Spele bied gulde kans aan atlete
Spele bied gulde kans aan atlete

Spele bied gulde kans aan atlete

Jeugspele
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die nasionale MTC Namibië Jeugspele skop vandag by Rietfontein in die Otjozondjupastreek af waar meer as 'n duisend atlete van al 14 streke op 'n positiewe noot van 2020 gaan afsien.

Die MTC Jeugspele wat vandag om 17:00 by die opleidingsentrum by Rietfontein deur me. Agnes Tjongarero, minister van sport, jeug en nasionale diens geopen word, se eerste wedstryde begin reeds om 08:00 met basketbal en vlugbal. Die gasheer sal onderskeidelik Kavango-Wes en Erongo by Rietfontein takel.

Sokker vir die meisies en seuns begin dieselfde tyd by die Omulunga-­stadion op Grootfontein en die netbal by Rietfontein waar Kavango-­Oos teen Otjozondjupa in beide kodes op die veld draf.

Die atletiek word môre om 09:00 met die 400 meter-uitdunne by Rietfontein afgesit. Atlete en paralimpiese atlete kan hul slag in baanitems soos die 100 m, 100 m H (vroue), 110 m H (mans), 200 m, 400 m, 400 m H, 4x100-aflos, 800 m, 1 500 m, 3 000 m en 5 000 m wys.

Vir die veldatlete is daar driesprong, verspring, hoogspring, gewigstoot, skyfwerp en gewigstoot.

Die propvol atletiekprogram word Vrydagnamiddag vieruur met die 4x400 m-aflosse afgesluit.

Tjongarero sê in haar boodskap: “Die ministerie bly daartoe verbind om sport onder ons jeug te ontwikkel. Die nasionale jeugspele word gebruik om talent van al 14 streke te identifiseer en te ontwikkel wat Namibië by die 2021 Jeugspele in Lesotho, asook ander byeenkomste, kan verteenwoordig.

“Ek glo en is oortuig daarvan dat die MTC Namibië Jeugspele 'n positiewe rol speel en eenheid bevorder. Ek voel geëerd om al die deelnemers, asook toeskouers by hierdie byeenkoms te verwelkom. Kom ons geniet en vier die spele, want grense word met sport oorgesteek en eenheid geskep.”

Die eerste jeugspele is in 2018 in Windhoek aangebied. Die streke is Erongo, Otjozondjupa, Omaheke, Kavango-Wes, Kavango-Oos, Zambezi, Ohangwena, Omusati, Oshana, Ohangwena, Kunene, Khomas, ||Kharas en Hardap.

Die ander sportkodes wat nie op die program aangedui word nie, is boks en judo (beide Rietfontein), asook tennis (Grootfontein-bane).

Die spele kom Vrydagaand met die semifinale en finale van die span­sportkodes tot 'n einde. Die afsluitingseremonie is om 17:00 by Rietfontein waar die spelevlam gedoof sal word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer