Spitzkoppe se The Rock lok honderde atlete
Spitzkoppe se The Rock lok honderde atlete

Spitzkoppe se The Rock lok honderde atlete

Fietsry, padwedlope
Des Erasmus
Des Erasmus - The Rock, ’n jaarlikse draf- en fietsrybyeenkoms om die Spitzkoppe tussen Usakos en Arandis, het binne ’n jaar in omvang verdubbel. Vanjaar se geskatte 850 deelnemers Saterdagoggend is twee keer meer as verlede jaar.
Die byeenkoms wat deur die Trekkopje-myngroep Areva in samewerking met Gecko aangebied word, het selfs ’n spontane verlengstuk gekry met ’n groep van twintig fietsryers op dikwiele wat reeds vanoggend teen hoenderkraai op Swakopmund in die saal was om die volle afstand van sowat 160 km na die Spitzkoppe af te trap om Saterdag met die wegspring van The Rock daar te wees.
Die bietjie slaapplek wat die Spitzkoppe veral in die ruskamp bied, is lankal bespreek met ’n horde van die deelnemers wat in die kampeerterrein sal oornag om hulle Saterdag om 06:30 by die wegspringplek aan te meld.
Van die deelnemers oornag ook in toeristeherberge om die Spitzkoppe en selfs op Usakos as die naaste groter dorp.
Onder die besoekende atlete is daar gereeld deelnemers van die NDF en Nampol, maar nou ook Korrektiewe Dienste.
Die saamtrek verteenwoordig drie fietsrywedrenne en twee items vir langafstandatlete. Die hoofdis van die byeenkoms is ’n halfmarathon om Spitzkoppe as een van Namibië se bekendste bakens. Die afstand van 21,2 km sal oor ’n entjie grondpad, dan oor ’n tweespoorpaadjie en dan oor ’n voetpad van die wegspringplek in die ruskamp tot terug by die wenpaal strek.
By die wegspringplek word deelnemers gewaarsku teen gevare soos slange wat op die roete verwag kan word.
Die opkoms het organiseerders die afgelope dae op ’n drafstap gehad met oorweging wat nou reeds geskenk word aan ’n voorstel dat die gehuggie se byeenkoms van die jaar in 2017 oor twee dae gaan strek.
Veral die drafitems geniet groot ondersteuning van die plaaslike gemeenskap. Die gewildste afstand vir die Spitzkoppe se eie mense is ’n drafskof oor 10 km. Die beste atleet onder die Spitzkoppers sal ook as ’n kategoriewenner vereer word.
Vir die fietsryers sal die vetties (dikwiele) se skof oor 25 km strek. Bergfietsryers sal oor afstande van 33 km en 70 km sake uitspook. Die roete is vanjaar anders as verlede jaar, maar die uitdaging bly dieselfde.
Op die 25 km vir dikwiele is daar talle sandplasse wat die vernuf van ryers gaan toets.
Oor die gewysigde roete sê die organiseeerders dit strek eintlik in ’n ander rigting as verlede jaar.
Vir die kleinspan op fietse is daar ’n makliker roete wat gevolg gaan word.

GEDUGTE BROERS
The Rock lok jaarliks ondersteun\ing van fietsryers en drawwers van die hele land met veral die kusdorpe Walvisbaai en Swakopmund wat saam met Windhoekers deelneem.
Gister was dit reeds seker dat die Goeieman-broers, Erich en Albertus, vanjaar weer daar gaan wees. Die halfmarathon is in die verlede verskeie kere deur Erich Goeieman gewen, soveel so dat dit hom die sportnaam van King of the Rock besorg het.
Albertus konsentreer op die korter 10 km-wedloop – ’n afstand waarin hy reeds verskeie kere aan die wenkant was.
Die groep Swakopmunders het vanoggend om vieruur vertrek en sal die afstand van 160 km vandag op hul fietse aflê. Die deelnemers aan die voorskof tot The Rock sal hoofsaaklik van agterpaaie gebruik maak om by die Spitzkoppe te kom. Op die roete sal oor die Trekkopje-myngebied van Areva beweeg word.
Die Trekkopjemyn is ook die plek waar die fietsryers se ontbytsessie deur die myngroep aangebied gaan word.
’n Enkele voertuig sal dieselfde roete ter ondersteuning van die fietsryers volg.
Van Trekkopje strek die roete op ’n ou mynpad na die Spitzkoppe waar die groep tot met Saterdag se wedren in die ruskamp sal bly.
Die aanloop per trapfiets van Swakopmund na The Rock het verlede jaar begin toe net ’n paar fietsryers met die plan gekom het. Die veldroete tot by die bergspits het soveel byval gevind dat die groep vanjaar uit twintig fietsryers bestaan.
Aan die spits van die organisasie staan Berni Volkmann en Werner Ewald, albei van Swakopmund.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!