Spogwyne uit die Otavi-vallei

Thonningii se trots
Gerine Hoff
Tanja Bause – Dr. Bertus Boshoff en sy vrou, Ebbie, het in 1987 die plaas Thonningii in die Otavi-vallei gekoop.
Twee jaar later het Boshoff, ? mediese dokter, die eerste wynstokke bestel en aangeplant. Eers agt jaar later, toe die cruchen blanc-plante met shiraz-wynstokke vervang is, is die eerste wyn gemaak.
“My pa het nie veel van wynmaak geweet nie, maar hy het baie opgelees,” sê Boshoff se seun, Gilmar. “Toe die eerste druiwe geoes en die eerste paar liter wyn gemaak is, het die gogga hom lelik gebyt.”
Die gogga het egter ook vir Gilmar gebyt en het hy die kuns van wynmaak en kelderbestuur op Stellenbosch gaan studeer.
Vandag maak Thonningii ’n witwyn wat uit ? versnit van die colombar- en viognierdruiwe gemaak is; ? shiraz rosé, shiraz – of syrah soos die Franse dit noem.
Soos die plaas, is Thonningii-wyne vernoem na die wildevyebome wat in die omgewing voorkom.
“Die bome is immergroen, al is daar ’n droogte. Toe stel my ma voor dat ons die wyn na dié besonderse bome vernoem,” sê Gilmar.
Die wyn is nie net sag op die palet nie, maar het ook unieke etikette wat deur Ebbie geteken is. Die witwyn en rosé spog met rooibokke, terwyl die syrah se etiket met ’n koedoe pronk.
“Ons filosofie by Thonningii is om ? natuurlike wyn met die minimum manipulering vanaf die wingerde tot in die bottel te produseer. Ons wil ’n natuurlike, vars produk maak. Dieselfde holistiese benadering wat ons in die wingerde toepas, pas ons ook in die kelder toe,” sê Gilmar.
Volgens Gilmar word daar geen afsaksel, kleurekstraksie-ensieme of tannien by die wynmaakproses gevoeg nie. Daar word wel ’n bietjie wynsteensuur en gis bygevoeg, indien nodig.
In die wingerde word daar baie min chemikalie teen peste gespuit -- net teen die bontsnoetkewer waar dit voorkom.
“Ons spuit net teen die kewer as ons dit gewaar en nie die hele wingerd nie,” verduidelik Gilmar.
Al die wyne word op die doppe gegis om te vergoed vir die feit dat sy wingerde nog jonk is, en die gisting bring ? voller wyn mee.
Alle druiwe word met die hand gepars en na die kelder vervoer waar die wynmaakproses begin. Die prosesse verskil van wynsoort tot wynsoort.
Die syrah-druiwe wat vir die rosé gebruik word, word bietjie vroeër as dié vir die rooiwyn gepluk, sodat die varsheid en natuurlike suur behoue bly. Die druiwe word vir ’n paar uur met doppe aan gelos, waarna dit gepers word. Die doppe bly agter en die sap word in houers gepomp waar spontane fermentasie begin. Die sap lê gewoonlik vir ses weke op die gismoer voordat dit twee keer afgetrek word om dit te suiwer. Die wyn word daarna sonder filtrasie gebottel.
Die druiwe vir die rooiwyn word later geoes en lê sowat ’n week om te gis. Daarna bly die sap nog sowat tien dae in noue kontak met die doppe, wat sorg vir ’n voller smaak.
Na dié verlengde dopkontak en loging, word die druiwe gepers en die sap in ? tenk gestoor. Op die oomblik word die meeste van Thonningii se wyn in staaltenks met eikehout stawe binne in verouder.
“Ons beoog om in die toekoms die persentasie wyn te verhoog wat in eikehoutvate verouder word," sê Gilmar.
Die wyn verouder gemiddeld vir 18 maande voordat dit ongefilter gebottel word. Dan lê die bottels vir nog ses maande voordat dit verkoop word.
Die bottelering en etikettering word ook per hand gedoen.
Thonningii produseer om en by 2 500 liter syrah per jaar.
Ten spyte van die voorspoed wat hulle geniet, is daar ook baie uitdagings om wyn in die Otavi-vallei te produseer, waarvan een die neerslae is wat in Januarie en Februarie hier voorkom – juis wanneer die druiwe ryp word. Dié laat reën beïnvloed die suikergehalte van die druiwekorrels en dit kan die oesdatum uitstel.
Nog ’n uitdaging is swartryp gedurende die wintermaande. Om rypskade te verminder, word daar in die winter rookoonde tussen die wingerde geplaas.
Voëls rig ook skade aan, nie net omdat hulle die druiwe eet nie, maar ook omdat hul kloue die korrels beskadig, wat tot suurvrot lei. Om hierdie rede is daar nette opgesit om voëls weg te hou.
“Ons wil hulle nie skiet nie, want hier by Thonningii bevorder ons biodiversiteit,” sê Gilmar.
Hulle is ook besig om ander kultivars te toets om te bepaal watter die beste by die Namibiese weeromstandighede kan aanpas.
“Ons is op soek na kultivars wat die hitte kan verdra en wat vroeg ryp word om die impak van die laat reën te beperk.”
Thonningii-wyne is by die Gathemann restaurant in Windhoek of by die plaaskelder beskikbaar.
Gilmar het in 2001 die kelder met natuurlike stene uit die omgewing gebou. Hulle bied graag wyntoere aan waartydens gaste ook die wyne kan proe. Mense wat belangstel om die besondere Namibiese wyn te proe, kan 081 041 6083 skakel om ? afspraak te maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!