Spesiale versorgers vir spesiale kinders
Gestremde kinders se ouers word by ’n sentrum in Katutura geleer hoe om hul kinders behoorlik te versorg.
font face="Verdana" >
Tanja Bause - Vanuit ’n geboutjie in die Goreangab- informele nedersetting in Katutura weerklink die opgewonde gejil van kinders.
Binne is 24 kinders in ’n kleurvolle omgewing al spelend aan die leer, soos kinders in kleuterskole oraloor die land.
Wat die Side by Side Early Intervention Centre anders maak, is dat hulle voorsiening maak vir kinders met spesiale behoeftes.
Die sentrum is in 2013 gestig en me. Huipie van Wyk is sedert 2017 die direkteur.
“Op 21 Februarie 2013 is my dogter Elandri met gestremdhede gebore. Dit was vir ons as familie baie moeilik om toegang tot ondersteuning, professionele hulp en inligting te kry. Ek het oor die jare besef ouers van kinders met spesiale behoeftes in armer gemeenskappe sukkel erg,” sê Van Wyk.
Twee jaar ná haar dogter se geboorte het sy ’n artikel oor ’n gestremde kind in Goreangab gelees en besluit om die kind haar ondersteuning te bied.
“Ek het na die ma se huisie toe gery en my hulp aangebied. Ek het die voormalige direkteur van die Side by Side-sentrum, me. Sandra Hollwey, gekontak en ons het begin saamwerk. Sy het my opgelei en toe haar werkspermit aan die einde van 2017 nie verleng is nie, het ek by haar oorgeneem. My passie vir die kinders en hul ouers word gedryf deur my dogter se behoeftes.”
Side by Side Early Intervention Centre is ’n dagsorgsentrum vir 24 kinders onder sewe.
Buiten dié kinders ontvang 94 kinders en hul ma’s gereeld verskillende vorme van terapie by die sentrum.
“Ons werk baie nou met die terapeute en mediese personeel van die Katutura- en Windhoek Sentrale staatshospitaal saam om ons gesamentlike doel te bereik om die gemeenskap op te hef en die lewe vir die kinders gemakliker te maak.”
Van Wyk het in oorleg met ’n professionele span van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste ’n program ontwerp wat ouers in die hantering van hul kinders se spesiale behoeftes oplei.
“Daar is 10 onderwerpe waaroor jy ingelig moet wees as ouer van ’n kind met spesiale behoeftes. Ons doel is om 60 ouers in dié 10 onderwerpe op te lei. Dit word verdeel in een onderwerp elke maand. Professionele mense behartig die opleiding en ouers ontvang onder meer plakkate wat hulle in die huis kan opsit om op terug te val omdat taal dikwels ’n probleem is,” sê Van Wyk.
“Die idee is dat die ouers dan weer hul kennis met ander ouers in die gemeenskap deel. Ons sentrum is te klein en ons kan nie nog kinders akkommodeer nie, hoewel die behoefte nie net hier in Katutura nie, maar oraloor die land baie groot is. Om ouers te bemagtig, wat dan weer ander ouers leer, is ’n stap in die regte rigting.”
Me. Benin Gaes het twee jaar gelede as vrywilliger by die sentrum begin werk en is tans ’n hulponderwyser.
“Die verskil wat ons in die kinders en hul ouers se lewens maak, laat my elke dag terug kom. Ek het twee jaar gelede met ’n seun begin werk wat gehoorgestremd was. Hy was aggressief en gefrustreerd omdat hy nie kon kommunikeer nie.
“Ek het vingertaal geleer en dit ook vir hom geleer. Dié seun is vandag in graad 1 by ’n skool vir gehoorgestremdes. As dit nie vir die sentrum was nie, weet ek nie wat van hom sou word nie. Dit is een van die vele suksesverhale wat ons hier beleef,” sê Gaes.
Volgens haar is dit ook belangrik om die kinders se ouers te bemagtig.
“Ons moet veral die ma’s leer hoe om met hulle kinders oefeninge te doen, te speel en hulle te leer sodat hulle daarmee kan aangaan wanneer hulle by die huis is.”
Me. Anna Mooya, ook ’n vrywilliger, sê: “Ek sien die verskil tussen die kinders wat na die sentrum toe kom en die kinders wat alleen by die huis gelos word. Ons kinders kan byvoorbeeld hul eie tande borsel of hande was, omdat ons hulle geleer het. Ons doen strekoefeninge met hulle, wat hulle meer beweging gee. Kinders in die gemeenskap word dikwels net alleen gelos en hul spiere is styf. Van hulle kan glad nie of baie min beweeg. Hulle het geen spraakterapie en geen stimulasie nie,” sê Mooya.
“Daar is baie kinders met spesiale behoeftes en ons het baie meer sentrums soos Side by Side nodig.”
Die sentrum beskik tans oor agt Namibiërs, wat ’n gekwalifiseerde spraak-, arbeids- en fisioterapeut insluit, asook ’n refleksoloog en maatskaplike werker.
Een vrywilliger is uit Duitsland.
“Hoewel ons steeds baie ondersteuning van die buiteland kry, ontvang ons ook baie van Namibiërs en Namibiese besighede.
“Onder meer het B2Gold onlangs ’n groot skenking gemaak.
“Om fondse vir my dogter in te samel, het ek die Butterfly-projek begin. Ons hekel skoenlappers en skenk geld aan die El-Andri Early Intervention Trust. Baie daarvan word vir die Side by Side-sentrum aangewend. Só word die sentrum deur Namibiërs ondersteun.”
Besoek die Side by Side Early Intervention Centre se Facebook-blad vir meer inligting.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie