Sperrgebiet word Tsau ||Khaeb Nasionale Park

Die park is deel van een van die langste beskermde kuslyne ter wêreld en die derde grootste in die land.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die sooispitseremonie van die konstruksie van infrastruktuur van die voormalige Sperrgebiet Nasionale Park het verlede week by Kolmanskop plaasgevind waar die eerste diamant in 1908 ontdek is.

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het die eerste sooi gespit van die projek van sowat N$300 miljoen wat die ­konstruksie van personeelhuise, kantore en ingangshekke van die park behels wat tot die Tsau||Khaeb ­Nasionale Park herdoop is.

Die ontwikkeling sluit in die opgradering van die geskiedkundige ou ­poskantoorgebou op Lüderitz as die ministerie se kantoor, die ­konstruksie van 'n nuwe kantoor op Aus en die uitbreiding van bestaande kantore op Rosh Pinah en Oranjemund. Park­ingangshekke sal by die Lüderitz-skiereiland, Kolmanskop, Rotkop, Garub, Aus, Obib, Sendelingsdrift en Swartkop gebou word.

Shifeta het gesê die park is deel van een van die langste beskermde kuslyne in die wêreld en die derde grootste nasionale park naas Etosha en Namib Naukluft.

“Die park was vir die afgelope eeu vir die publiek gesluit sedert die ontdekking van diamante. Sedert die proklamasie van die park in 2008 is min vordering gemaak met die ontwikkeling van toerisme weens die beperkte toegang in 'n verklaarde diamantgebied onder die Diamantwet van 1999,” het Shifeta in sy toespraak gesê.

“Die park is die tuiste van vele unieke plantspesies en ­geskiedkundige geboue wat in die vroeëre jare deur diamantmyne gebruik is. Dit is 'n lewende museum wat moet besoek word.” Shifeta sê sy ministerie ­onderhandel tans met die ­ministerie van myne en energie en Namdeb om toegang vir die park vir beide ­toerisme en parkbestuur te kry.

“Die ministerie van myne en energie het ingestem om die grense van die diamantgebied wat buite Namdeb se mynlisensie van diamantgebiedstatus val, met 70% te verminder en die diamantwet te wysig om beheerde toerisme en beperkte regte vir toerismekonsessiehouers, asook parkbeamptes toe te laat om die ­diamantgebied te betree,” het Shifeta verduidelik.

Hy het gesê albei prosesse behoort in Maart 2019 voltooi te wees.

Die goewerneur van die ||Kharasstreek, me. Lucia Basson, die adjunk­minister van ekonomiese beplanning in die president se kantoor, mnr. Pieter van der Walt, die Duitse ­ambassadeur in Namibië, mnr. ­Christian Schlaga, asook verteenwoordigers van plaaslike tradisionele owerhede en KfW, was ook teenwoordig by die sooispitseremonie.

Volgens Shifeta word die infrastruktuur gefinansier deur die Namibië ­Nasionale Parke-program (NamParks) se vierde fase tesame met die Duitse regering deur die Duitse ­ontwikkelingsbank, KfW, met N$217 miljoen (14 miljoen euro) vir die implementering van aktiwiteite, terwyl die Namibiese regering sowat N$108 miljoen bydra.

Die Duitse ambassadeur het ook parkbestuurtoerusting soos onder meer 'n 4x4-bakkie, parkinligtingsborde, waterpunttoerusting, gereedskapskiste vir wateronderhoud, heiningsmateriaal, biodiversiteitmonitering-toerusting, GPS'e, kameras en kantoortoerusting oorhandig.

Konstruksie sal volgende maand begin en ná verwagting in November 2019 voltooi wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!