Spesiale kinders het hier 'n tuiste

'n Sentrum in Walvisbaai bied hoop aan ouers van kinders wat onder meer outisties of disleksies is.
Tanja Bause
Tanja Bause – Die JJ’s Sorgsentrum in Walvisbaai is in September 2014 deur me. Kim Koch vir kinders met spesiale behoeftes geopen. Die sentrum is gebaseer op die Justin Selby Sorgsentrum wat in 2012 in Suid-Afrika geopen is.

Die sentrum is vernoem na Justin Selby, ’n sewejarige seuntjie wat op 18 maande met serebrale gestremdheid gediagnoseer is. Justin kan met ondersteuning sit en van kant tot kant rol, maar kan nie loop of kruip nie.

“Justin kan kommunikeer en hy hou daarvan om saam met ander kinders te wees. Hy is mal daaroor om die dinge van die lewe soos blomme en diere te ontdek, dinge wat ons so baie kere as vanselfsprekend aanvaar,” het sy ma gesê.

JJ’s Sorgsentrum het as ’n Edu-terapie dagsorggerief vir kinders met geestelike en fisiese gestremdhede begin. Aanvanklik was daar 21 kinders in die sentrum, maar aan die einde van vanjaar het die sentrum met 80 kinders afgesluit.

“’n Groot behoefte bestaan in Walvisbaai onder die spesiale kinders wat kleiner klasse en baie aandag nodig het. Van ons kinders kan in ’n hoofstroom funksioneer, sommige het konsentrasieprobleme, van hulle is outisties, het disleksie of is aandagafleibaar. Ons glo dat elke kind die geleentheid moet kry om tot sy volle potensiaal te kan ontwikkel,” het Koch gesê.

Die sentrum huisves kinders van alle ouderdomme en is by Impak in Suid-Afrika geregistreer. Dit bied klasse van graad 1 tot 12 aan. Elke kind word aan die begin volgens behoefte beoordeel en in die toepaslike graad geplaas. Op die oomblik is daar 10 kinders in ’n spesiale klas, terwyl die res in hul onderskeie graadklasse is. Sommige kinders is ouer as wat hulle in die spesifieke graad moet wees, maar hulle word volgens hul vordering en ontwikkeling geplaas.

Die sentrum streef daarna om veilige en higiëniese geriewe vir die sorg en ontwikkeling van die kinders te bied.

“Ons grootste doel is om die kinders die beste opvoeding, sowel as liefde, aandag en onafhanklikheid te gee. Ons wil hê dat elke kind leer en verstaan dat alle kinders gelyk is en dat hulle onvoorwaardelike liefde verdien ten spyte daarvan dat hulle anders is.”

Tans het die skool vier kinders met gehoorprobleme en alle kinders leer gebaretaal.

Gebaretaal is ook baie geskik vir kinders met spraakprobleme en hulle kan deur die gebruik van gebaretaal beter kommunikeer.

Die sentrum open aanstaande jaar ook 'n koshuis wat ’n 24-uur versorgingseenheid vir kinders met spesiale behoeftes het. Dit is gerig op kinders wat nie by hul ouers bly of wat spesiale versorging benodig. Huidig kan net twee meisies en twee seuns in die koshuis gehuisves word.

“Tans is daar nie nog so 'n koshuis vir spesiale kinders in Namibië nie. As die behoefte te groot raak, sal ons dit uitbrei om meer kinders te kan huisves. Soos met alles is ons heeltemal afhanklik van skenkings van die publiek."

Koch het 'n beroep op Namibiërs gedoen om ongewenste items wat nie meer in huise benodig word nie, te skenk om die koshuis te meubileer.

"Ons kan alles gebruik,” het Koch gesê.

Alle kinders in die skool kry ook eenkeer per dag ’n maaltyd. Opleiding word ook verskaf aan versorgers, ouers en familielede, terwyl werkwinkels in gebaretaal ook aangebied word.

“Die sentrum word deur die vrygewigheid van die gemeenskap ondersteun. Sonder hulle kon ons nie dié noodsaaklike diens aan al die spesiale kinders gee nie. Ons is baie dankbaar hiervoor."

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!