Spertyd vir Mugabe-bedanking kom en gaan

Die politieke krisis in Zimbabwe het gister verdiep toe pres. Robert Mugabe nie die spertyd vir sy bedanking nagekom het nie.
NAMPA
Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe staar die bedreiging dat hy in ‘n staat van beskuldiging geplaas kan word in die gesig ná hy Sondagaand skokkenderwys daarop aangedring het dat hy nie van die presidentskap afstand sal doen nie.

Die weermag het hom tot 12:00 gister gegun om vrywilliglik die tuig neer te lê en ‘n einde aan sy 37 jaar lange outokratiese bewind te maak.

Intussen berig Netwerk24 die Zambiese president, Edgar Lunga, het oudpres. Kenneth Kaunda afgevaardig om na Harare te reis en Mugabe te probeer oortuig om uit te tree.

In ‘n boodskap wat Sondag regstreeks op TV uitgesaai is, waarna Zimbabwiërs en die internasionale gemeenskap as uittreetoespraak uitgesien het, het die 93-jarige veteraan sy land vir die tweede week in ‘n politieke krisis gedompel.

Mugabe was oënskynlik onverstoord tydens sy toespraak en het geen melding gemaak van die vyandige koor stemme wat wil hê hy moet gaan nie.

Hy het selfs die drastiese militêre ingryping deur die weermag as “geen bedreiging” vir sy bewind bestempel.

Mnr. Derek Matyszak, ‘n ontleder verbonde aan die Instituut vir Veiligheidstudies (ISS) in Pretoria, sê Mugabe se uitlatings het groter risiko’s vir die land meegebring.

"Dit is absoluut verstommend. Mugabe het opgetree asof niks wat Zanu-PF Sondag gesê het enige relevansie gehad nie,” sê hy.

Die toespraak het woede en ongeloof onder baie Zimbabwiërs uitgelok en vrese laat ontstaan dat dit ‘n gewelddadige reaksie kan ontlont.

Sy eens lojale Zanu-PF-party, wat hom reeds afgedank het en aangesê het om as staatshoof te bedank, het hom tot gister 12:00 gegun om dit te doen - andersins sou hy in ‘n staat van beskuldiging geplaas word.

Ná die spertyd sonder enige optrede van Mugabe verstryk het, het Zanu-PF se leierskap 'n dringende vergadering belê. Teen druktyd was daar nog geen taal of tyding van watter stappe die party nou teen Mugabe beplan nie.

Met die verstryking van die spertyd het ‘n rumoerige groep betogers by die Universiteit van Harare bygeengekom en geëis Mugabe moet bedank.

Mugabe se toespraak het aan die einde van ‘n naweek gekom waartydens Zimbabwiërs feesgevier het en uiting aan hul woede gegee het.

Dít op ’n manier wat ‘n week vantevore ondenkbaar sou wees en met geweld onderdruk sou word.

Die vreugde was egter van korte duur en het in wanhoop oorgegaan toe Mugabe tydens die regstreekse TV-uitsending verklaar het hy sal as voorsitter by ‘n topvlakvergadering van Zanu-PF, die party wat hom geskors het, in die voorsitterstoel wees.

Mnr. Chris Mutsvangwa, hoof van die invloedryke oorlogveterane-vereniging, het gevra vir minder gematigde betogings in ‘n poging om Mugabe te ontsetel.

"Red die land van verdere onrus. Indien nie, bring ons die mense terug na die strate,” het hy gister gesê en met regstappe teen Mugabe gedreig.

“Hierdie keer sal ons nie Harare verlaat voordat daardie ou weg is nie. Hy het sy varkies verloor,” het hy gesê.

"Arrogante Mugabe minag Zanu-PF," was gister die Daily News se hoofopskrif op hul voorblad.

Netwerk24 berig daar is drie opsies in die Zimbabwiese stelsel beskikbaar om van Mugabe ontslae te raak:

BEDANK:

Artikel 96 van die Zimbabwiese grondwet tree dan in werking. Die president moet ‘n brief aan die speaker van die parlement rig dat hy bedank waarna die speaker 24 uur het om ‘n aankondiging te maak. Volgens AFP is dit die maklikste en veiligste opsie met die kleinste risiko.

STAAT VAN BESKULDIGING:

Die Nasionale Vergadering (NV) en die senaat kan so vroeg as vandag reeds met die proses begin om Mugabe in ‘n staat van beskuldiging te plaas. ‘n Gewone meerderheid in sowel die NV as die senaat moet daarvoor stem. ‘n Komitee word dan aangewys wat ‘n volledige ondersoek moet doen en aanbevelings oor sy verwydering moet maak. Dit is ‘n stadige en uitgerekte proses.

STAATSGREEP:

Dit is nie ‘n opsie nie, omdat die internasionale gemeenskap, en ook die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die Afrika-unie dit sal verwerp. Tot nou toe het die weermag volgehou dat hul optrede nie ‘n staatsgreep was nie, en dat dit bloot daarop gemik is om korrupte ondersteuners van die hoogs ambisieuse eerste dame, me. Grace Mugabe, in hegtenis te neem. - Nampa/AFP/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!