Speke sing vir Bryn

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Byna twee jaar nadat hy ’n suksesvolle leweroorplanting gehad het, durf die 51-jarige Adriaan Grobler die moordende Desert Dash uit dankbaarheid vir sy skenker en ter bewusmaking van orgaanskenking aan.

Adriaan het op 3 Februarie 2017 die 17-jarige Bryn Magree se lewer ontvang – ’n seun wat volgens sy ma, Janine, sy “hele lewe in 17 jaar ingedruk het”, baie vinnig vriende gemaak het en ’n spesiale teenwoordigheid gehad het.

Volgens Adriaan het hy reeds sedert sy skooldae met ’n kolonsiekte, ulseratiewe kolitis, gesukkel.

Dit het sy lewer op 30 aangetas.

Toe was die voorspelling reeds dat hy ’n leweroorplanting sou moes kry. In Januarie 2014 het sy kolon tekens van kanker getoon en is dit op 18 Maart 2014 verwyder. Hy het ’n stomasakkie gekry, wat hy vandag permanent moet dra. In Junie 2015 het sy lewer skielik verswak, vertel Adriaan. Vir drie maande was hy in en uit die hospitaal en is hy op ’n oorplantingsprogram geplaas.

Die groot wag het begin en Adriaan moes gereed wees om enige tyd wat hy die oproep van ’n skenker ontvang, binne 24 uur in Johannesburg te wees.

Einde 2016 het sy toestand verswak en op 10 Januarie die volgende jaar het Adriaan sy bewussyn by die huis verloor. Ná ’n paar dae in die Mediclinic in Windhoek is hy met ’n noodvlug na die Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg oorgeplaas.

Dokters het die nuus aan sy vrou oorgedra dat hy baie moontlik nie gaan oorleef nie.

“My hart was swak, ek het water op my longe gehad, my niere het begin oppak en my lewer het nie meer gefunksioneer nie,” vertel Adriaan.

Hy is van die oorplantingslys afgehaal omdat hy ’n oorplantingsoperasie nie sou oorleef nie.

Hy het ses dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring en “wonder bo wonder”, het hy sy bewussyn herwin.

Hierna het hy ’n verdere 10 dae in die hoësorgeenheid deurgebring.

Op 1 Februarie is hy terug op die oorplantingslys gesit – iets wat Adriaan as ’n wonderwerk beskryf.

Slegs ’n paar uur later het die 17-jarige Bryn ’n brein-aneurisme gehad waar hy in ’n gimnasium geoefen het.

Gebaseer op hul gesprek aan etenstafel met hul jong seun enkele maande tevore, besluit sy ouers, Brett en Janine, toe om 03:00 hul seun, wat breindood verklaar is, se organe te skenk. Om 12:00 op 2 Februarie het Adriaan gehoor hy het ’n skenker.

“Bryn was baie fiks en gesond en het die perfekte lewer gehad. Hy was ook my bloedtipe – nog ’n wonderwerk!”

Tydens ’n operasie wat agt ure sou duur, het Adriaan op 3 Februarie Bryn se lewer ontvang. Twee weke later is hy uit die hospitaal ontslaan en twee maande later was hy terug by die huis en op kantoor.

Volgens Adriaan het hy dadelik ná die operasie via sosiale media van Bryn geweet.

Hy sou eers later deur ’n vriendin van sy suster op Hero777 se webtuiste van Bryn se verhaal hoor.

Adriaan het Bryn se ma, Janine, op Facebook begin volg.

Hy het ’n e-pos aan haar gestuur en vandag gesels hulle gereeld en ondersteun sy Adriaan se Desert Dash-poging.

Hy het reeds sy doel om ’n daadwerklike en positiewe impak op mense se lewens te hê in 2002 ontdek, vertel Adriaan.

“Dit is ook hoekom ek ons besigheid, Lithon, begin het wat ’n fisieke impak, maar ook ’n sterk maatskaplike en geestelike impak wil maak. Ná die operasie het ek dus net ’n tweede kans in die lewe gekry om voort te gaan met my doel in die lewe.”

Nou gebruik hy sy storie om te wys “wat ons kan doen as ons soos ’n nuwe lewer vir die wêreld kan word”.

“’n Lewer bestaan uit selle wat weefsel vorm, en dan ’n lewer. Dit is soos mense wat in organisasies bymekaarkom, saamwerk en nuwe lewe na ’n siek wêreld bring.”

Uit die Lithon Foundation is ook ’n nuwe platform geskap, naamlik Impact for Life (www.impactforlife.life), vir interaksie en samewerking tussen eensgesinde mense en organisasies om mense se lewens te beïnvloed en te verander.

“Vir die res van my lewe sal ek en Bryn dus saamwerk om ‘n nog groter impak te maak!”

Tans het Namibië nie ’n organisasie vir orgaanskenking nie en Adriaan hoop om hande met Hero777 te vat en dit saam met Bryn se ma plaaslik te dryf.

Die hoop is dat orgaanoorplantings plaaslik gedoen kan word en om ’n fonds te stig om mense wat behoeftig is met so ’n operasie te ondersteun.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer