beesboere.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Namibië het een van die beste speenkalfseisoene agter die rug met 15 940 diere wat vanjaar tydens Agra se veilings verkoop is.

Dit is byna drie keer meer as verlede jaar se 5 977 speenkalwers.

Verder het die gemiddelde prys per speenkalf van N$3 900 verlede jaar tot N$6 800 vanjaar gestyg – wat ’n groei van 74% in prys verteenwoordig.

Mnr. Titus Koen, hoofbestuur van veilings by Agra, het tydens ’n galadinee verlede week in Windhoek gesê ná drie jaar van droogte was die toestande vanjaar baie gunstig vir produsente. Dit was ’n seisoen van rekordgetalle en rekordpryse waarby produsente gebaat het, sê hy.

Agra bied jaarliks ’n speenkalfkompetisie aan wat saamval met die veilingseisoen in die land. Die Charolais-teler en bekende speenkalfprodusent, mnr. Bertus Calitz van Gobabis, is vanjaar weer as die nasionale wenner van die kompetisie aangewys nadat hy in 2015 ook dié prys ingepalm het.

Wenners word in die noordelike, sentrale en suidelike gebiede in drie kategorieë aangewys, naamlik kalwers met die beste voerkraalpotensiaal, kalwers met die beste veldpotensiaal en verse met die beste teelpotensiaal.

Die nasionale wenner word dan uit dié wenners gekies.

Die beoordelaars van dié kompetisie met ’n prysgeld van N$430 00, was mnre. Dawid Krause en Christo van Zyl van Voermeester.

Volgens Krause het die beoordelaars na faktore soos vrugbaarheid, groeivermoë, die kapasiteit om vleis te produseer asook na goeie boerderypraktyke soos onthoorning, veebrandmerke en eenvormigheid in massa gekyk.

Hy het produsente, veral dié in die Suide, aangemoedig om goeie dierevoedingsprogramme te implementeer en so ’n groter kans te staan om hierdie kompetisie te wen.

Intussen blyk dit uit inligting wat Dinsdag tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres in Windhoek bespreek is, dat die goeie styging in vleispryse die afgelope jaar die produksiekoste-indeks vir boere aansienlik verbeter het.

“Hoewel beide die bees- en skaapbedryf in Namibië op lang termyn steeds gebuk gaan onder ’n kosteknyptang, was daar in die eerste kwartaal van 2017 ’n verligting in terme van die produksiekoste-indeks. Dit is aangesien landbou-inflasie sedert die tweede kwartaal van 2016 redelik skerp gedaal het, terwyl bees- en skaapinkomste gestyg het,” sê die LPO in sy jaarverslag.

Gemeet vanaf die basisjaar van 2006 toe begin is om die produksiekoste-indeks saam te stel (eerste kwaartaal 2006 = 100), het inkomste uit beeste verhoog tot 168,47 basispunte in die eerste kwartaal van 2017. Die totale uitgawes het in dieselfde tyd verhoog tot 263,97 basispunte.

Inkomste uit skaapboerdery het verhoog tot ’n meer aanvaarbare 258,85 basispunte in dié tyd.

Dit beteken skaapinkomste het die afgelope 11 jaar met 158,85% verhoog, terwyl boere se inkomste uit beesboerdery tussen 2006 en 2017 met net 68,47% verhoog het.

Die groot verskil tussen die insetkoste en dít wat boere op hul produksie-uitsette verdien, beteken beesboere (wat slegter af is as skaapboere) moes elke jaar sedert 2006 omtrent 7% méér doeltreffend boer om te kon oorleef, wys die LPO se produksiekoste-indeks.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!