Sportkommissie laat weer sweep klap

Harmonie ontwyk steeds gimnastiek se administrasie, maar 'n verkiesing word volgende maand beplan.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Volgens die Namibiese Sportkommissie (NSC) en die Namibiese Nasio­nale Olimpiese Komitee (NNOK) is daar opnuut elemente in die gimnastiekgemeenskap wat sonder die nodige steun van dié twee nasionale beheerliggame poog om die sportkode te kaap.

Ná etlike onstuimige jare in die bestuur van die Namibiese Gimnastiekfederasie (NGF), asook dreigende hofsake deur NGF-lede, is die NGF verlede jaar onbepaald hokgeslaan en is 'n tussentydse komitee deur die Sportkommissie aangewys om die NGF te bestuur.

Nadat die NGF in Februarie 2019 onder toesig sy nuwe uitvoerende raad verkies het, het die eerste vonke nie lank daarna nie met binnegevegte begin spat. Tweespalt het die administrasie van dié federasie onmoontlik gemaak en die NSC moes van nuuts af ingryp om sake te beredder.

Die nuuste foefie is glo 'n briefhoof van 'n onwettige gimnastiekvereniging wat die ronde te doen en beweer hulle is die enigste en ware verteenwoordigers van gimnastiek in die land.

Volgens mnr. Freddy Mwiya, hoofbeampte van die Sportkommissie, het 'n briefhoof van die onwettige vereniging onder sy aandag gekom. Mwiya sê selfs hy is byna deur die skelmstreek geflous.

“Ek kan en wil nie bekendmaak wie die mens(e) is nie. Ons wil graag die publiek by monde van die media teen hierdie foefie waarsku. Hulle is nie by magte om hulself as die ware vaandeldraers van gimnastiek voor te doen nie, want hulle is nie by die NSC of die NNOK as 'n liggaam geregistreer nie.

“Toe ek die eerste keer die onwettige briefhoof sien, was ek ook nie seker wat aangaan nie. Die onwettige gimnastiekvereniging beweer hulle is by die NSC asook die NNOC geregistreer. Dit is van alle waarheid ontbloot.

“Die NGF is tans steeds onder administrasie van die tussentydse komitee wat binnekort 'n aanbeveling aan die Sportkommissie sal doen. Intussen is hulle die enigste wettige liggaam wat in beheer van gimnastiek in Namibië is. Ons is pal in verbinding met die wêreldbeheerliggaam (FIG) om hulle op hoogte van sake te hou.

“Ons wil mense vra om nie vir die onwettige gimnastiekvereniging se praatjies te val nie. Hulle het geen mandaat nie,” het Mwiya die dilemma verduidelik.

Me. Joan Smit, sekretaris-generaal van die NNOK, sê die tussentydse komitee is hard aan die werk om sake by die NGF reg te stel.

“Ons wil die mense verseker dat die NGF steeds onder die beheer van die tussentydse komitee is. Me. Vivienne Katjiuongua, wat as voorsitter in beheer van die tussentydse komitee is, is hard aan die werk om te verseker dat daar aanstaande maand 'n algemene vergadering en verkiesing vir die NGF kan plaasvind.

“Die ander lede van die tussentydse komitee is professor Cilas Wilders, me. Bernadine Ndeshi Negonya en mnr. Dawie Augustyn.

“Ek rig 'n pleidooi aan die geregistreerde klubs van die NGF en ander belanghebbende partye om asseblief die tussentydse komitee en sy werksaamhede te ondersteun. Dit is van kardinale belang dat die tussentydse komitee sy mandaat kan uitvoer,” het Smit gesê.

Intussen beplan die Namibiese Gimnastiekfederasie om van 16 tot 23 Mei die Afrika tuimel- en trampolienkampioenskap in Swakopmund aan te bied, waar senior mans en vroue vir die 2021 Olimpiese Spele kan kwalifiseer.



OLIMPIESE SPELE

Die NNOK beoog om vandag belangrike inligting oor die 2021 Olimpiese Spele in Tokio, Japan, aan Namibiese atlete en administrateurs bekend te maak.

Die NNOK sê nuus is van die Internasionale Olimpiese Komitee asook die Japanese Olimpiese Komitee rakende kwalifikasies, Covid-19-maatreëls asook inentings ontvang. Voorbereidings en die kwalifisering van Namibiese atlete is ook ter sprake.

Lees aanstaande week meer in Republikein oor dié belangrike NNOK-aankondiging.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!