Spitzkoppe se rockfees is gekanselleer
Spitzkoppe se rockfees is gekanselleer

Spitzkoppe se rockfees is gekanselleer

Nog ’n knou vir plaaslike musikante
Die Spitzkopp Rock Festival wat van 11 tot 13 September sou plaasvind, is weens die land se nuutste Covid-19 regulasies gekanselleer.

Baie het uitgesien na die geleentheid wat by Spitzkoppe Mountain Camp sou plaasvind en waar gewilde plaaslike kunstenaars soos Riaan Smit, Vaughn Ahrens en Savannah Collins sou optree.

“Ongelukkig verg moeilike omstandighede moeilike besluite,” het Spitzkoppe Tented Camp & Campsite, wat die geleentheid sou aanbied, Woensdag in ’n verklaring op Facebook geskryf.

Die nuwe Covid-regulasies stipuleer dat net 100 mense op ’n slag by enige groepsbyeenkoms byeen kan wees.

“Ongelukkig beteken dit Spitzkoppe Rock Festival 2020 sal nie kan plaasvind nie. As organiseerders staan ons 100% agter die regering se besluit. Dit is werklik ’n jammerte, want ons het beplan om vanjaar se rockfees ’n onvergeetlike ervaring vir julle te maak.

“Dié is egter ’n situasie wat ons heeltemal verstaan. Gesondheid moet die eerste prioriteit bly,” lui die inkrywing verder.

Die blues-sanger Riaan Smit sê dit is moeilik om te aanskou hoe mense in die kuns- en vermaakbedryf swaarkry.

“Ek het baie na die geleentheid uitgesien en dis baie hartseer dat dit gekanselleer moes word. ’n Mens besef nie hoe baie werksgeleenthede deur die vermaakbedryf geskep word, of hoeveel werksverlies die pandemie veroorsaak het nie.

“Ek is dankbaar dat die organiseerders hul bes probeer het en ek verstaan heeltemal hoekom die geleentheid afgestel moes word,” het hy gesê.

Die organiseerders het die teleurgesteldes verseker dat besonderhede oor Spitzkoppe Rock Festival 2021 binnekort bekendgemaak sal word. “Dit sal met mening terugkeer. Dankie vir jul begrip, vertroue en by voorbaat vir julgeduld. Bly veilig en bly gesond!”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer